Bylmoorde: ‘As ek hulle kon help, sou ek’

Henri van Breda. Foto: Courtney Africa/ANA

Henri van Breda (23) het Maandag tydens kruisondervraging in die Wes-Kaapse hooggeregshof probeer verduidelik hoekom hy so lank ná die aanval op sy gesin eers die nooddienste ontbied het.

Die staatsaanklaer, adv. Susan Galloway, het Van Breda tydens kruisondervraging gevra oor die tydlyn van gebeure en wanneer hy sy bewussyn verloor het. Van Breda beweer hy het van die trappe geval nadat hy sy ouers en broer se moordenaar met ʼn byl gegooi het. Hy het verduidelik dat hy sy vriendin probeer bel het nadat die aanvaller(s) gevlug het. Die oproep het egter dadelik na ʼn stemboodskap oorgegaan.

Volgens Van Breda is hy toe weer by die trappe op waarna hy sy bewussyn verloor het. Hy meen hy het moontlik sy bewussyn verloor weens die “skok” nadat hy gesien het sy ma is dood en sy suster kritiek beseer.

Volgens die polisie se tydlyn van die gebeure het twee uur en 40 minute ná die aanval verloop voor Van Breda met die nooddienste probeer kontak maak het.

Galloway wou by Van Breda weet of hy die bewering dat hy sy bewussyn verloor het, gebruik om te probeer verduidelik wat in die twee uur en 40 minute gebeur het. Van Breda het volgehou dit is nie die geval nie.

Galloway het verwys na teenstrydighede in Van Breda se pleitverduideliking en sy aanvanklike polisieverklaring. “In jou pleitverduideliking het jy gesê jy het gehoor hoe Rudi roggelgeluide maak en dat hy gewelddadig rondbeweeg het. In die verklaring het jy net een keer na Rudi verwys en gesê hy het net daar gelê terwyl hy aangeval is.”

Sy het dit aan Van Breda gestel dat hy sy weergawe verander het sodat dit kan strook met kapt. Marius Joubert, ʼn bloedspatselkenner, se getuienis dat bloedspatsels op die toneel daarop dui dat Rudi geskuif is van sy bed waar hy aangeval en rondgeruk is. Sy liggaam is op die vloer langs die badkamerdeur gevind.

Van Breda het hierop geantwoord deur te sê die polisie het sy woorde “verkeerd geïnterpreteer”. Galloway wou ook by Van Breda weet hoekom hy nie die noodnommers op die yskas gebel het nie en eerder op Google daarvoor gesoek het. “Dit het gevoel ek kon meer doen deur self die nommer te vind,” het hy geantwoord.

Galloway het gesê Van Breda kon die bure geroep het sodat hulle solank handdoeke onder sy ma en Marli se koppe kon plaas om die bloeding te probeer keer. Van Breda het egter gesê hy sou beter voel as hy direk met die mense wat sou help, kon praat.

Hy het ook gevoel dit sou ʼn “indirekte manier wees om hulp te kry” deur die veiligheidsbeamptes van die landgoed te nader.

“Volgens jou weergawe was jy steeds van mening dat Marli en Rudi lewend was. Jy het Marli sien beweeg en Rudi hoor geluide maak. Hoekom het jy nie aan die noodoperateur gesê dat twee lede van jou gesin nog leef nie? Jy sê jou suster leef nog, maar noem niks van jou broer nie?” wou Galloway weet.

Van Breda het hierop geantwoord hy kan nie seker wees nie, maar dat hy vir meer as een ambulans gevra het. “Ek het gedink ek doen die meeste wat ek enigsins kan. As ek gedink het ek kon hulle help, dan sou ek.”

Van Breda het hierna emosioneel begin raak en die hof versoek vir ʼn pouse sodat hy homself kan regruk.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Eish ·

Kruisondervraging, n wonderlike instrument om agter die waarheid te kom en leemtes bloot te lê. Jammer ons erken nie poligraaftoetse nie.

G ·

Poligraaftoetse is nie 100% akkuraat nie. Gaan google maar hoeveel metodes daar is om poligraaftoetse te manipuleer sodat jy op papier onskuldig lyk terwyl jy eintlik skuldig is.

neels ·

Dit het solank gevat vandat dit gebeur het todat die saak in die hof beland het , dat die jongman genoeg tyd gehad het om sy moontlike ondervraging sessie in te studeer. Dit is ook waarskynlik die rede hoekom hy nie eerste getuig het nie, die verdediging moes aangepas word sodat dit met die polisie se verklaring ooreenstem, wat ook nagal n tyd geneem hetom in te studeer.

Susan ·

Ek stem saam, hy is n baie slim mannetjie, altans hy dink so.

Ouma ·

Haai weet julle! Julle veroordeel die kind te gou!! Julle weet nie hoe moeilik dit is om te praat en te stotter nie!! Dis nie net ‘n spraak gebrek nie maar kop en tong werk nie altyd saam nie!! Gaan luistet en kyk maar by enige inrigting wat hierop spesialiseer. Of is daar nie in die modernetyd sulke plekke nie! Alles maar alles het verander! Vra maar ons ou mense!!

AndriesPvNiekerk ·

Ek wil nie snaaks of lelik wees nie… Ons oordeel nie te vinnig nie, die saak is al hoe lank aan die gang, al die bewyse is teen die ou. Hy het baie tyd gehad om sy “aliby” in orde te kry en dit so goed te leer dat hy dit al self glo.

Andries Erwee ·

Van Breda praat sag, maar hy hakkel of stotter glad nie. Dit was duidelik misleidende inligting wat daan die hof gegee is.

Leslie ·

Kon een of twee van die wat oorlede is nie weggehardloop het nie? Hoe kon hy die hele familie uitwis behalwe natuurlik die suster. Waar het hy krag gekry vir so iets?

karen ·

Ai seun wil
jy nie maar liewers net die waarheid praat nie. Die waarheid maak vry. Sowaar die ergste wolhaarstorie in die geskiedenis. Dit ontstel jou geweldig dat jy hulle nie “gehelp”het amper 3ure gewag om iemand van buite te kry vir hulp maar boet, Wat van n “HELP” in die nagstilte ??? Dink jy regtig enig iemand moet jou glo….. Geen hulpgeroep van jou nadat jou gesin op die wreede manier afgemaai is ….. ek is bly jy glo jouself.

Elzanie ·

Ek stem saam met Leslie. Sy pa is mos ‘n groot man, kon hy regtig hul al 4 net so af maai, ek weet nie, dis moeilik om te glo 1 mens, ‘n jong man kan sy pa, ma & suster af strei na of terwyl hy sy boetie dood kap. Nee wat… ek dink nie dis moontlik nie & dit is heel moontlik om van skok jou bewussyn te verloor. Ek sou ook in skok staan & vir ‘n oomblik nie weet hoe & wat nie. Ek sou ook vir my lewe ‘n boef af strei maar met ‘n mes in sy hand het jy nie regtig ‘n kans nie. Dink nie hy’s skuldig nie, dis my opinie. Ons mag nie oordeel nie, maar hoe & wat ookal, die Here weet.

Petra ·

Julle is heeltemal reg. So kom ons maak n som. As 1 +0 nie die moorde alleen kon pleeg nie. Was dit dalk 1 + 1 . Het iemand hom dalkies gehelp?

Petra ·

Julle is heeltemal reg. So kom ons maak n som. As 1 +0 nie die moorde alleen kon pleeg nie. Was dit dalk 1 + 1 . Het iemand hom dalkies gehelp?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.