Buurman gestraf wat hond kastreer

Lion, die windhond wat met ‘n mes kastreer is (Foto: SPCA Boemfontein via Facebook)

Die man wat verlede jaar sy buurman se windhond op ʼn hoewe digby Dewetsdorp in die Vrystaat met ʼn mes gekastreer het, is gevonnis.

Reinet Meyer, senior inspekteur by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein, sê Lehlohonolo Jonas Ralitlhare (36) is in die landdroshof op Dewetsdorp skuldig bevind aan dieremishandeling.

Hy is die keuse gegee van ʼn boete van R2 000 of ses maande tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar. Hy het nou  ʼn kriminele rekord.

Die eienaar van die windhondreun, Lion, het in Junie bloed by sy geliefde vierpotige se agterlyf opgemerk. Hy het na sy buurman, wat langs hom op dieselfde plot bly, gegaan en gevra of hy weet wat met sy hond gebeur het. Die buurman het sonder om te aarsel erken dat hy Lion met ʼn mes gekastreer het omdat die hond hom “lastig” geval het.

Met die DBV-inspekteurs se aankoms by die man se huis het hulle die hond op die grond aangetref (Foto: SPCA Bloemfontein via Facebook)

Lion se eienaar het aan die DBV gesê hy vermoed sy hond se bek was toegedruk terwyl sy buurman hom gekastreer het aangesien hy geen tjankgeluid of ander geluide gehoor het nie.

Lion is in die DBV se sorg geplaas en hy is na die veearts geneem vir mediese behandeling. Hy moes ʼn operasie ondergaan om sy wond toe te werk.

Meyer vertel Lion het ʼn ruk na die operasie infeksie aan sy wond opgedoen. Hy moes eers goed herstel voordat hy aangeneem kon word. Hy het toe sowat twee maande na die voorval sy nuwe lewe by sy aanneemouers begin.

“Dit gaan goed met Lion. Hy is gelukkig by sy nuwe eienaars,” vertel Meyer.

Die DBV is tevrede met Ralitlhare se straf en bly dat geregtigheid geskied het.

Tebogo Maswanganye, ʼn inspekteur by die DBV, sê hy hoop Ralitlhare se straf dien as voorbeeld vir ander dieremishandelaars.

“Die DBV is die stem vir die diere wat nie vir hulself kan praat nie,” sê Maswanganye.

Maroela Media het navraag aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gerig, maar wag nog vir terugvoer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Matilda ·

Die straf is heeltemal te lig. Dit moes baie swaarder gewees het, hy moes met sy agterent in die tjoekie gesit het vir ten minste 5 jaar sodat hy mooi kon dink aan watse wrede onding hy die stomme dier aangedoen het! Nietemin, goed so dat hy gestraf is.

Misky ·

Belaglike straf en waarvan praat die DBV en is hulle tevrede? 6 maande of R2000 en wie sal nou nie net R2000 lag-lag betaal nie? Dink die staat een maand in die tronk is gelykstaande aan R333?

Pierre ·

Ek stem glad nie saam met wat gedoen is nie, maar daar is baie mense wat nie net R2000 lag-lag kan betaal nie.

Ansie ·

Watse geregtigheid is daar in ‘n opgeskorte vonnis? Watse boodskap stuur so ‘n belaglike vonnis uit na dieremishandelaars?

Ej ·

Weer kan ek maar net my kop skud…………………belaglik!!!! Laat ek eerder my kommentaar beperk tot net dit.

Fritz ·

Ons leef in n gebroke wêreld. In n perfekte wêreld sou die straf verpligte doodstraf gewees het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.