Busstaking: Vakbonde ontevrede oor ‘ultimatum’

Pendelaars wag op taxi’s by die Nyanga-staanplek te midde van ʼn landswye staking deur busbestuurders (18 April 2018). Foto: Ayanda Ndamane/ANA

Die voortslepende busstaking, wat duisende pendelaars gestrand hou, het Maandag sy derde week binnegegaan met onderhandelings wat steeds voortgaan.

Vakbonde wat by die staking betrokke is, het Maandag vergader om die pad vorentoe te beplan. Zanele Sabela, woordvoerder van die South African Transport and Allied Workers Union (Satawu), het aan African News Agency gesê dat die werkgewers in die sektor in effek vir die stakende werkers ʼn ultimatum gestel het, waaroor die vakbonde nié gelukkig is nie.

“Die vakbonde sal vandag vergader om te gesels oor die pad vorentoe. Dit help nie om in dié stadium vir ons ultimatums te stel nie. Ons sal ons posisie ná die vergadering meedeel,” het Sabela gesê. “Intussen gaan die staking voort.”

Sabela het gesê die werkgewers het die vakbonde tot Woensdag kans gegee om die aanbod wat Vrydag ter tafel gelê is te aanvaar.

Sy het gesê die vakbonde wat die vergadering bywoon sluit in Satawu, die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa)‚ die Transport and Omnibus Workers Union (Towu)‚ die Transport and Allied Workers Union of South Africa (Tawusa) en die Tirisano Transport and Services Workers Union.

Maandag kon lang rye weer by die verskillende taxi-staanplekke in Pretoria gesien word aangesien werkers geen ander opsie het om by die werk te kom nie. Taxi-tariewe is aansienlik hoër as bustariewe.

Sabela het gesê die stakende busbestuurders het begrip vir die lot van die gestrande pendelaars. “Dit is vir ons ʼn oorsaak van kommer. Die meeste van hierdie mense wat nou sukkel om by die werk te kom, is ook ons lede. Maar jy moet onthou dat die busbestuurders en almal wat in die bussektor werk ook uit daardie gemeenskappe kom. Hulle het dieselfde stryd en hulle weet hoe moeilik dit is om genoeg geld te verdien,” het sy gesê.

Busmaatskappye het werkers aanvanklik ʼn 7%-loonverhoging aangebied, maar die vakbonde het die aanbod verwerp en dit as ʼn belediging bestempel.

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), wat gesprekke Donderdag en Vrydag bemiddel het, het ʼn 8%-verhoging in die eerste jaar en 8,5% in die tweede jaar van ʼn tweejaar-ooreenkoms voorgestel.

Busmaatskappye het die fasiliteerder se aanbod aanvaar op voorwaarde dat die vakbonde hul ander eise laat vaar, insluitend betaling vir nagskofte en die inkontraktering van werkswinkel- en tegniese personeel.

Die vakbonde het hul looneis verlaag van 12% na 9,5% in die eerste jaar en 9% in die tweede jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piper ·

as hulle nou begin om weer te werk is die helfte van die verhoging deur onbetaalde dae veingsrlore. daar moet wetgewing wees dat as gestaak word moet die vakbondleiers en en die wat vir die vakbonde werk ook geen salaris kry terwyl die staking aan die gang is. stakings sal verminder asook korter wees.

christa ·

hoekom neem maatskapye mense in diens wat aan ‘n vakbond behoort. Vakbonde het ‘n hengse inkomste wat almal wat te dig is aan hulle betaal en hulle net nog ryker maak

geregtigheid ·

Die inflasiekoers is tans 3.6%. ‘n Blanke Afrikaanssprekende man is gelukkig indien hy enige verhoging kry. Hierdie afpersing kom neer op psigopatiese chutzpah!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.