Bylaanval op Oos-Kaap-plaas: Een verdagte vrygelaat

hof-hamer

Argieffoto.

Een van die vier verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met die aanval die afgelope naweek in die Addo-omgewing in die Oos-Kaap waartydens ʼn 63-jarige man met ʼn byl aangeval, ontvoer en etlike ure in ʼn donker vertrek aangehou is, is Woensdag in die Kirkwood-landdroshof vrygelaat omdat hy nie met die saak verbind kon word nie.

Maroela Media het vroeër berig kapt. Gerda Swart, woordvoerder van die polisie, het gesê vier verdagtes is almal teen Maandagaand vasgetrek. “Die deurbraak was Maandag omstreeks 20:00 toe die ondersoekspan die huise van die verdagtes in Addo deursoek het. Daar is tydens die inhegtenisneming op twee vuurwapens en ammunisie beslag gelê. Dié vuurwapens sal vir ballistiese toetse gestuur word,” het Swart gesê.

Die polisie is nog op soek na die res van die vuurwapens wat tydens die aanval gesteel is.

Bulelani Mti (26), Vuyele Malova (32) en Kwanele Madusi (27) het Woensdag in die Kirkwood-landdroshof verskyn op aanklagte van onder meer poging tot moord, huisbraak en ontvoering. Nog aanklagte kan later bygevoeg word.

Maroela Media het vroeër berig die 63-jarige man was Saterdagaand glo buite sy huis om sy perde kos te gee toe hy deur die groep aanvallers oorrompel is. Die verdagtes het hom met ʼn byl aangeval en aangedring op die sleutels van die kluis. Hulle het daarna drie vuurwapens en elektroniese toerusting gesteel voordat hulle die man in sy eie bakkie geboender en na die buurplaas gery het.

Daar het die aanvallers die bure, wat nie tuis was nie, se huis geplunder en onder meer ʼn kluis met pistole gesteel. “Hulle het daarna na ʼn gebied, vermoedelik in Motherwell, gery waar hulle die slagoffer vasgebind en vir die hele duur van Saterdagaand in ʼn kamertjie gehou het,” het Swart vroeër gesê.

Sy het gesê die verdagtes het Sondagoggend vroeg eers inkopies met die slagoffer se bankkaarte gedoen voordat hulle die man by die huis opgelaai en hom kort daarna weer in Kwazakele saam met sy bakkie langs die pad gelos het.

“Die slagoffer kon daarin slaag om met sy bakkie terug te ry plaas toe om die polisie Sondag omstreeks 15:30 in kennis te stel,” het sy gesê. Die man is met wonde aan sy kop en arms na ʼn hospitaal geneem.

Die drie bly in aanhouding tot 25 April wanneer hul saak weer voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Breanda ·

So word al die moordverdagtes vrygelaat en die mense wat die K woord gebruik sit in die tronk .. TIPIES .. anargie .. fasciste .. diskriminasie, ongelyk voor die reg . ALLES waarteen die sogenaamde vryheidsvegters geveg het PAS HULLE NOU TOE!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.