Bykans 2 500 stempunte maak laat oop

Die OVK-uitslagsentrum in Pretoria Foto: SANews via @SAgovnews

Die OVK-uitslagsentrum in Pretoria Foto: SANews via @SAgovnews

Altesaam 2 449 stempunte het Woensdagoggend weens vertragings laat oopgemaak.

Dit verteenwoordig 11% van die 22 263 stempunte en beteken dat Suid-Afrikaners langer moet wag om te stem terwyl die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) die probleme opgelos het.

Mosotho Moephya, hoof verkiesingsbeampte, het in Pretoria by die OVK se uitslagsentrum aan verslaggewers gesê van die stemmateriaal is laat afgelewer en geboue waar daar gestem moes word, was gesluit.

Ongeveer 95% van die stempunte was teen 09:00 oop en teen 11:00 was alle stempunte in werking.

Twee OVK-tente is Dinsdagaand in Bekkersdal, wes van Johannesburg aan die brand gesteek. Courtney Sampson, verkiesingsbeampte in die Wes-Kaap, het gesê ʼn bemiddelaar moes na ʼn stempunt in Barcelona, Gugulethu gestuur word om ʼn gemeenskapsdispuut op te los.

Daar was ook ʼn stryery tussen ondersteuners van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) en die ANC by Mponegele Primêre Skool in Seshego, Limpopo.

Julius Malema het later saam met sy ouma by die stempunt in Seshego opgedaag. Pres. Jacob Zuma het in Nkandla gestem en Helen Zille, leier van die DA, het in Rondebosch in Kaapstad gestem. Mamphela Ramphele het by Seepunt in Kaapstad gestem en emeritus aartsbiskop Desmond Tutu het sy stem by Hoërskool Milnerton in Kaapstad uitgebring. Hy het gesê dit is “wonderlik, wonderlik” om in ʼn “relatief vreedsame land” te stem.

Gevangenes in Witbank, Mpumalanga het ook hul stemreg uitgeoefen. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.