Busstaking duur steeds voort

Pendelaars wag op taxi’s by die Nyanga-staanplek te midde van ʼn landswye staking deur busbestuurders (18 April 2018). Foto: Ayanda Ndamane/ANA

Die Suid-Afrikaanse regering het partye, wat in die busbedryf betrokke is, versoek om spoedig ʼn oplossing te kry vir die loononderhandelings terwyl ʼn landswye staking voortduur, met geen einde in sig nie.

ʼn Nasionale staking deur busbestuurders het pendelaarsdienste tot ʼn stilstand gebring nadat loononderhandelings vasgeval het.

Busbestuurders, onder leiding van die vakbond Satawu, eis ʼn algemene verhoging van 12%, terwyl werkgewers slegs 7% aanbied.

Phumla Williams, waarnemende direkteur-generaal van die departement van kommunikasie (GCIS), het gesê vervoer is ʼn belangrike bedryf om die Suid-Afrikaanse ekonomie te bevorder. “Ons doen ʼn beroep op die werkgewer- en werknemerverteenwoordigers om vinnig te werk om ʼn oplossing te kry, ongeag die werkers se grondwetlike reg om te staak.

“Ons versoek ook dat werknemers binne wetgewing staak. Ons versoek verdraagsaamheid, veral binne die taxibedryf, om die pendelaars tydens hierdie periode toe te laat om van rygeleenthede en ander vorme van vervoer gebruik te maak.”

Pendelaars moes alternatiewe reëlings tref om by hul bestemmings uit te kom sedert die staking verlede week Woensdag begin het. Talle moes bykomende kostes aangaan, aangesien hulle reeds langtermynbuskaartjies aangeskaf het wat hulle nie nou kan gebruik nie.

Die Transport and Omnibus Workers Union, die Transport and Allied Workers Union of South Africa en die Tirisano Transport and Services Workers Union het by Satawu in die staking aangesluit. Onderhandelings duur Maandag voort by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie.

Die Stad Kaapstad het ook bevestig dat MyCiTi-dienste steeds opgeskort is. “Dis nog nie duidelik wanneer die loononderhandelings opgelos sal wees nie. Pendelaars word aangeraai om van alternatiewe vervoer gebruik te maak.”

Lees alle vorige berigte oor die busstaking op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karin ·

En so staak hulle, maar ek is seker dat hulle hulle volle salarisse sal wil ontvang die einde van die maand.

Griet ·

Die arbeidswet laat die werkgewer toe om die beginsel toe te pas van “no-work-no-pay”. Wanneer hulle staak, kry hulle vir daardie dag geen vergoeding.

Daar is SOVEEL mense wat nie werk het nie en hulle kibbel oor twak! Hierna is daar NOG meer mense wat hul werk gaan verloor. van die pendelaars wat nie by die werk kan kom nie, gaan hulle werk verloor, en as die busmaatskappy toegee op die eise, moet hulle poste sny om die hoër lone te kan betaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.