Bybel op oewer lei tot vermiste man se liggaam

Polisieduikers het die man se liggaam uit die water gebring. (Foto: SA Polisie)

ʼn Bybel op die oewer van die Vaalrivier in die Vrystaat – en ʼn vermiste man wie se klere in ʼn hopie daarnaas gelê het – het eindelik tot die opspoor van die man se liggaam help lei.

Kapt. Malebo Khosana, polisiewoordvoerder, sê polisieduikers het Joseph Thapelo Makhanye (26) se liggaam Vrydag uit die water gehaal nadat sy familie hom ʼn dag tevore as vermis aangemeld het.

ʼn Span polisieduikers onder leiding van lt.kol. Conrad Fouché is na die toneel langs die rivier nadat die polisie op Villiers hulle ingelig het dat die klere wat langs die rivier gevind is, moontlik aan Makhanye behoort.

Duikers het sy liggaam Vrydag kort ná 15:00 uit die water gebring.

Volgens Makhanye se familie het hulle hom Maandag die laaste keer gesien. Hulle het egter geen onraad vermoed nie omdat hy in die omgewing van Qalabotjha rondgeswerf het.

ʼn Veewagter wat op Makhanye se Bybel en klere langs die rivier afgekom het, het die jong man se adres voorin die Bybel gekry en na sy familie gaan soek. Eers nadat die veewagter by hulle aangekom het, het hulle besef Makhanye het dalk iets oorgekom.

Hulle is daarna na die rivier waar hulle Makhanye se klere uitgeken en ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak het.

Khosana sê ʼn nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van Makhanye se dood te bepaal. ʼn Geregtelike doodsondersoek word intussen gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

marius ·

Ai dit is hartseer . Hoe weet ons nie van mekaar se laste en wroegings in hierdie lewe nie . Rus nou saggies jong man .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.