Buurtwaglid steeds kritiek, gebede gevra

Nico Henning. Foto: Verskaf

Gebede word gevra vir Nico Henning, ʼn 45-jarige AfriForum-buurtwaglid van Pretoria-Wes wat Dinsdagaand tydens ʼn gewapende rooftog vermoedelik met ʼn AK47-aanvalsgeweer geskiet is.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het Donderdag aan Maroela Media gesê Henning se toestand is steeds kritiek en hy moet binnekort ʼn noodoperasie ondergaan.

Henning word onder verdowing in die waakeenheid van die Netcare Milpark-hospitaal in Parktown in Johannesburg gehou. Sy vrou, Linda, haar broer, Len Bothma, en sy vrou, Linette, waak by sy hospitaalbed.

“Ek wil almal versoek om saam vir Nico, sy gesin en die Pretoria-Wes-buurtwag te bid in dié moeilike tyd. Ons is ʼn eenheid van 7 000 toegewyde veiligheidslede in die land wat elke dag ons lewens op die spel plaas vir ons gemeenskappe. Ons stel die standaard. Kom ons bid nou saam vir Nico,” het Cameron gesê.

Maroela Media het Woensdag berig Henning is Dinsdag omstreeks 22:00 by die OK-winkel in Pretoria-Wes geskiet.

“Hy was in die omgewing en het ʼn boodskap gekry van ʼn rooftog by die OK en het hom na die toneel gehaas. Hy het nie sy radio by hom gehad nie. Die voorsitter van die buurtwag het toe in die tussentyd op die groep laat weet niemand moet op die boodskap reageer nie, want die toneel is nog warm,” het Cameron gesê.

Volgens Cameron is dit in dié stadium nog onduidelik of Henning stilgehou of weggery het, maar hy is op die misdaadtoneel in sy rug geskiet.

“Die koeël het op een of ander manier deur die kattebak en deur die sitplekke hom in sy rug getref. Hy is vermoedelik met ʼn AK47-aanvalsgeweer geskiet. Hy het huis toe gejaag en toe hy daar aankom vir sy vrou gesê ‘ek dink ek is geskiet’ en toe sy bewussyn verloor.”

Henning is eers na ʼn plaaslike mediese fasiliteit geneem, van daar na die Kalafong-hospitaal en toe per helikopter na Milpark gehaas.

Hy het reeds ʼn operasie ondergaan waartydens sy een nier en ʼn deel van sy lewer is verwyder is. Daar is ook ʼn gat in sy dikderm.

Kapt. Agnes Huma, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig en gesê ʼn saak van sakeroof en poging tot moord word ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

belinda ·

baie sterkte aan nico, asook sy familie, ons gebede gaan uit na hom, kyk net na bo en julle gebede sal gerhoor word.

Willie ·

Dis baie sleg dat die geenskap die patetiese SAPD se werk moet doen… Wonder n lid van die SAPD in vrye tyd ook ons werk kan doen???

Nicky Harding ·

Ons Abba Vader ek le vandag vir Nico by U voete neer,in Jesus naam vra ek dat U Nico sal genees want net U is ons Grt Geneesheer,laat U wil geskied O Vader

IK ·

Sterkte aan die betrokkenes.
Wat my hinder is die versekeringspolisse en mediese kostes verbonde aan so ‘n gebeurlikheid? Sou dit wees dat dit uitgesluit is van jou versekering/medies? Ek reken dat mens baie seker moet maak hieroor!! Ek glo daar is iemand wat my hieroor kan inlig?

Willie ·

Wat mens verbitter maak is die volgende feit- Nie die Staat of die SAPD vat geen verantwwordelikheid vir n GPF lid nie… Lees dit maar op, jou versekering betaal ook nie uit, as jou eindom in die aard beskadig word nie… Ons bid vir jou Nico!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.