Buurtwaglid steeds in waakeenheid ná skietvoorval

Nico Henning. Foto: Verskaf

Nico Henning, die 45-jarige AfriForum-buurtwaglid van Pretoria wat verlede maand tydens ʼn gewapende rooftog geskiet is, is drie weke later steeds in die waakeenheid van ʼn Johannesburgse hospitaal.

Henning se toestand het egter al heelwat verbeter, sê Hillel Coetzer, AfriForum se streeksveiligheidskoördineerder in Gauteng. “Sy toestand het baie verbeter. Die pyp in sy keel is verwyder en hy wil graag gesels, maar sukkel aangesien sy keel maar nog rou is. Hy het wel nog ’n pyp in sy long en maag en hy is nog geswel, maar ons glo en vertrou dat Nico spoedig sal herstel,” sê Coetzer.

Henning is ná die aanval in die waakeenheid van die Netcare Milpark-hospitaal in Parktown in Johannesburg opgeneem. Hy is tydens die aanval vermoedelik met ʼn AK47-aanvalsgeweer in die rug geskiet.

Henning se een nier en ʼn stuk van sy lewer is kort ná die aanval verwyder.

Coetzer bly voortdurend in kontak met Henning se vrou, Linda. “Sy is sterk, maar dit is maar ’n bitter moeilike tyd vir haar. Ons vra dat julle steeds vir Nico en sy familie in julle gebede hou.”

Maroela Media het vroeër berig Henning is op 21 Augustus by ’n OK-winkel in Pretoria-Wes in sy rug geskiet nadat hy op ’n gewapende rooftog reageer het. Henning was in die omgewing en het ʼn groepboodskap gekry van die rooftog. Henning het sonder sy radio hom na die toneel gehaas, min wetend dat die voorsitter van die buurtwag intussen op die groep laat weet het dat niemand op dié boodskap moet reageer nie.

Hy is op die toneel in sy rug geskiet toe die koeël deur sy motor se kattebak en sitplekke gegaan en hom getref het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ARTIMUS ·

Ai so jammer vir Nico, sy gesin en vriende . My skoonseun ook deel van die buurtwag en ons sit en wag met asems opgehou elke keer as hy in di nag op patrollie uitgaan want ons weet nooit waarop hy dalk mag afkom nie. Ons enigste troos is dat hy n baie goeie “bullet proof west” dra maar daar is ni altyd n waarborg dat hul net jou lyf gaan raakskiet nie….?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.