Video: Buurtwaglid gee eerste treë ná skietvoorval

Nico Henning. Foto: Verskaf

’n AfriForum-buurtwaglid van Pretoria het ’n maand nadat hy vermoedelik met ’n AK47 in die rug geskiet is, sy eerste treë in die hospitaal gegee.

Nico Henning (45) se toestand het “geweldig verbeter,” vertel Hillel Coetzer, AfriForum se streeksveiligheidskoördineerder in Gauteng.

Henning is sedert die voorval in Augustus vanjaar in die waakeenheid van die Netcare Millpark-hospitaal in Parktown in Johannesburg. Coetzer het Woensdagoggend aan Maroela Media gesê dat Henning nou daagliks oefening in die hospitaal kry nadat hy vir meer as ’n maand lank aan sy hospitaalbed gekluister was.

Henning se eerste treë wat hy met behulp van verpleegsters in ’n hospitaalgang gee, is op video vasgevang en vinnig versprei onder die talle mense wat sy vordering volg. Dié daaglikse tog deur die hospitaalgang is nie die enigste vordering vandat Henning sowat ’n maand gelede opgeneem is nie. Coetzer vertel dat al die groot pype, onder meer ’n pyp in sy long en maag asook ’n dreineringspyp intussen verwyder is. Hy het slegs nog ’n suurstofpypie in sy neus wat help met asemhaling.

Henning kan gevolglik ook weer praat nadat ’n pyp in sy keel ’n ruk gelede verwyder is. “Hy gesels ’n hond uit ’n bos uit,” skerts Coetzer. “Dit gaan baie beter, maar hy het natuurlik maar nog pyn.”

Volgens Coetzer is dit in dié stadium nog onduidelik hoe lank Henning in die hospitaal gaan wees. Daar is wel sprake daarvan dat hy binnekort na ’n algemene saal oorgeplaas gaan word.

Coetzer sê verder dat daar ’n moontlikheid is dat Henning later rehabilitasie sal ontvang om weer ten volle te kan funksioneer. Hy het ook die versekering gegee dat AfriForum Henning sal bystaan met trauma-berading wanneer hy eindelik uit die hospitaal ontslaan word.

Maroela Media het vroeër berig Henning is op 21 Augustus by ’n OK-winkel in Pretoria-Wes in sy rug geskiet nadat hy op ’n gewapende rooftog reageer het. Henning was in die omgewing en het ʼn groepboodskap gekry omtrent die rooftog. Henning het sonder sy radio hom na die toneel gehaas, min wetend dat die voorsitter van die buurtwag intussen op die groep laat weet het dat niemand op dié toneel moet reageer nie.

Hy is op die toneel in sy rug geskiet toe die koeël deur sy motor se kattebak en sitplekke gegaan en hom getref het.

Kyk hier na die video.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

honourable member ·

Dis wonderlike nuus. Hoop jy voel sommer gou weer baie beter.

Johan ·

Welgedaan Nico. Vasbyt, hou moed en hou aan verbeter. Dankie aan al die getroue mediese personeel.

Al ·

Dankie Maroela dat jul ons op hoogte hou.
Dis wonderlike nuus, sterkte en voorspoed vir hom en sy gesin.

piper ·

en wie betaal al die mediese uitgawes ? in sulke gevalle moet die staat betaal want as n krimineel gewond word is alles verniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.