Bylmoorde: Buurvrou getuig oor daardie aand

Annelize Taljaard. Foto: Catherine Rice/ANA

ʼn Voormalige buurvrou van die Van Breda-gesin op die De Zalze-landgoed in Stellenbosch het Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof getuig sy het nie geluide uit die huis gehoor op die aand van 26 Januarie 2015 nie.

Annelize Taljaard, vir die verdediging, het getuig dat sy as ʼn ma van drie kinders ʼn ligte slaper is, maar nie daardie aand wakker geword het nie. Volgens haar trek klank ver en sou sy normaalweg gesteur word as mense gelag het of partytjie gehou het. Volgens haar het sy nie hulpkrete, ʼn aanvaller of Teresa van Breda wat vra wat aangaan gehoor nie.

Megan Blows, staatsaanklaer, het die hof daarop gewys dat daar ʼn dubbelverdiepinghuis, waaraan daar gebou is, tussen Taljaard se huis en die Van Breda’s se huis [Goskestraat 12] is. Taljaard het in Goskestraat 14 gewoon.

Stephanie Op’t Hof, ʼn ander buurvrou wat in Goskestraat 10 gewoon het, het vroeër in die verhoor getuig sy het harde manstemme gehoor wat rusie maak tussen 22:00 en middernag daardie aand.

Volgens Blows was Op’t Hof se huis baie nader aan die Van Breda-huis omdat dit oorkant mekaar is en geen huise tussenin het nie.

Tydens kruisondervraging het die verdediging dit aan Op’t Hof gestel dat die klanke wat sy gehoor het van die Star Trek 2-fliek afkomstig was wat die familie saam gekyk het. Sy het dit ontken en gesê sy is oortuig sy het ʼn bakleiery gehoor en dat daar geen musiek, soos van ʼn fliek, gespeel het nie.

Taljaard het gesê nadat sy haar kinders by die skool gaan aflaai het, het sy geluide buite gehoor en gedink dit is vullisverwyderaars. Sy het glo eers die polisie en ambulanse opgemerk nádat ʼn vriendin haar kom vra het wat buite aan die gang was.

Henri van Breda (22) ontken skuld op die aanklag dat hy sy pa, ma en broer in Januarie 2015 met ʼn byl aangeval en vermoor het en ook op die aanklag van poging tot moord op sy sussie Marli, wat in daardie stadium 16 jaar oud was. Hy voer aan ʼn inbreker, gewapen met ʼn byl en ʼn mes, het sy gesin aangeval. In sy pleitverduideliking het Van Breda aangevoer hy het, toe hy die aanvaller agternagesit het, by die trappe afgeval.

Nadat die aanvaller gevlug het en Van Breda sy meisie vergeefs probeer bel het, het hy glo weer na die boonste verdieping gegaan waar hy sy broer Rudi in die slaapkamer kon hoor. Hy het Marli op die tussenverdieping sien beweeg, maar sy ma het nie beweeg nie.

“Ek het toe my bewussyn verloor. Ek is nie seker of dit as gevolg van skok was of die beserings wat ek opgedoen het toe ek by die trappe afgeval het, of ʼn kombinasie van die twee nie.”

Die forensiese patoloog dr. Marianne Tiemensma, ʼn staatsgetuie, het vroeër tydens die hofverrigtinge Van Breda se weergawe, dat hy sy bewussyn verloor het, bevraagteken.

Van Breda voer aan hy het die nooddienste eers ure ná die aanval gekontak omdat hy bewusteloos was. Toe hy egter later deur ʼn dokter ondersoek is, het hy geen tekens van harsingskudding getoon nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

regtig! ·

Klom Geld en TYD mors op onnodige getuienis wat nikseggend is. Liewe aarde sy sou nie kon hoor met ‘n gebou tussenin nie, sjoe dit is seker maar laaste strooi halms gryp, maar dit is onstellend om te weet soveel geld word verkwis op 1 saak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.