Buurman vas vir kleuter se dood

(Foto ter illustrasie: pixabay)

’n 35-jarige man van Polokwane is Maandag in hegtenis geneem in verband met die dood van ’n sesjarige meisie.

Bokamoso Tjabadi se lewelose liggaam is Maandag sonder enige sigbare beserings in die verdagte se huis aangetref.

Sy is Sondag ongeveer 20:00 as vermis aangemeld waarna die polisie onmiddellik ’n soektog in die Phokoane-nedersetting van stapel gestuur het.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het lede van die gemeenskap die polisie regdeur die nag na Bokamoso help soek, maar sy was nêrens te vinde nie.

Daar is gevolglik Maandagoggend besluit om elke huis te deursoek en die polisie het eerste by die bure aangeklop.

“Een van die buurmanne het die polisie toegang tot sy huis geweier wat gedwonge toegang genoodsaak het.

“Die kind is dood in dié huis aangetref en die verdagte is summier in hegtenis geneem.”

Hy sal binnekort in die Nebo-landdroshof verskyn.

Volgens Mojapelo duur die ondersoek na die voorval voort. Dit is egter nie in dié stadium duidelik waarvan die verdagte aangekla word nie.

“ʼn Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van die kind se dood te bepaal.”

Mojapelo sê die motief vir die voorval is nog onbekend.

“Die moontlikheid dat die verdagte ʼn ander misdaad, soos verkragting, probeer toesmeer het, kan nie egter nie uitgesluit word nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elinette ·

Sommige “mense” moet by geboorte gekastreer word …. soos hierdie een!

Swerwer ·

Ja nee, elke dag is daar net meer kerwe op Hoed se kerfstok.

Blomme ·

Weer vir ń slag goed om te hoor dat die polisie vinnig opgetree het. Welgedaan julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.