Bylmoorde: Binneverhoor begin; opsomming van week

Henri van Breda in die hof (April 2017) Foto: Catherine Rice/ANA

Die eerste getuienis in die binneverhoor van Henri van Breda het Vrydag in die Wes-Kaapse hooggeregshof begin. Die moordverhoor is tydelik onderbreek omdat Van Breda (22) se regsverteenwoordiger wil hê dat regter Siraj Desai moet bepaal of die verklaring wat Van Breda op 27 Januarie 2015 afgelê het, toelaatbaar is of nie.

Van Breda word daarvan beskuldig dat hy sy pa, Martin van Breda (54), ma, Theresa (55), en broer, Rudi (22), op 26 Januarie 2015 met ʼn byl in die gesin se huis op die De Zalze-landgoed buite Stellenbosch vermoor het. Sy sussie, Marli (toe 16 jaar oud), het die aanval oorleef, maar ʼn breinbesering opgedoen en ly aan geheueverlies.

Adv. Pieter Botha voer aan dat Van Breda as ʼn verdagte behandel is toe hy sy verklaring afgelê het, maar nie ingelig is dat hy ʼn prokureur teenwoordig mag hê of sy reg tot stilswye mag uitvoer nie.

Botha het gesê Van Breda moes glo sy weergawe van die aand se gebeure herhaaldelik vertel. Polisiebeamptes het hom ook na ʼn mediese dokter geneem om vas te stel of sy wonde self toegedien is. Daar is die hele dag nie aan hom kos voorsien nie en hy het glo ook aan die gevolge van te min slaap gely.

Kol. Deon Beneke, die polisiebeampte wat Van Breda ondervra het, het glo ook vir hom gesê “ek glo nie ʼn woord van jou b******t storie nie”. Van Breda se oom en tannie is glo ook toegang tot hom geweier.

Van Breda is op dié betrokke dag om 21:30 na die Vergelegen Medi Clinic geneem waar dr. Michelle van Zyl gevra is om ʼn J88-vorm in te vul en bloed van hom te trek. Botha het aan die hof gesê dat Beneke Van Zyl ingelig het dat Van Breda ʼn verdagte is. Hy was tydens die geleentheid steeds in sy nagklere en vol bloed. Botha het gesê familie van Van Breda het vir hom kos en klere gebring, maar dat hulle dit nie vir hom kon gee nie.

Die eerste getuie in die binneverhoor was sers. Clinton Malan, die beampte wat Van Breda se verklaring afgeneem het. Hy het aan die hof gesê dat Van Breda stil en kalm was en geen emosie getoon het nie. Hy en ʼn mede-sersant het glo aan Van Breda vrae gestel wat hy beantwoord het.

Malan voer aan dit was belangrik om die verklaring te kry om aan die misdaadintelligensie span te oorhandig sodat hulle ʼn leidraad vir ʼn moontlike verdagte kon opvolg. Hy voeg ook by dat Van Breda daar was as ʼn slagoffer.

Susan Galloway, senior staatsaanklaer het gesê die staat se mening is dat Van Breda die verklaring afgelê het as ʼn getuie en nie ʼn verdagte nie. Die binneverhoor is tot Maandag uitgestel.

Hoogtepunte in die hofsaak vandeesweek:

Maandag

Henri van Breda was volgens getuienis “vriendelik en joviaal” en het glo kalm en selfversekerd voorgekom toe hy ná die Stellenbosch-bylmoorde saam met ʼn vriend na die hospitaal is.

Dr. Michelle van Zyl het Maandag aan die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê sy het ook nie pynmedikasie vir Van Breda voorgeskryf nie.

Volgens haar verslag het sy asem effens na alkohol geruik.

Van Zyl het gesê Van Breda het ʼn snywond aan die linkerkant van sy buik gehad, maar hy het nié steke vir die wond gekry nie omdat dit nie diep genoeg was nie. Hy het ook krapmerke op sy linkervoorarm gehad en ʼn kneusplek op sy bors wat nie gebloei het nie.

Dinsdag

’n Forensiese kenner het in die Wes-Kaapse hooggeregshof getuig daar was ’n “sterk kontras” tussen Van Breda se wonde en die beserings wat die res van sy gesin opgedoen het.

Dr. Marianne Tiemensma het Dinsdag getuig die Van Breda-gesin het uitgebreide “kapwonde” gehad terwyl Van Breda se wonde oppervlakkig was. Sy het gesê Van Breda se wonde is nie met dieselfde bedoeling en krag toegedien nie en dat hy geen beserings opgedoen het wat lyk of hy homself moes verdedig nie.

Woensdag

ʼn Mediese professor en forensiese patoloog het Woensdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof getuig die wonde wat Van Breda op 27 Januarie 2015 opgedoen het, is waarskynlik self toegedien.

Johan Dempers het in Augustus 2015 ʼn verslag saamgestel nadat hy foto’s van Van Breda se wonde bestudeer het. Die getuienis wat hy Woensdag gelewer het, was soortgelyk aan dié van Tiemensma wat vroeër getuig het Van Breda se wonde is moontlik self toegedien en het aansienlik verskil van die wonde wat die res van sy gesin opgedoen het.

Donderdag

Dr. Daphne Anthony, die forensiese patoloog wat die nadoodse ondersoek op die slagoffers van die Stellenbosch-bylmoorde gedoen het, het Donderdag oor die oorledenes se noodlottige beserings in die Wes-Kaapse hooggeregshof getuig.

Anthony het aan die hof gesê die nadoodse ondersoek het gewys dat Rudi, Van Breda se ouer broer, en Martin, sy pa, waarskynlik nie onmiddellik gesterf het nie en moontlik ook erge pyn ervaar het. Sy het gesê Theresa, Van Breda se ma, is moontlik die enigste slagoffer wat “redelik vinnig” gesterf het.

