Buurman verkrag, beroof glo bejaarde

Argieffoto van tronk (Foto: Pixabay)

’n Man (34) van Tlholong naby Kestell in die Vrystaat is op Nuwejaarsdag in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy 92-jarige buurvrou kort voor middernag op Oujaarsaand beroof en verkrag het.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê die vrou het Donderdagaand omstreeks 23:45 in haar bed gelê en slaap toe sy wakker word van haar slaapkamervenster wat breek.

Die lig van die slaapkamer was in dié stadium steeds aangeskakel en die vrou kon sien hoe haar buurman deur die stukkende ruit klim.

“Die verdagte het die slagoffer na bewering met ’n mes gedreig en verkrag waarna hy na bewering die televisiestel in haar slaapkamer geroof het. Die verdagte het daarna met die televisiestel en ʼn kombers deur die stukkende venster geklim en op die vlug geslaan .”

Makhele sê die vrou het die voorval vanoggend omstreeks 06:15 by die polisie aangemeld waarna die verdagte kort daarna in hegtenis geneem is. Die gesteelde items is in die verdagte se huis aangetref.

Die verdagte sal na verwagting binnekort in die Kestell-landdroshof verskyn op aanklagte van verkragting en huisroof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.