‘Bygeloof’ glo rede vir kinders se ontvoering

Die baba wat ontvoer is. Foto: Verskaf

Die ontvoering van ʼn baba en ʼn tienermeisie verlede week uit hul woonplek naby Witbank in Mpumalanga hou moontlik verband met “bygelowige oortuigings”.

Maroela Media het vroeër berig die kinders, Gabisile Shabani, ʼn 14 jarige albino-meisie, en Nkosikhona Ngwenya, 15 maande oud, is verlede Sondag in die vroeë oggendure by ʼn huis in Vosman ontvoer waar ʼn 50-jarige vrou saam met haar kinders en kleinkinders woon.

Drie verdagtes het toegang tot die huis verkry deur die sit-en-eetkamer se venster te breek. Die vrou en haar 18-jarige dogter het die geraas gehoor en gaan ondersoek instel, waarna ʼn vuurwapen op hulle gerig is. Hulle is dadelik beveel om stil te bly.

Die verdagtes het toe vir Gabisile en Nkosikhona uit verskillende kamers gegryp en in die donker op die vlug geslaan en verdwyn.

Volgens Lindiwe Ntshalintshali, Witbank se burgemeester, is Nkosikhona glo verkeerdelik geteiken. “Gabisile leef met albinisme en die vermoede bestaan dat die ontvoerders Nkosikhona verwar het met ʼn ander baba van dieselfde familie wat ook albinisme het,” het Ntshalintshali gesê.

“Daar is stories dat mense wat met albinisme leef vermoor word vir hul liggaamsdele. Hierdie kinders het ʼn reg om te lewe net soos ander kinders. Die valse geloof dat hul liggaamsdele buitengewone magte het, moet uitgewis word. Albinisme is ʼn geneties-geërfde toestand.”

Ntshalintshali het ʼn beroep op kerke, nieregeringsorganisasies en ander instellings gedoen om Gabisile en Nkosikhona in hul gebede te hou.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, het Dinsdagaand gesê die kinders is steeds nie opgespoor nie en die soektog duur voort. Die polisie ondersoek ʼn saak van huisbraak en ontvoering.

Die meisie wat ontvoer is. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anoniem ·

Irrasionele oortuigings wat spruit uit irrasionele kulturele snert.

Alida ·

Kan nie glo mense glo nog aan bollie nie dis 2018 !!! Kom by.

Danie ·

Ons is nou al ‘n hele ent die 21ste eeu in. Blykbaar is daar nog steeds dié wat vasklou aan baie primitiewe bygelowe en magiese fabels oor albinisme, maar ook verskeie ander goed.

Die sulkes dra trots selfone en ander elektroniese goed maar glo nog steeds aan bygelowe (sangoma = toordokter (toor- (regtig) -dokter). Dokter is gebaseer op wetenskap. Daar ek nie dink dat iemand die twee terme in sin, want nog te sê van een woord, wil gebruik nie.

Theresa B ·

Die arme kinders. Dis absolute siek verby!! Hierdie mense moet opgelei word deur op te hou om aan snert te glo. Ek hoop regtig die kinders word gou gekry.

PJC ·

Dit lyk nie na goeie nuus vir die kinders se familie nie. Dit lyk nie of daar ooit van hierdie bygelowe ontskae geraak gaan word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.