Buurtwaglid kritiek ná hy op rooftog reageer

Foto: Verskaf deur Best Care-ambulansdienste.

Nico Henning, ʼn 45-jarige AfriForum-buurtwaglid van Pretoria, is in ʼn kritieke toestand in die hospitaal nadat hy Dinsdagaand tydens ʼn gewapende rooftog geskiet is.

Volgens Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het die voorval omstreeks 22:00 by die OK-winkel in Pretoria-Wes plaasgevind.

“Hy was in die omgewing en het ʼn boodskap gekry van ʼn rooftog by die OK en het hom na die toneel gehaas. Hy het nie sy radio by hom gehad nie. Die voorsitter van die buurtwag het toe in die tussentyd op die groep laat weet niemand moet op die boodskap reageer nie, want die toneel is nog warm,” het Cameron gesê.

Volgens Cameron is dit nog in dié stadium onduidelik of Henning stilgehou of weggery het, maar hy is op die misdaadtoneel in sy rug geskiet.

“Die koeël het op een of ander manier deur die kattebak en deur die sitplekke hom in sy rug getref. Hy is vermoedelik met ʼn AK47-aanvalsgeweer geskiet.”

Cameron sê hy weet nie of die rowers sy voertuig se bande stukkend geskiet het en of hy moontlik oor ʼn randsteen gery het toe hy huis toe gejaag het nie. “Hy het by die huis aangekom, vir sy vrou gesê ‘ek dink ek is geskiet’ en toe sy bewussyn verloor.”

Volgens Cameron is hy eers na ʼn plaaslike mediese fasiliteit geneem, van daar na die Kalafong-hospitaal geneem en toe per helikopter na die Netcare Milpark-hospitaal in Parktown gehaas.

“Hy moes gisteraand ʼn operasie ondergaan. Sy een nier en ʼn stuk van sy lewer is verwyder. Hy moet binnekort weer ʼn operasie ondergaan. Daar is ʼn gat in sy dikderm ook,” het Cameron gesê.

Xander Loubser, woordvoerder en paramedikus van Best Care-ambulansdienste, het bevestig Henning is in die rug geskiet. “Hy het moontlik inwendige bloeding ook opgedoen. Sover ek weet het die rowers weggekom,” het hy gesê.

AfriForum-lede was deur die nag by die hospitaal teenwoordig om die gesin te ondersteun en sal ook Henning se voertuig skoonmaak sodra die ondersoekspan toestemming gee dat hulle dit mag doen.

Kapt. Agnes Huma, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig en gesê ‘n saak van sakeroof en poging tot moord word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Linda ·

Baie dankie vir die goeie werk wat julle doen. Ek bid Nico ‘n volkome en spoedige herstel toe. Sterkte aan sy vrou en familie!

ADELE ·

EK GLO HULLE WAARDEUR DIT SY SEUN HET KANKER SO ONS BID OOK VIR SY SEUN DAT HY NIE TRUG SLAG SAL KRY NIE

Lana ·

Dankie dat jy bereid was om te help, Nico. Ons bid vir volkome genesing!! Baie sterkte aan almal betrokke.

Mrs H ·

Hoop OK bestuur staan hierdie man by op een of ander manier?! Dit sal net die regte ding wees om te doen.

Frans C ·

Wat ‘n tragedie dat ‘n man wat bereid is om te help,so erg gewond is deur rowers.Alle sterkte en volkome genesing word toegewens.
Die voorval beklemtoon weereens die moordadige optrede van rowers wat nie huiwewr om te skiet.Die trefkrag van die wapens oortref die handwapens van die polisie ver.
As Nico nie in die rug geskiet was nie sou die koeël deur die ‘dashboard’ gegaan het en dalk erêns voor in die voertuig vasgeslaan het.

So ‘n wapen met militêre ammunisie sal maklik deur ‘n voertuig trek as daar van die kant
getref word.Die beste is om sover as wat moontlik is van sulke tonele af weg te bly.

Meegevoel ·

Sterkte aan Nico en geliefdes bid vir heling en genesing na liggaam en gees. Koeëlvastebaadjies moet verplig word vir buurtwaglede.
WETTELOOSHEID en GEWELD agv president-en regeringshouding mbt WET EN ORDE.

