Bykomende veiligheid by Numbi-hek aangebring

Numbi-hek (Foto: TripAdviser.com)

Toeriste hoef nie meer skrikkerig te wees om die Numbi-hek te gebruik om die Krugerwildtuin te besoek nie, nadat die veiligheid by dié berugte hek opgeskerp is.

Die Kruger-Laeveld-sakekamer in samewerking met die wildtuin het bykomende veiligheidsmaatreëls aangebring om die hek vir toeriste te beveilig. Dit volg nadat vier gewapende aanvalle sedert November by die hek aangemeld is.

Volgens Linda Grimbeek, hoof van die Kruger-Laeveld-sakekamer, het hulle deur middel van finansiering van Toerismebemarking Suid-Afrika (Tomsa) aan die begin van die maand permanente patrollies by die hek aangebring. Twee voertuie met gewapende veiligheidswagte patrolleer nou permanent die omgewing.

“Verkeer- en polisiebeamptes gaan ook oor vakansies en langnaweke die omgewing patrolleer,” sê Grimbeek.

’n Veiligheidskamera sal ook by die Numbi-hek aangebring word om die omgewing te monitor.

“Van die Stad Mbombela se kant het hulle ook ’n kamera by die sirkel naby die hek aangebring om bykomende sekuriteit te bied.

“Die munisipaliteit beoog ook om die spoedhobbels op die pad platter te maak sodat voertuie nie oor sulke steil hobbels hoef te sukkel nie.”

Die rommel langs die pad – wat ’n seeroog vir die publiek geword het – gaan ook opgeruim word.

Grimbeek is positief oor die bykomende veiligheidsmaatreëls en hoop toeriste sal voortaan die Numbi-hek meer gereeld gebruik.

“Met die projek wil ons stelselmatig die slegte indruk wat oor die pad gevorm is, regstel. Ons hoop ons kan dit met die bykomende veiligheidsmaatreëls doen en dat toeriste in die toekoms meer geneë sal voel om die pad te gebruik. Dit is tog die lekkerste pad om na die wildtuin toe te ry.”

Grimbeek sê die aanvalle het ook ’n invloed op die ondernemings wat langs die pad geleë is. “Hierdie ondernemings teiken juis toeriste en ly daaronder as toeriste nie van die pad gebruik maak nie.”

Sy glo daar is nog baie potensiaal langs die pad wat ontgin kan word noudat die veiligheid opgeskerp is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

My siening ·

Ja hoop so want mens wil die diere eers sien na die hek en nie voor die hek soos dit nou was!

Harley Davidson ·

So die kriminele is ook daar in beheer en alternatiewe reëlings moet gemaak word wat van die polisie doen hulle werk en vang en verwyder die kriminele.

Andries ·

Duur diesel en al wou ons vanjaar vanuit die WesKaap ry om die Kruger te bseoek, maar die aanhoudende stroom geweldsberigte uit die Oos Transvaal en die Laeveld het ons laat besluit om liewer elders te gaan toer. Gee ons ‘n jaar sonder slegte nuus en dalk probeer ons weer.

Grassie ·

Dit klink vir my na goeie voornemens wat maar steeds voornemens gaan bly. Die aanvalle is nie by die hek nie, dit is in die woonbuurt voor jy by die hek kom. Hulle sê die spoedhobbels gaan aandag kry en gemors opgeruim word. Tot hulle sê al 32 hobbels is platgemaak en die gebied is skoon, glo ek hulle nie. Die gewapende wagte wat die gebied patrolleer – wie gaan dit in stand hou en betaal? Beslis nie die polisie nie. Gebruik liewers Phabeni of Krugerhek en reis veilig.

Swerwer ·

Wat ‘n blye vooruitsig! Hoop net dat die “Verkeer- en polisiebeamptes” van die werklikes is en nie die selfhelp tipes nie.

Dalro ·

Sal steeds veel eerder Malelane hek gebruik. Die gebied waar deur gery moet word om Kruger, Pabeni en nog erger Numbi hekke te bereik is net te onveilig.

Niklaas ·

Ons gebruik gereeld die Phabeni ingang. Nog nooit probleme daar ondervind nie. Sake
kan natuurlik oornag verander. Ons het al vele noue ontkomings in die Masoyi area gehad en wat my betref kan die Numbi se 28 spoed hobbel -pad en ingangs hek permanent gesluit word . Pretoriuskop se nabye sirkellope lewer ook geen wild meer op nie, en die rede daarvoor kan mens net oor bespiegel.

Johan ·

Buite Punda Maria lyk ook maar erg, die spoed hobbels by Numbi is werklik vreeslik ek weet nie wat hul gedink het nie, hoop hul gaan dit heeltemal afhaal. Ruk die Nelspruit polisie ook bietjie in die bek, hul wou ons gladnie help toe ons in n ongeluk was nie soos aangehaal van Officer Zulu: “no one is going to help you today, go try Nkomati”. Eintlik word die KNP en die gebiede om dit uiters swak bestuur. Paaie naby Pretorius kop (in die wiltuin) lyk ook maar sleg met al die bome wat al in die pad hang en AL die grondpaaie is sinkplaat gery tot die uiterste. Alles waaraan hulle raak word vernietig.

Manie ·

Hou op om voertuie toe te laat wat die wildtuin as ‘n kortpad deurgangsroete gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.