Busstaking: Nuwe aanbod onder bespreking

Pendelaars in Philippi in Kaapstad wag op taxi’s te midde van ʼn landswye staking deur busbestuurders (18 April 2018). Foto: Ayanda Ndamane/ANA

Die South African Transport and Allied Workers Union (Satawu) het Donderdag met busmaatskappye vergader om ʼn nuwe aanbod te bespreek wat moontlik ʼn einde kan bring aan die nasionale busstaking.

Dit kom nadat bestuurders die verbeterde aanbod Maandag van die hand gewys het.

“Ons kan nog nie die besonderhede [van die gesprek] bekend maak voordat ons terug gerapporteer het aan ons lede nie,” het Zanele Sabele, woordvoerder van Satawu gesê.

Volgens Sabele sal al die vakbonde Vrydag om 15:00 ʼn perskonferensie in Kempton Park hou.

Die bedingingsraad en die kommissie vir konsiliasie, mediasie en arbitrasie (CCMA)  het ʼn aanbod van 8,75% vir die eerste jaar en 8,25% vir die tweede jaar voorgestel.

Dit is nou amper ʼn maand sedert die staking ʼn aanvang geneem het. Werkers het aanvanklik ʼn 12% verhoging geëis wat hulle intussen tot 9% verminder het.

Werkgewers het voorheen voet by stuk by hul aanbod van 8% in die eerste jaar en 8,5 % in die tweede jaar gehou.

Die staking het op 18 April begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Maraai ·

Julle dis nie reg nie. Hoe laat jy toe dat die arme mense elke dag hemelhoë taxi fooie moet betaal. Nie eers gepraat van die lang dae wat hulle in die gesig staar omdat hulle so vroeg in die rye moet inval om te wag vir ‘n taxi, en dan so laat by die huis kom in die aand omdat daar nie ‘n oop taxi was nie. Die taxi’s verder, is oorlaai en die mense sit op mekaar se skote. Wanneer is dit tyd dat die regering ingryp in so ‘n geval?

Griet ·

Maraai, jy neem aan die regering GEE OM?!? Wie dink jy hits die vakbonde aan om aan te dring vir hemelhoë verhogings, verhogings wat almal met twee breinselle WEET, nie haalbaar is as die Bus Maatskappy moet voortbestaan nie.

GM ·

Maraai, dis onduidelik op wie jy jou stelling mik – die buseienaars of die vakbonde wat hul lede so aanmoedig om aan te hou staak? Werkgewers kan nie net altyd ingee as werkers staak nie. Die werkers kyk na hulself en nie na die groter prentjie nie. Ek weet nie wat hul salarisse is nie, en ook nie hoeveel wins die maatskappy maak nie, maar dit help nie daar word gebrand, gebreek en geïntimideer om jou sin te kry nie, dan is daar later niks geld oor vir enige een se verhoging nie. En as die besigheid toemaak, sit hoeveel sonder werk. Hul stakery veroorsaak nou ook dat ander gesinne, wat dit nie kan bekostig nie, ekstra geld moet uitdok vir vervoer. Ten minste word hul ‘n verhoging aangebied. Daar is plekke wat bloot net nie meer kan nie, dan moet jy maar kies of jy gaan werk vir iets, of kla daaroor en die maatskappy se deure maak toe.

willie ·

1+7=4 Wat hierdie stakers nie besef nie is dat die verskil in verhoging wat hulle meer wil hê as wat aangebied word sal nooit opmaak vir hul verlies aan inkomste tydens die staking nie!

Stokkies ·

Ek sit dalk nou die pot mis maar verduidelik vir my.. ek as staker, staak vir n maand, ek verloor my salaris vir die maand omdat ek nie gewerk het nie, ne ? Nou kry ek n verhoging van 8%.. nou dis nie juis baie nie, dis R80 vir elke R1000 wat ek verdien, ne? So van volgende maand af, kry ek R300 – R400 meer, ek nou nie seker hoeveel kry n bus drywer nie, maar as jy dit nou in ag neem, het jy as staker werklik gewin ? Want jy het n volle maand se salaris verloor, wat jy eers in n jaar gaan “terug” verdien ?

Tilla ·

Ek lees daagliks baie van die kommentaar wat die lesers lewer en baie is baie insiggewend en vat die probleme behoorlik raak, maar wat help al hierdie gepraat en geskryf van ons. Net mooi niks want die mense wat dit moet lees en moet kennis neem van die kontrete voorstele wat almal maak, sien dit nooit. Miskien moet ons op een of ander manier al hierdie kommentaar onder hulle neuse kon indruk en dalk sal ons dit nog vir hulle moet voorlees ook sodat hulle tog net daarvan kan kennis neem en nie so steeks hulle eie koppe volg en nie aan die nagevolge dink nie. Sterkte aan almal wat so sukkel met busvervoer, (ek is een van hulle)

Tyd ·

Ek dink dis tyd dat die vakbonde vasgevat word, want hulle hits alles aan en hulle verloor nie ‘n maand se salaris as daar gestaak word nie. Ek wonder of hulle werklik vir die werkers omgee…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.