Buurtwaglid geskiet: ‘Ons kan nou net wag en bid’

Nico Henning. Foto: Verskaf

Nico Henning, die 45-jarige AfriForum-buurtwaglid van Pretoria wat Dinsdagaand tydens ʼn gewapende rooftog in die weste van die stad vermoedelik met ʼn AK47-aanvalsgeweer geskiet is, se toestand is stabiel nadat hy Vrydag ʼn tweede noodoperasie moes ondergaan.

“Die dokters het tydens die operasie sy derm geheg waar daar skade was. Hy is stabiel, maar ons sal nou vir ʼn paar dae moet wag vir sy liggaam om te herstel voor hy heeltemal buite gevaar gaan wees. Intussen kan ons net vir hom bid en hoop dat hy spoedig sal herstel. Hy reageer al darem op stemme,” het Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, Saterdag aan Maroela Media gesê.

Henning word in die waakeenheid van die Netcare Milpark-hospitaal in Parktown in Johannesburg behandel. Sy vrou, Linda, haar broer, Len Bothma, en sy vrou, Linette, waak by sy hospitaalbed.

Maroela Media het Woensdag berig Henning is Dinsdag omstreeks 22:00 by die OK-winkel in Pretoria-Wes geskiet.

“Hy was in die omgewing en het ʼn boodskap gekry van ʼn rooftog by die OK en het hom na die toneel gehaas. Hy het nie sy radio by hom gehad nie. Die voorsitter van die buurtwag het toe intussen op die groep laat weet niemand moet op die boodskap reageer nie, want die toneel is nog warm,” het Cameron gesê.

Volgens Cameron is Henning op die misdaadtoneel in sy rug geskiet.

“Die koeël het hom op die een of ander manier deur die kattebak en deur die sitplekke in sy rug getref. Hy is vermoedelik met ʼn AK47-aanvalsgeweer geskiet. Hy het huis toe gejaag, toe hy daar aankom vir sy vrou gesê ‘ek dink ek is geskiet’ en daarna sy bewussyn verloor.”

Henning is eers na ʼn plaaslike mediese fasiliteit geneem, van daar na die Kalafong-hospitaal en toe per helikopter na Milpark gehaas.

Hy het reeds ʼn operasie ondergaan waartydens sy een nier en ʼn deel van sy lewer verwyder is. Daar was ook ʼn gat in sy dikderm.

Kapt. Agnes Huma, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig en gesê ʼn saak van sakeroof en poging tot moord word ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniem ·

Word goy gesond JESUS is ons groorbgeneesheer. Sterkte aan sy vrou en familie .⚘⚘⚘⚘⚘

Chris Ws ·

Alle sterkte Nico!Mag ons Vader jou aanraak en volkome herstel.
Ek wonder net as die buurtwag van die rooftog geweet het,waar die polisie dan was.Seker nie ‘n voertuig beskikbaar gehad om mee te ry nie.Ken ‘n gewese polisieman wat my vertel het dat hy aleen gestuur was om 9 vegtende bravos uitmekaar te gaan maak omdat daar ‘n tekort aan personeel by sy polisie stasie was.

dr. Sakkie van der Merwe ·

Dit is die harde werklikheid van die nuwe Suid Afrika met ‘n Malema en Ramaphosa wat haat verder aanblaas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.