Buurtwagte: Versetpatrollie beplan

ian-cameron-2017-02

Ian Cameron van AfriForum. Foto: Verskaf.

Die burgerregteorganisasie AfriForum en die landbounetwerk vir familieboere, Saai, beplan ʼn landwye versetpatrollie later vandeesweek uit verset teen volgehoue teenstand uit staatsgeledere oor buurtwagte wat patrollie ry.

AfriForum en Saai het Dinsdag in ʼn gesamentlike verklaring gesê die versetpatrollie word vir Saterdag beplan. Die organisasies moedig nou ook buurtwagte aan om gedurende vlak 3 van die afsonderingstydperk patrollie te ry ten spyte van teenkanting wat by die organisasies aangemeld is. Afsonderingsregulasies laat toe dat buurtwagte op vlak drie met patrollies voortgaan, maar AfriForum sê buurtwagte word in sommige provinsies deur die polisie verhoed om te patrolleer.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het gesê daar is baie gevalle waar buurt- en plaaswagte goed saam met die SAPD werk. “Dit blyk egter nou dat sommige hooggeplaaste regeringsamptenare se hooffokus nié die bekamping van misdaad is nie, want dit is presies wat buurt- en plaaswagte doen. Dit is ons grondwetlike reg om onsself binne die raamwerk van die wet te beskerm en ons moedig daarom alle buurt- en plaaswagte aan om hul bedrywighede te hervat,” het Cameron gesê.

Theo de Jager is die voorsitter van Saai. Foto: Verskaf.

Volgens Cameron verwag AfriForum ʼn toename in misdaad gedurende vlak 3 van die afsonderingstydperk. “Dit is daarom nou belangriker as ooit dat misdadigers besef dat ons gemeenskappe weerbaar is.”

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, het op sy beurt gesê Saai het oor die afgelope paar dae reeds ’n toename in plaasaanvalle opgemerk. “Ons wil hê ons boere moet hulself kan beskerm, en een van die belangrikste maniere om dit te kan vermag, is deur plaaspatrollies.

“Die boerderygemeenskap speel ’n onskatbare belangrike rol om mense se veiligheid te help verseker. Ons kan nie toelaat dat die polisie gemeenskappe intimideer wanneer hulle bloot hulself en hul eiendom op ’n wettige wyse wil verdedig nie,” meen De Jager.

Luidens die verklaring is AfriForum en Saai bereid om enigeen, nie net lede nie, te help wat onregmatig benadeel word in die uitvoer van wettige buurt- of plaaswagbedrywighede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oomniklaassevriend ·

Hulle reken seker dat indien die massas toelaat word om ongehinderd plase en wonings te plunder is die las op die staat itv kospakkies minder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.