Volgens haar ondersoek het Rudi bloed in sy maag gehad – ʼn bewys dat hy nie onmiddellik gesterf het nie omdat hy bloed moes gesluk het.

Daar was aanduiding van “eksterne skerp en stomp trauma aan sy hand”. Anthony het gesê los stukkies been, asook die onderliggende breinweefsel kon met die blote oog gesien word. Sommige van die wonde was aan die linkerkant van Rudi se nek en slaap asook op die boonste gedeelte van sy kop. Daar was diep snye in sy brein, terwyl hy ook verskeie skedelfrakture gehad het wat ook skade aan die brein veroorsaak het.

Anthony kon nie aan die hof sê presies hoe lank Rudi ná die aanval geleef het nie, maar glo hy het “ʼn ruk lank” geleef. Op ʼn vraag van regter Desai het Anthony gesê Rudi het waarskynlik pyn ervaar aangesien hy net semi-bewusteloos sou wees.

In haar nadoodse ondersoek het sy ook bevind Martin het weens erge kopbeserings gesterf. Sy het gesê hy het egter geen tekens van selfverdediging getoon nie, wat daarop dui dat die aanvaller hom onkant betrap het. Hy het bloed in sy longe gehad wat daarop dui dat hy nie onmiddellik gesterf het nie. Hy het verder kapwonde aan die agterkant van sy skedel en aan weerskante van sy kop gehad. Volgens Anthony is hy waarskynlik van agter aangeval.

Theresa het ook “skerp en stomp trauma”-beserings teen haar kop opgedoen. Anthony het gesê sy het ʼn verdedigingswond aan haar hand gehad wat beteken sy het probeer om haarself tydens die aanval te beskerm. Sy het kneusplekke aan haar neus gehad wat moontlik daarop dui dat sy vooroor geval het. Theresa het ook talle kapwonde, erge bloedverlies, ʼn breinbesering en skedelbreuke opgedoen.

“Verskeie los stukkies skedel was teenwoordig en kon met die blote oog gesien word. Die skade aan die breinweefsel kon ook met die blote oog gesien word.”

Anthony het gesê sy vermoed Theresa se gesig was na die aanvaller gedraai toe sy aangeval is. Sy het gesê daar was geen aanduiding van bloed in haar longe of maag nie, wat daarop dui dat sy “redelik vinnig” gesterf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Stella ·

Kan hy nog met sy gewete saamleef?. Ek wonder hoekom praat hy nie die volle waarheid nie,dis net hy wat weet wat daar gebeur het.

Alida ·

Seer sekerlik sal Marli knak onder kruisverhoor en die waarheid praat.

Pierre de Villiers ·

Die eerste vraag wat ek myself in hierdie tipe ondersoeke vra is waarom die beskuldigde, as sy geliefdes vermoor is, geen poging aanwend om ook die moordenaar(s) te probeer soek of dalk leidrade opvolg nie.
Die Lotz saak is seker een van die bekendste van al hierdie sake.
As my meisie, verloofde of geliefdes vermoor is, sal ek alles in my vermoe doen om die “skuldige”(s) self te probeer vastrek deur leidrade op te volg.
Jy merk dit by GEEN een van hierde gevalle nie.

Henry McDonald ·

EN steeds by die Lotz-saak: waarom is die nadoodse ondersoek op Inge Lotz nie deur ‘n forensiese patoloog soos in hierdie saak die geval is, uitgevoer nie? Die Mollet-broers bevraagteken in hul ondersoek na hierdie (Lotz) saak die afmetings van die kopwonde wat deur ‘n distriksgneesheer op die liggaam uitgevoer is en vermoedelik deur ‘n hamer wat vermoedelik die moordwapen was veroorsaak is, as foutiewe aantekeninge……

Ada ·

Niemand kan hulle werk oordentlik doen nie. Dit is waarom moordenaars vry loop. Dalk kry die ondersoek beamtes ook geld onder die tafel om leidrade mis te kyk.

Chekoree ·

Ek wonder nounet of die SAPS weer genoeg aangejaag het om by te dra dat hierdie saak die pad van die Lotzsaak gaan loop en dat die waarheid nooit gaan uitkom nie.
Tyd sal leer………..

Frik ·

Sou hy wel skuldig bevind word hoop ek dat sy advokaat dan nie met n soppie storie om versagting kom nie want as jy gelieg en dan uitgevind word bewys dit dat jy geen berou hst oor wat jy gedoen het nie.

tish ·

als raak nou afgesaag. gaan als oor geld.
miskien moet hul Maril toets of sy werklik aan geheu verlies ly.
ruik n rot

Santie ·

Waar het jy dit gelees ? Hy het dan die byl maklik by die skurk afneem waarna hy (van Breda) met ‘n mes aangeval is. Dis dan waarom dokters getuig het dit kon “selftoegediende wonde” wees.

Sjoe ·

Ek kry net die Ma jammer wat moes beleef het wie die aanvaller was en haar benoude krete en oomblikke om aanval af te weer en sin in sy kop te kry. Dit moet die harseerste wreedste dood gewees het en arme Marli wat n goeie geveg opgesit het.

Sonja ·

Ai, die mense wat so hulle eie oningeligte gevolgtrekkings maak oor Marli. Lees wat haar beserings behels dan sal julle sien dat sy verbete geveg het vir haar lewe en met dieselfde geweld aangeval is…asook n breinbesering opgedoen het wat die oorsaak is van haar geheue verlies. Sy kan werklik niks onthou nie, net soos mense wat in n ongeluk was en nie kan onthou wat voor en na dit gebeur het nie.

tish ·

ai ai sonja,
Mariaan van 7de laan kon ook niks onthou nie…………………………….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.