Bye takel vier mense op boot 

Al vier mense aan boord van die vaartuig het beserings en bysteke opgedoen. (Foto: NSRI)

’n Reddingsvaartuig het Donderdag teen bome op die oewer van die Kowierivier in Port Alfred in die Oos-Kaap gebots toe bemanningslede vir ’n swerm bye probeer vlug het.

Al vier mense aan boord van die vaartuig het beserings en bysteke opgedoen. Drie van hulle moes hospitaalbehandeling kry.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) sê in ʼn verklaring twee private bote was teenwoordig en het probeer help, maar dat die bye steeds “aggressief” was en die mense op die vaartuie gesteek het.

Keryn van der Walt, NSRI se bestuurder in Port Alfred, was ten tyde van die voorval in ʼn private boot op die rivier en het dadelik gereageer terwyl nog ’n NSRI-reddingsboot en die Garmed-ambulansdienste ontbied is.

Luidens ʼn verklaring deur die NSRI kon Van der Walt en haar bemanning ondanks die bye twee persone uit die boot te bevry.

Dié het dadelik twee vroue van 21 en 43 jaar oud medies behandel vir ernstige beserings en veelvuldige bysteke. “Die bysteke het ook ʼn anafilaktiese reaksie by die pasiënte veroorsaak.”

Die NSRI se Rescue 11 Alpha-reddingsboot het by sy aankoms op die toneel twee mans, die een 20 en die ander 49 jaar oud, uit die gestrande boot bevry.

Die 20-jarige man is ook vir ʼn anafilaktiese reaksie behandel terwyl die ouer man geen tekens van ʼn allergiese reaksie weens die bysteke getoon het nie. Die 49-jarige man is nie in die hospitaal opgeneem nie.

Volgens die NSRI sal die beskadigde boot later aan die eienaar terugbesorg word.

Dit is nie duidelik waarheen die boot onderweg was toe die voorval plaasgevind het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Casper ·

‘n Reddingsvaartuig.Dit lyk my vir my na ‘n doodgewone boot.Hulle was op die rivier om wat te maak.

Elinette ·

Nee, kyk, moenie lol met Moeder Aarde en haar skepsels nie!!!

Astrain ·

Bye verpes seker masjiene se geluid…soos ‘n grassnyer…vra maar my tuinwerker!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.