Buurtwaglid geskiet: ‘Hou aan bid’

Nico Henning. Foto: Verskaf

Nico Henning, ʼn 45-jarige AfriForum-buurtwaglid van Pretoria wat Dinsdagaand tydens ʼn gewapende rooftog in die weste van die stad vermoedelik met ʼn AK47-aanvalsgeweer geskiet is, sal na verwagting eers Vrydagmiddag ʼn tweede noodoperasie kan ondergaan.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het aan Maroela Media gesê Henning kon nie Donderdag geopereer word nie aangesien sy toestand te onstabiel was.

“Nico is steeds kritiek, maar kan vanmiddag sy dringende operasie ontvang omdat hy meer stabiel is. Kom ons hou aan bid vir Nico se herstel. Ons moenie moeg word nie,” het Cameron gesê.

Henning word in die waakeenheid van die Netcare Milpark-hospitaal in Parktown in Johannesburg behandel. Sy vrou, Linda, haar broer, Len Bothma, en sy vrou, Linette, waak by sy hospitaalbed.

Maroela Media het Woensdag berig Henning is Dinsdag omstreeks 22:00 by die OK-winkel in Pretoria-Wes geskiet.

“Hy was in die omgewing en het ʼn boodskap gekry van ʼn rooftog by die OK en het hom na die toneel gehaas. Hy het nie sy radio by hom gehad nie. Die voorsitter van die buurtwag het toe intussen op die groep laat weet niemand moet op die boodskap reageer nie, want die toneel is nog warm,” het Cameron gesê.

Volgens Cameron is Henning op die misdaadtoneel in sy rug geskiet.

“Die koeël het hom op die een of ander manier deur die kattebak en deur die sitplekke in sy rug getref. Hy is vermoedelik met ʼn AK47-aanvalsgeweer geskiet. Hy het huis toe gejaag, toe hy daar aankom vir sy vrou gesê ‘ek dink ek is geskiet’ en daarna sy bewussyn verloor.”

Henning is eers na ʼn plaaslike mediese fasiliteit geneem, van daar na die Kalafong-hospitaal en toe per helikopter na Milpark gehaas.

Hy het reeds ʼn operasie ondergaan waartydens sy een nier en ʼn deel van sy lewer verwyder is. Daar is ook ʼn gat in sy dikderm.

Kapt. Agnes Huma, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig en gesê ʼn saak van sakeroof en poging tot moord word ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MC ·

Mag ons Hemelse Vader Nico deur die operasie dra, en styf vashou en ook sy familie troos en versterk. Ons bid vir julle.

John ·

Mense met goeie harte betaal duur in hierdie land wat deur misdadigers beheer word. En die ANC wil die wereld laat glo dat dit die wonderlikse en rustigste op die planeet is… Die wereld se oe gaan oop… Ons bid vir Nico se herstel.

Her ·

Daar word met AK-47 aanvansgewere geroof. Wettige wapeneienaars moet nou amnestie vra vir vervalde skyfies?
Hier is groot gemors

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.