Buurvrou getuig oor Senekal-moord: ‘Sy was vreesbevange’

Abraham Fourie word aangekla van die moord op sy lewensmaat, Maryna Venter. (Foto: Anja van der Merwe/ Maroela Media)

Susanna Mynhardt (58) het Woensdag in die rondgaande hooggeregshof op Bethlehem in die Vrystaat getuig dat Maryna Venter (49) vreesbevange vir haar lewensmaat, Abraham Fourie (52), was. Sy moes hom glo toestemming vra voor sy selfs kon gaan bad.

Mynhardt was Fourie en Venter se buurvrou van 2017 tot 2020 toe die paartjie in ʼn woonstel in die Dennehof-woonstelkompleks op Bethlehem gewoon het. Sy het saam met haar man en seun ʼn in woonstel op die verdieping onder dié van die paartjie gewoon.

Venter en Fourie het in Maart 2020 na Senekal verhuis.

Fourie staan tereg op Venter se moord nadat haar verminkte en erg gebrande liggaam op 13 Junie in die paar se huis in Waterstraat op Senekal aangetref is.

“Sy het my een keer vertel – toe ons alleen was – dat sy vir Brahm gesê het dat sy wil bad, waarna hy haar aan die hare gegryp, bad toe gesleep, warm water in die bad getap en haar kop in dié water gedruk het. Hy het daarna haar kop uitgetrek en gevra: ‘Het jy nou genoeg gebad?’, waarna hy weer haar kop in die water gedruk het,” het Mynhardt getuig.

“Sy [Venter] het vir my gesê dat sy gebrand het, so ek vermoed dit was warm water.”

Mynhardt het getuig dat Venter gereeld “lelike beserings” aan haar gesig gehad het.

“Sy het gereeld blou, toegeslaande oë gehad. Haar oogbanke was oopgeslaan en sy het stukkende lippe gehad. Ons kon nie sien hoe haar liggaam lyk nie, want sy het altyd ʼn langmouhemp aangehad.”

Toe die hof die foto’s van Venter se beserings aan Mynhardt gewys het, het sy in trane uitgebars.

‘n Foto van Abraham Fourie en Maryna Venter in 2018. (Foto: Brahm Fourie/Facebook)

“Maryna was ʼn pragtige vrou toe ek haar in 2014 vir die eerste keer ontmoet het. Sy het die mooiste, blonde hare gehad. Die laaste tyd was sy maer, klein en tingerig. Sy het soos ʼn heel ander vrou gelyk,” het Mynhardt emosioneel getuig.

Sy het voorts getuig wanneer sy Venter in Fourie se teenwoordigheid oor die beserings uitgevra het, sy nooit geantwoord het nie. Volgens Mynhardt het Fourie altyd die praatwerk gedoen.

“Hy het altyd gesê sy het geval nadat sy ʼn epileptiese aanval gekry het.

“Sy het altyd so skrams agter Brahm gestaan en weggekruip. So of sy haar gesig wou wegsteek. Sy sou jou ook nooit in die oë kyk nie, maar ek kon sien sy was bang.”

Mynhardt het getuig wanneer die twee vroue alleen was, het Venter erken Fourie was vir haar beserings verantwoordelik.

“Ek het vir Maryna gevra: ‘Kyk hoe lyk jou gesig?’ Sy sou dan altyd haar vinger oor haar mond sit. Sy wou nie daaroor praat nie.”

Mynhardt het getuig sy het Venter ook in ʼn stadium oor ʼn seerplek aan haar oor uitgevra en dat sy gesê het dat Fourie haar gebyt het.

Fourie het dit in die hof ontken en sy regsverteenwoordiger het gesê “hy het nie boonste tande gehad nie”.

Mynhardt het Fourie se stelling betwis.

Venter het ook oor die loop van die jare sig in haar regteroog verloor en volgens Mynhardt het Venter vir haar gesê dit is as gevolg van “al die houe teen haar kop”.

Mynhardt het in die hof ook aangevoer al Fourie se “vorige vroue het deurgeloop, nes Maryna”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Swerwer ·

Wreed, gevoelloos, gewetenloos. Daar is nie genoeg woorde om hierdie optrede te beskryf nie.