Jerry ·

Ek wens jou sterkte en beterskap toe Nico. N mens kan maar net jou kop in ongeloof skud vir sommige van Afri-Forum se inisiatiewe. Hierdie voorval kon eintlik so maklik voorkom gewees het, maar dit nou maar vir eers daar gelaat, want salf is daar nie te smeer aan Afri-Forum se slimjanne wat mense in die verderf inlei betreffende gemeenskapsbeveiliging en plaasbeveiliging. Ons kan maar net hoop dat ander gemeenskapslede iets hieruit sal leer.

Kalahari Kind ·

Ongelooflik, Jerry! Ek kan net MY kop skud oor so ‘n hartelose reaksie. Jy vlug landuit, en sit dan daar aan die ander kant en verwag dat ons bakhand voor die kommunistiese regering moet staan, en kritiseer die van ons wat bereid is om mekaar te help, verdedig en ondersteun! Afriforum se aksies het menige boer en families se lewens al GERED! Ongelukkig is daar altyd “casualties” in ‘n oorlog situasie. Beskuldig jy dan daardie soldate se leiers ook dat dit húlle skuld is? Ons wat hier agterbly in SA, is dankbaar vir instansies soos Afrifourum en mense soos Nico wat hulle lewens waag om ons en ons kinders te beskerm en ‘n veiliger toekoms te skep deur hul optredes, aksies en paraatheid. Deur bakhand hoed in die hand te staan gaan ongelukkig NIE ons kinders se toekoms in ons land verseker nie. Wanneer die regering se NDR voltooi is, gaan daar geen waardige opvoedingstelsel wees, geen werkende hospitale, goeie dokters of genoeg voedsel wees nie. Die gemiddelde lewensverwagting in Zim is tans onder 40 jaar oud. DIT is wat vir ons kinders wag sonder Afriforum en buurtwagte!

Tammy ·

Misdaad in Suid Afrika grens aan burgeroorlog, so erg is dit. Kan die minister van polisie en die minister van Justisie en die geagte , baie besige Ramaphosa nie saamstaan en wetgewing so aanpas dat hierdie tipe misdaad met lewenslange tronkstraf gestraf sal word nie. Niks mider as lewenslank nie. So ook dwelmhandelaars, lewenslank aangesien jy bydra om ander mense se lewens te verwoes. Gee die sondebokke na gelang van die oortreding sommer 3 tot 5 keer lewenslank sodat hulle uit die samelewing verwyder word. Daar is nie meer plek vir nog gemors in die verotte Suid Afrika nie. Hulle sal mekaar dan in die oorvol tronke minder maak, sommer self opgelegde doodstraf!! Daar word net teveel regte en beskerming deur die reg aan misdadigers toegestaan.

Dirk01 ·

Dit is presies wat my al die jare nog pla oor buurt wagte en gemeenskap polisie.
ek het 25 jaar dit gedoen met suksesvolle arrestasies van n kaper’s ,rowers en huis brekers , wat egter die probleem is dat kriminele die wet goed ken en gou gou maak die n saak teen jou en mede lede .wie word ondersteun in die hof? gou gou sal enige persoon hom self distansieer van enige situasie waar lede in n gevaar situasie kom. Dit is uiters onregverdig om van die gemeenskap te verwag om op te tree . Dit is logies dat n patrolleerder of inwoner 1ste op die toneel sal wees en vas loop in swaar gewapende rowers.Die lede het nie die wapens , toerusting of regshulp of vry medies van staat of afriforum . Die polisie is onbekwaam en pleit die publiek moet help en kom met inligting…bog stories . Gewillige lede sit nou met die trauma en gevolge

Wouter ·

Indien jy ‘n Afriforum lid is gee hule jou regshulp en mediese dekking tydens uitvoering van buurwag pligte . Hulle het ons ook voorsien van koelvaste baadjies, ligte, radios ens

Johnny Smith ·

Sjoe – julle is gelukkig. Toe ons daarvoor gevra het was daar doodeenvoudig gesê daar is nie fondse. Hoe het julle dit reggekry ?

Afriforum ·

Ek is so jammer oor die voorval, maar ek dink Afriforum is die enigstes wat waarlik om gee, hulle is so klein groepie en vermag so baie, hulle probeer alles in hulle vermoe om eendragtigheid te skep. Ek sal julle altyd ondersteun, want ek weet as ek julle nodig het dan sal julle daar wees vir my. En ek glo steeds daai lys wat bekend gemaak was, is die waarheid.

