Buurt- en plaaswagte mag diens voortsit

buurtwag-patrolleer

Foto: Verskaf.

Lt.genl. Fannie Masemola, adjunk-polisiekommissaris, het Vrydag bevestig buurtwagte en plaaspatrollies mag weer tydens vlak 3 van afsondering voortgesit word. Dit volg nadat daar onsekerheid geheers het of buurt- en plaaswagte wel weer hul bedrywighede tydens vlak 3 van afsondering mag voortsit.

Lede van buurt- en plaaswagte moet nou ʼn permit hê om hul diens aan hul onderskeie gemeenskappe te lewer.

Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het op 28 Mei aangekondig dat enigiemand tydens vlak 3 van afsondering hul huis mag verlaat om ʼn spesifieke diens te lewer. Sommige organisasies het egter steeds teenkanting van die polisie ervaar om hul buurt- en plaaspatrollies voort te sit.

Die burgerregteorganisasie AfriForum en Saai, die landbounetwerk vir familieboere, het Saterdag ʼn landwye versetpatrollie gehou nadat buurtwagte hewige teenkanting van sommige polisiebeamptes ontvang het om hul bedrywighede tydens vlak 3 te hervat.

AfriForum was van mening dat die vlak 3-afsonderingsregulasies nie die bedrywighede van buurt-, hoewe- en plaaswagte uitsluit nie, en lede van dié organisasie het toe weer hul buurt-, hoewe- en plaaspatrollies voortgesit.

Ian Cameron, AfriForum se hoof vir gemeenskapsveiligheid, sê die versetpatrollie het daartoe gelei dat Masemola AfriForum se interpretasie van die regulasies kon insien en hy het ’n skrywe hieroor aan alle provinsiale en eenheidskommissarisse gestuur.

AfriForum glo dat gemeenskappe se veiligheid ’n prioriteit moet wees.

ian-cameron-2017-02

Ian Cameron van AfriForum. Foto: Verskaf.

“Minister Nkosazana Dlamini-Zuma het bewys dat sy onbekwaam is deur nie gemeenskappe se veiligheid as ’n primêre prioriteit te ag nie. Die feit dat AfriForum druk moes toepas om dit by die owerhede tuis te bring dat buurt-, hoewe- en plaaswagte ’n onmisbare rol speel in die veiligheid van gemeenskappe en hulle take so gou moontlik moet hervat, bevestig dit,” sê Cameron.

Cameron sê egter die feit dat lede van buurt- en plaaswagte permitte moet hê om patrollie te mag doen, is teenstrydig met die regering se regulasies. “Die regering en polisie se interpretasie van die heersende regulasies is steeds nie heeltemal korrek nie. Dit strook nie met die regulasies nie. Lede van buurt- en plaaswagte sal slegs permitte benodig as hulle oor distriks-, metro- of provinsiale grense moet reis om hulle diens te verrig,” sê Cameron.

Albert Fritz, die minister van gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, sê die polisie kan nie permitte aan buurtwaglede uitreik nie, maar slegs die departement van gemeenskapsveiligheid. Hy sê die departement van gemeenskapsveiligheid sal slegs permitte uitreik aan lede van geakkrediteerde buurt- en plaaswagstrukture.

“Daar is met voorsitters van alle geakkrediteerde buurtwagstrukture gekommunikeer oor die protokolle waaraan hulle moet voldoen wanneer buurtwagte se bedrywighede weer hervat word,” sê Fritz.

Intussen het die DA in Noordwes die hervatting van plaaspatrollies en buurtwagte ook verwelkom. Die DA het sedert die aanvang van die afsonderingstydperk aangedring op die herinstelling van plaaspatrollies, gemeenskapspolisiëringsforums en buurtwagte.

Jacqueline Theologo, die DA se woordvoerder vir landbou en landelike ontwikkeling in Noordwes, sê daar was ʼn duidelike toename in veediefstal en plaasaanvalle tydens die afsonderingstydperk en dit kan direk gekoppel word aan die verbod op plaaspatrollies.

Drie plaasaanvalle is die afgelope week in Noordwes aangemeld.

“Die hoë persentasie plaasaanvalle het ʼn negatiewe impak op die lewensgehalte van boere en hul werknemers en gemeenskappe wat afhanklik is van die landbousektor. Die regering sal dringend moet optree om die veiligheid van landelike gemeenskappe te verseker. Die herinstel van landelike veiligheidseenhede binne die polisie moet sonder verdere vertraging weer aandag kry,” sê Theologo.

Die Transvaalse Landbou-unie (TLU SA) het ook sedert April ʼn dringende beroep op Bheki Cele, minister van polisie, gedoen om landelike veiligheidstrukture toe te laat om tydens die afsonderingstydperk hul werk voort te sit.

Dié unie het ʼn platform geskep waarop Suid-Afrikaners ʼn petisie kon steun om druk op die regering uit te oefen om plaas- en buurtwagte weer te aktiveer. Meer as 10 000 handtekeninge is met die petisie ontvang.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

daniel ·

One weet almal wat die rede is dat dit so moeilik gemaak word vir buurt en plaaswagte om hul werk te doen.

Die Wolf ·

Adjunk bevestig Ek wonder of die hoed dalk in kwarentein is?

Fedup ·

This circus and their damn permits.
They should be forced to have permits as well. See how they would cope then.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.