Buurvrou glo oor boom in erf vermoor

Argieffoto

ʼn 23-jarige man verskyn na verwagting Maandag in die Bloemfontein-landdroshof in verband met die moord op sy buurvrou.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, het gesê die liggaam van ʼn 42-jarige vrou is Vrydag by Raditaba-riooldam in Hamilton in die Vrystaat gevind. “Sy is Maandagaand (7 November) laas gesien nadat sy haar buurman gaan konfronteer het oor ʼn boom wat oorhang tot in haar erf by Bloemanda- informele nedersetting. Sy het vir haar kinders gesê waarheen sy op pad is, maar toe sy teen die volgende oggend nog steeds nie teruggekeer het nie, het haar 13-jarige dogter by die bure gaan ondersoek instel.”

Die buurman het bevestig sy was daar, maar het beweer hy het saam met haar huis toe gestap.

“Die saak is by die polisie aangemeld en ʼn vermistepersoon-saak is aanhangig gemaak. Tydens verdere ondersoek is daar spore van bloed en vermoedelik menslike vlees en ʼn verbrande matras in die buurman se erf gevind. Die monsters is na die laboratorium gestuur vir forensiese toetse,” het Mbambo verduidelik.

Die buurman was in hierdie stadium nêrens te vinde nie. “Hy is uiteindelik Vrydag aangekeer toe hy in Fase 9, Mangaung, gevind is waar hy weggekruip het. Ná ondervraging het hy die polisie na die dam geneem waar die vrou se liggaam gevind is.”

Mbambo het bygevoeg ʼn nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van haar afsterwe te bepaal en positief te bevestig dat dit wel die liggaam van die vermiste vrou is. Forensiese toetse sal ook bepaal of die monsters wat in die buurman se erf gevind is, met die liggaam verbind kan word.

Die man staan tereg op aanklag van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Joyce Malan ·

Dit voel vir my ons land se mense is so deurtrek van die Bose en dat die sogenaamde meer as 70% “Christine” nie regtig bestaan nie! Kom ons wat werklik Glo vorm ‘n vakuum van gebed elke oomblik om ons land en sy mense! Ek gaan nie hoop verloor nie!

LBS ·

Joice, jy sal jou verbaas. Ek is bereid om daarop te wed dat daar nie meer 70% Christene in hierdie land is nie. Gaan lees maar net enige artikel waar Godsdiens bespreek word, of iemand begin simpatiseer in ‘n moord of ongeluk, soos “mag God julle vertroos” of so iets, dan sien jy hoeVEEL Antichriste daar tussen ons Afrikaners is!

Adam ·

Reg oor die wereld tree mense op soos totale idiotiese boewe en nog erger is die feit dat ons waaragtig nie meer na SA as ‘n beskaafde land kan verwys nie.

Tasha ·

Ons bly in ‘n gegoede buurt en ons buurman is presies dieselfde, hy vloek en skel as ons praat oor sy boom en die se takke…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.