Buthelezi kap terug oor koning se gesondheid

Mangosuthu Buthelezi. (Foto: GCIS)

ʼn Woordestryd woed oënskynlik tussen hooggeplaastes in die Zoeloe-koninkryk met bewerings van kwaadwillige optrede en ʼn vertrouensbreuk tussen diegene betrokke.

Die Zoeloe-premier, prins Mangosuthu Buthelezi het teruggekap ná ʼn verklaring deur prins Africa Zulu, woordvoerder van koning Misuzulu kaZwelithini oor die koning se gesondheid.

Kort nadat Zulu bekend gemaak het dat die koning se raadgewer skielik dood is, het Buthelezi aangevoer dat die koning self ook in ʼn hospitaal in Eswatini (voorheen Swaziland) behandel is ná vrese dat hy dalk vergiftig is.

Hoewel Misuzulu intussen die bewerings dat hy vergiftig is, ontken het, sê Buthelezi dat hy eenvoudig sy “plig” nagekom het “deur die nasie in te lig dat ek nuus ontvang het van prins Vumile, broer van koning Mswati III, dat koning Misuzulu kaZwelithini in ʼn hospitaal in Eswatini behandel word, omdat hy siek geword het”.

“My verklaring oor die saak het bloot verslag gedoen oor die ontstellende inligting wat ek ontvang het. Nêrens het ek voorgestel dat die koning ernstig siek is nie.”

Zulu het intussen ʼn video gedeel waarin die koning mense inlig dat hy nie siek is nie en ook nie in die hospitaal was nie. Die koning sê hy het bloot roetine-toetse ondergaan.

Hy het ook gesê hy moes van die huis wegbreek om die verlies van sy “regterhand” te probeer verwerk. Hy het daarom besluit om na Eswatini te reis waar sy oom, koning Mswati III, regeer. Die tydsberekening hiervan strook ook met sy gereelde gesondheidsondersoeke.

Buthelezi is intussen daarvan beskuldig dat hy ʼn “agenda koester en slegte nuus georkestreer het”, maar hy sê die rekord hieroor moet dadelik reggestel word.

“Wat prins Africa nie vir die nasie vertel nie, is dat hy die Swazi’s – spesifiek prins Vumile – genader het en hulle gevra het om te help sodat die koning KwaZulu-Natal in die nag kan verlaat, om dringend mediese hulp in Eswatini te kry,” sê Buthelezi in sy jongste verklaring.

“Dit is ook kommerwekkend dat die koning se reis na Eswatini nie aan die gevestigde protokolle voldoen het nie; soos om die koninklike familie, die premier van die provinsie of die staatshoof in kennis te stel dat hy landuit gaan nie.”

Geen skeur in verhouding

Zoeloekoning Misuzulu kaZwelithini. (Foto: RAJESH JANTILAL/AFP)

Buthelezi sê daar is nou wyd bespiegelinge dat daar ʼn skeuring in die vertrouensverhouding tussen hom en die koning is en dat hy kwaadwillig opgetree het deur die aankondiging oor die koning se gesondheid te doen.

“Soos in enige ander familie sal daar van tyd tot tyd meningsverskille oor sake wees. Dit is normaal, maar daar is beslis geen groeiende skeuring tussen myself en die koning nie,” sê hy.

“Wat nog meer seermaak, is dat ek nou voorgehou word as ʼn vyand van die Zoeloenasie en ons koning.

“Ek gaan voort om in opdrag van die koning die nasie te dien, soos ek byna sewe dekades onder twee konings voor hom gedoen het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johann ·

Shame….sef aangewese belangrikheid wat ZILJOENE kos. Wie gee actually om?

Anel ·

Ek wil nog steeds weet hoekom hy soontoe moes gaan en nie hier nie? Wat is hulle mediese sorg beter as ons sin? Maar ons gaan moet tevrede wees met ‘n nasionale gesondheidsorg wasrvoor ons nie vra nie. Ons gaan nie ‘n keuse hê as om hier, miskien, behandel te word nie. Ons het nie geld om oorsee te gaan nie. So wie betaal vir die een se reis en behandeling??? Die lot mors net ons, as betalastingbetalers se geld!!!! En wat doen hulle daarvoor?????

Papsak ·

Hulle mors darem lekker met die belastingbetaler se geld ne gebruik julle eie geld hoekom nie

Marthinus Johannes ·

Iemand lieg dat dit bars en iewers word dinge weggesteek, wonder wat en hoekom.

Nonnie ·

Buthelezi was deur al die jare ‘n eerlike en opregte mens, hoekom sal hy nou skielik onwaarhede kwytraak??….,Nee jong, hier is iets aan die broei….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.