Johnny Smith ·

Nie regtig so. Daar is baie ander privaat instansies wat op eie onkoste en tyd ook opstaan en help. Ongelukkig maar ‘n klein persentasie van die gemeenskap.

Afriforum ·

Ek is so jammer oor die voorval, maar ek dink Afriforum is die enigstes wat waarlik om gee, hulle is so klein groepie en vermag so baie, hulle probeer alles in hulle vermoe om eendragtigheid te skep. Ek sal julle altyd ondersteun, want ek weet as ek julle nodig het dan sal julle daar wees vir my. En ek glo steeds daai lys wat bekend gemaak was, is die waarheid.

Jan Joubert ·

DiT is inderdaad ‘n tragiese geval! Dit kon egter vermy gewees het. Buurtwag lede is slegs die oë en ore van die veiligheidsdienste. Hierdie geval was alreeds aangemeld. Dit was dus nie nodig vir Nico om daarheen te haas nie
Patroleerders dit is nie julle werk of plig nie!

Hannelie ·

As jy nie weet wat gebeur het nie moet asb nie komentaar lewer nie!!!!

Hartseer ·

Dirk01 – wat jy sê is so waar. Gemeenskaps lede is nie toegerug en opgelei vir hierdie tipe situasie nie. Hulle doen goeie werk en sonder hulle sou die gebiede in chaos gewees het maar waar is die polisie. Ek was vir ‘n paar jaar by so ‘n gemeenskaps groep betrokke – as daar ‘n nood roep is ry jy ongewapen in ‘n situasie in en hoop dat jou teenwoordigheid die skelms gaan weg jaag. Daar was ‘n tyd wat dit wel gewerk het maar vandag se skelms is meestal gewapen en bereid om jou te vermoor. Die illusie van die situasie het my getref toe een van ons lede (‘n vriend) wat eerste op ‘n toneel aangekom het dood geskiet was. Verder met die een keer wat ons skelms gevang het het ek gesien hoe oneffektief ons regsstelsel is – die skelms ken dit goed en daar is netwerke van goeie prokureurs wat presies weet hoe om die sisteem te manipuleer en die gereg te dwarsboom. Nadat ons te veel keer naby aan die dood omgedraai het moes ek dink aan my jong kinders en het onttrek en uit die area getrek. Die antwoord is nie om ongewapende en onopgeleide mense in die spervuur te plaas nie – die enigste antwoord is effektiewe polisiering of om opgeleide en gewapende gemeenskapspolisiëring te gebruik. Dit kom maar weereens neer om uiterse swak bestuur op die regerings vlak.

Johnny Smith ·

Ek stem saam met jou. Sterkte aan die lid en sy familie. Hierdie burgers behoort almal as reserviste opgelei, toegerus en bemagtig te word, of die Kommando stelsel moet weer geaktiveer word. Dit is uiters onverantwoordelik van instansies om sy onopgeleide, ongewapende en swak toegeruste lede aan te wend teen gewapende misdadigers.

Johnny Smith ·

Sterkte aan die lid en sy familie. Wie is verantwoordelik hiervoor ? Eerstens die regering wat totaal beheer verloor het en lankal die geveg teen misdadigers verloor het. Tweedens, instansies soos Afriforum en GPF wat ongewapende, onopgeleide en swak toegeruste lede van die publiek instuur in situasies waar selfs swaar gewapende polisie lede huiwer.

Johnny Smith ·

Sterkte aan die lid en sy familie. Die regering het totaal die stryd teen misdaad verloor. Hoekom word hierdie die burgers nie opgeneem as reserviste of nog beter, bring terug die kommando stelsel. Gee hulle behoorlike opleiding en toerusting instede daarvan om ongewapende / onopgeleide en swak toegeruste mense in situasies in te stuur wat selfs die meeste SAP lede te bang is om te hanteer ?

Johnny Smith ·

Jammer as dit dalk ‘n derde keer deurkom, sukkel om te kommentaar. Eerstens wil ek die lid en sy familie sterkte toewens. Dan wil ek bietjie kritiseer, eerstens die regering wat totaal die stryd teen misdaad verloor het. Tweedens instansies soos Afriforum en GPF wat onopgeleide, ongewapende en swak toegeruste lede van die publiek gebruik teen gewapende misdadigers, wat die meeste SAP lede te bang is om aan te vat. Die regering moet eerder hierdie gewillige burgers as reserviste aanstel en behoorlik toerus, oplei en bemagtig. Of nog beter her-aktiveer die Kommando stelsel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.