Bylmoorde: ‘Dit was moord met voorbedagte rade’

Henri van Breda in die hof (12 Februarie 2018). Foto: ANA.

Staatsaanklaer Susan Galloway het Maandag aan die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê die omstandigheidsgetuienis teen Henri van Breda is so oorweldigend dat die enigste gevolgtrekking wat moontlik gemaak kan word, is dat hy skuldig is aan die aanklagte teen hom.

Van Breda het skuld ontken op drie aanklagte van moord, een van poging tot moord en een van dwarsboming van die gereg. Hy beweer sy gesin is deur ʼn inbreker in hul huis in die De Zalze-landgoed in Stellenbosch aangeval.

Die staat voer aan Van Breda het sy ouers en broer vermoor, sy suster ernstig beseer en sy geringe wonde self toegedien om dit te laat lyk asof hy ook aangeval is.

Van Breda het uitgeput gelyk toe hy die staat se finale argumente aangehoor het.

Galloway beweer Van Breda se weergawe van wat in die vroeë oggendure van 27 Januarie 2015 plaasgevind het, kan nie “redelik moontlik waar” wees nie.

“Sy weergawe is gefabriseer en moet as vals verwerp word.”

Galloway het tydens slotbetoë gesê die bylaanval op Martin, Teresa, Rudi en Marli van Breda is uitgevoer met die doel om te moor. Sy het gesê die feit dat Marli die aanval oorleef het, is nie ʼn aanduiding van ʼn “minder ernstige aanval nie, maar eerder van ʼn wonderwerk”.

Galloway het gesê Van Breda het die moorde met voorbedagte rade gepleeg. “Hy het homself bewapen – die byl en die mes was op twee verskillende plekke – hy moes daarheen gegaan het om homself te bewapen.”

“Hy kon vir hulle almal gewag het om dood te gaan terwyl hy sy sigarette gerook het.”

Sy het gesê Van Breda se beserings is self toegedien, dat hy met die toneel gelol het en dat hy valse inligting aan die polisie verskaf het.

Volgens haar is die feit dat Marli se bloed nie op Van Breda se kouse, kortbroek of op die byl aangetref is nie “neutrale aspekte”.

Tydens die verhoor het kapt. Marius Joubert, bloedspatselkenner, getuig dat die “afwesigheid van getuienis nie die bewys van afwesigheid” is nie. Volgens hom is dit moontlik om iemand aan te rand sonder ʼn enkele druppel bloed op jou.

Galloway het die teenstrydighede in Van Breda se pleitverduideliking en sy getuienis in die hof benadruk en gesê dit is duidelik dat hy sy weergawe as ʼn nagedagtenis aangepas het.

Sy het gesê Van Breda het ʼn swak indruk gemaak as getuie, het met tye vol selfvertroue gepraat en het met tye ʼn “goed geoefende” weergawe van sy pleitverduideliking oorgedra.

Sy het ook aangedui dat hy, wanneer hy nie iets kon onthou nie, self sy besluite probeer regverdig het. Sy het gesê hy het “selektiewe geheueverlies”.

Verder kon hy nie verduidelik hoekom die aanvaller of aanvallers die Van Breda-huis in die middel van die landgoed gekies het nie, nie waardevolle items gesteel het nie en die gesin met “kapwonde” aangeval het, maar die ooggetuie byna onaangeraak gelaat het nie.

Sy het ook sy getuienis oor die verloor van sy bewustheid in twyfel getrek en gesê hy het sy deuntjie aan die einde van die verhoor na epilepsie verander.

Regter Siraj Desai het dr. Antonel Olckers, vir die verdediging, gekritiseer en daarvan beskuldig dat sy op ʼn “foutvind-missie” is.

Olckers is deur Van Breda se regspan aangestel om die geldigheid van die DNS-bewyse wat die staat voorgehou het te toets.

Volgens Galloway het Olckers net die proses gekritiseer en geen analise van haar eie gedoen nie.

“Ons hou voor dat haar getuienis van geen waarde was nie.”

Desai het saamgestem. Galloway het gesê daar was geen kontaminasie van die bewyse nie en die enigste foute wat gemaak is was net menslike natuur. “Sy het ook nie gesê as gevolg van daardie foute is die resultate foutief nie.”

Die verdediging sal Dinsdag hul slotbetoë rig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alida ·

Knap staatsadvokaat. Nie een van ons weet wat die uitspraak gaan oplewer nie maar dit is duidelik dat 2+2 vier is. Drie keer lewenslank plus nog jare vir aanranding met die doel om ernstig te beseer sal gepas wees. Die kind is duidelik onstabiel agv sy dwelm misbruik. Indien hy skuldig bevind word hoop ek nie sy aansoek om te appèlleer slaag nie. Sy regskostes beloop seker al miljoene.

BEE ·

Sy hare is die perfekte snit nou; hy kort net n Oranje outfit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.