Onnie ·

Ek hoop Mnr. Fourie gaan laaàank tronk toe en kry van sy eie medisyne!

QueenB ·

Ai Liewe Vader mag jy as mede vrou medemens nie namens die slagoffer wat nie wil praat saak gaan maak nie baie vroue is so bang vir die boelie dat hul niks se nie maar as die wet kan verander dat iemand anders namens die slagoffer of sy wil of nie saak kan maak sal so baie vroue se lewens gered word..my hart aan gaan uit aan haar ouers en vriende

Denise ·

My magtig… hang die man.. hy lyk of hy ‘n vrou kan verniel.. ek wens hulle sluit hom vir altyd en nog so n rukkie op

Snowball ·

Agtertangse lieplapper wat waarskynlik te veel van ‘n lafaard is om ‘n man aan te vat, daarom teiken hy vrouens. Gemors soos dié hoort nie in ‘n samelewing nie.

Francois ·

En almal het om haar staan en toekyk, en niks gedoen nie. Skandalig!

Frank ·

Die probleem is wetlik KAN niemand iets doen nie want volgens wet kan slegs die slagoffer ‘n klag indien en in hof teen sulke skuim getuig. Soos iemand hierbo gese het, is dit hoog tyd dat daardie deel van die wet moet verander

YOLANDA ·

as jy als gevolg het,,,sou jy geweet het dat sy almal gekeer het as hul wou help,,,sy sou geen erkenning doen al vat jy haar tot in polisie stasie,,dit was die die probleem,,almal wou haar wegvat en help,,, skandelik dat JY nie reg lees en weet wat aangaan voor jy kommentaar lewer !!!!!!

almal wou help

Spookasem ·

I agree. Her parents could have started procedures to have her declared as mentally incompetent and she would have been removed to a place of safety / protective custody / mental asylum. I know. I assisted in getting just this type of procedure started many, many years ago. In doing that I saved the life of a woman and her three children.

madels ·

Ek hoop hulle doen aan hom in die tronk wat hy aan haar gedoen het, om sy eie medisyne te proe. Uitvaagsel!

Christine ·

Dames, as jou man jou verniel, kom weg van hom af. Hierdie tipe mans is nasarsiste wat grens aan psigopate en sal nie stop voor jy dood is nie. Hulle is wreed en het geen empatie nie. Kom weg, vandag nog, want môre kan te laat wees. Hulle verander NOOIT.

Ontnugterde senior ·

Wat ek nie verstaan nie is dat die getuies nie voor die tyd reeds alarm maak as hulle mishandeling vermoed nie of die persoon nou daarvan hou of nie. Ek moet met my gewete saamleef agterna. As ek my vriendin in so ‘n toestand sien sal ek eingiets doen om seker te maak sy kry hulp VOOR dit te laat is. Dis tyd dat ons weer betrokke raak by ons medemense.

Blikkies ·

Slapgat, te bang om ‘n man van sy eie portuur aan te vat. Hy moet vrek in die selle. Ek hoop en vertrou in die selle sal hulle mooi na hom kyk en die nagte lank wees………..

Anchin ·

Vir my bly die vraag oor hoekom sy by hom gebly het… Liefde, vrees? Dit is skokkend om te dink dat mense soveel houvas op jou lewe kan he. Hoekom het hy haar nie laat gaan nie? Dit lyk duidelik nie of hy haar lief gehad het nie…?

AH ·

Ander se boeke is duister……Ek is oortuig sy sou wegkom as sy kon. Ek weet van ‘n geval waar die vrou telkens probeer wegkom het en dan weer “gejag” en opgespoor is deur die monster. Die gevolge van haar daad was dan baie erger wanneer hulle weer alleen was. Geen beskerming van polisie totdat sy met behulp van familie en vriende een aand gevlug het terwyl hy by ‘n vergadering was. Sy kon dit nie by die polisie gaan aanmeld nie, maar tenminste het sy weggekom en weggekruip vir ‘n geruime tyd voordat die stof gaan lê het en sy dit weer in die openbaar kon waag. Teen daardie tyd het almal na aan hulle geweet van sy gedrag en het ‘n ogie gehou oor hom….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.