Busstaking: Minister vra taxi’s om gestrande pendelaars te help

Argieffoto: Pixabay

Joe Maswanganyi, minister van vervoer, het Donderdag gesê sy departement moes met taxiverenigings vergader om hul dienste aan te bied vir pendelaars om tydelik die druk te verlig wat deur die busstaking veroorsaak word.

Busbestuurders het Woensdag begin staak oor salarisse en werkstoestande en pendelaars, veral diegene wat oor lang afstande moet reis, is op die vooraand van die Paasnaweek gestrand gelaat.

Maswanganyi het gesê sy departement moedig alle provinsiale departemente, verantwoordelik vir vervoer, aan om tydelike en spesiale bedryfslisensies uit te reik vir alternatiewe vervoermetodes, waaronder die taxibedryf, as ʼn tydelike maatreël om die spitstydeise aan te spreek.

Hy het gesê hy is besorg dat vakbonde en werkgewers nie ʼn ooreenkoms kon bereik nie. Die onderhandelings word gelei deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie.

“Die voortgesette staking is ʼn ongerief vir pendelaars wat na verskeie bestemmings moet reis, waaronder godsdienstige pelgrimstogte tydens die Paasnaweek,” het Maswanganyi bygevoeg.

Hy het bygevoeg die enigste redelike uitkoms is dat busdienste onmiddellik sal hervat, terwyl vakbonde en werkgewers aan ʼn oplossing werk.

Die Prasa Shosholoza Meyl het sy kapasiteit verhoog vir die roetes tussen Johannesburg en Kaapstad, Johannesburg na Durban en Johannesburg na Port Elizabeth.

Maswanganyi doen ʼn beroep op alle partye om ʼn vreedsame oplossing te vind om seker te maak die busbedryf is ʼn veilige en betroubare vervoermetode.

Die staking sal ʼn wye verskeidenheid busdienste affekteer, onder meer MyCiTi, Putco, Buscor, Golden Arrow, Megabus, Gauteng Coaches, ReaVaya, Greyhound en Great North Transport.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cherokee ·

Dit mag dalk vertolk word as toestemming vir oorlading van passasiers.

Justice ·

En taxi drywers wat langafstande heen en weer ry met die minimum slaap.

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek was nog nooit ‘n voorstander van stakings nie maar vandag en gister en moontlik more se busstaking geniet my ondersteuning nadat ek gelees het dat van die busbestuurders ure en ure agter die stuurwiel deurbring. Fatigue/uitputting is ‘n gevaar vir ons almal wat op die pad gaan. Geen mens kan so lank op ‘n pad konsentreer en nie ‘n fout begaan nie. Dit help ook nie om hul salarisse te verhoog nie, dit laat hul nie “rus” nie. Hul werksure moet verminder! Hieraan moet onmiddellik aandag aan geskenk word want dit raak ons almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.