Buurman red bejaardes tydens hoewe-aanval

(Argieffoto: SAPD)

Die buurman van ’n bejaarde egpaar het Dinsdag tot hul redding gekom nadat hulle op hul hoewe buitekant Potchefstroom in Noordwes oorrompel en beroof is. Johan Visser (57) het die rower aangesê om van die plaas af te trap en só sy bure, Thys (81) en Betsie (79) Gordon, se lewens gered.

Die Gordon-egpaar is die aand net na 18:00 op hul hoewe in Wilgeboom, digby Potchefstroom, oorval. Kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, sê dit is nog nie duidelik of daar een of twee rowers tydens die aanval was nie.

Betsie het in die televisiekamer sit en naaldwerk doen toe ’n rower haar van agter af oorrompel en haar mond met ’n lap toegebind het. Hy het geld geëis.

Betsie was duiselig en kon skaars loop om die kluis oop te kry. Myburgh sê die rower het die vuurwapen uit die kluis gevat en Betsie daarna kamer toe gesleep en aanhou skop.

“Die rower is later uit die kamer nadat hy glo ’n geluid gehoor het. Betsie het toe na die deur gekruip om haarself daarbinne toe te sluit. Dit is toe dat sy die paniekknoppie druk om hulp te ontbied,” vertel Myburgh.

’n Rower het ook vir Thys buite die huis oorval. Hy was besig om buite by die kalwers te werskaf toe hy ook van agter af oorrompel is. Volgens Thys het die rower ’n wapen op hom gerig, hom die huis in begelei en hom ook begin skop en slaan.

Terwyl Thys op die grond gelê het, het die rower met sy knieë bo-op sy bors gestaan wat veroorsaak het dat van sy ribbes kraak.

Visser vertel nadat hy by die huis van die werk af gekom het, het sy vrou, Roma, gesê sy het Betsie so omstreeks 18:40 vanuit hul huis langsaan hoor skree.

“Ons het probeer vasstel hoekom sy skree. Ek was bang sy en Thys het iets oorgekom, want sy het aan die begin van die afsonderingstydperk ’n operasie ondergaan en Thys het ’n ruk gelede ’n beroerte gehad. Die laaste ding waaraan ek gedink het, was dat dit ’n aanval kon wees,” vertel Visser.

Hy het op die ingewing van die oomblik besluit om na die Gordons se huis toe te stap.

“Ek het eers na die deur aan die kant van die huis gegaan. Ek het kalwers, minder as 20 meter van die huis, sien rondskarrel. En toe hoor ek ’n harde geluid vanuit die huis.”

Hy het om die huis geloop en by die oop deur by die televisiekamer ingeloer en geklop.

“Ek het Thys se pantoffels, hoed en ’n lepel op die grond op die stoep sien lê. Ek het ook sy donkerbril gesien en toe besef iets is nie pluis nie, want hy gaan nêrens sonder sy donkerbril nie.”

Dit is toe dat die alarm ook afgaan.

Visser het in die huis se televisiekamer ingegaan en Thys het toe van die kombuis se rigting na hom toe gestap.

“Ek wou hom nog groet en vra of als in orde is, toe gryp hy my arm en trek my in die kombuis in.”

Die volgende oomblik het die rower met die vuurwapen voor hom gestaan. ’n Woordewisseling het tussen hulle uitgebreek.

“Hy het gevra dat ek uit die huis moet gaan en toe vra ek hom wat maak hy in die huis.”

Visser sê die rower het sy vuurwapen probeer oorhaal, maar het gesukkel en het onhandig met die vuurwapen voorgekom.

“Ons het vir ’n derde keer oor en weer vir mekaar gesê om uit te gaan toe hy vir my sê ek moet eerste uit die huis uitloop. Ek het toe eerste geloop en toe volg hy.”

Thys en Betsie het in daardie stadium in die huis agtergebly.

Visser vertel toe hy buitekant kom, het hy tot op die gras gestap, “Ek het gedink as hy my nou wil skiet, moet hy my maar op die gras skiet.”

Die rower het verby hom geloop en weer die vuurwapen probeer oorhaal. Dit is toe dat Visser besluit om in die huis in te hardloop en die deur te sluit.

“In daardie stadium het dit soos die regte ding gevoel om te doen. Ek het nie geweet of hy my dalk regtig gaan skiet nie.”

Die plaaslike plaaswag en lede van gemeenskapspolisiëringsgroepe het ’n ruk daarna daar aangekom. Die rower het toe intussen gevlug.

Visser sê Thys glo vas daar was twee rowers betrokke, maar dit is nog nie duidelik of dit wel die geval was nie. “Die polisie het twee stelle klere op die plaas gevind, wat moontlik daarop kan dui dat daar twee rowers was.”

Thys en Betsie het na die voorval vir mediese behandeling gegaan.

“Betsie is erg getraumatiseerd en het blou merke oor haar lyf. Thys het ook baie seer.”

Visser sê hy is baie dankbaar dat hy en sy bure ongedeerd van die voorval afgekom het.

“Daar was definitief ’n hoër hand wat ons beskerm en ’n bonatuurlike krag gegee het.”

Myburgh sê twee selfone en ’n vuurwapen is tydens die rooftog gesteel. Niemand is nog in verband met die aanval in hegtenis geneem nie.

“Enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming van die rower(s) kan lei, kan die ondersoekbeampte, ao. Johan Mostert, op 082 568 5734 skakel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

lollapot ·

BAIE dankie Johan Visser! Mag die Tannie en die Oom gou herstel.

Pieter ·

“Terwyl Thys op die grond gelê het, het die rower met sy knieë bo-op sy bors gestaan wat veroorsaak het dat van sy ribbes kraak.”

Laat mens dink aan George Floyd in die VSA. Waar is Black Lives Matter nou, asook KSA, EFF en Mercedes/lewis Hamilton?

Keelvol ·

Laat ek maar eerder niks se nie, netnou word ek sommer van rassisme aangekla.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.