Bylmoorde: DNS op misdaadtoneel betwis

Henri van Breda in die hof (7 Augustus 2017). Foto: Catherine Rice/ANA

Die verdediging se DNS-kenner in die verhoor van die moordbeskuldigde Henri van Breda het Woensdag aan die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê daar was nie genoeg DNS in die 40 monsters wat op die misdaadtoneel geneem is om geldige resultate te lewer nie.

Dr. Antonel Olckers moes haar derde dag van kruisondervraging trotseer in die verhoor van die 22-jarige Van Breda wat tereg staan vir die moorde op sy ouers en broer en ʼn aanklag van poging tot moord op sy suster in die gesin se huis in die De Zalze-landgoed in Stellenbosch in Januarie 2015.

Olckers het aan die hof gesê “daar kan nie ʼn geldige gevolgtrekking uit ʼn ongeldige interpretasie gemaak word nie” en dat dit die geval met die 40 monsters is. Volgens Olckers bevat hierdie monsters nie die minimum hoeveelheid nanogram van DNS-bewyse wat nodige is vir ʼn betroubare uitslag nie.

Van die 216 monsters wat geneem is, het Olckers 151 van die monsters se data ontvang en geanaliseer.

Lt.kol. Sharlene Otto, ʼn staatsgetuie en hoof forensiese analis, het vroeër in die verhoor getuig dat “geen onbekende DNS” op die misdaadtoneel gevind is nie. Sy het ook aan die hof gesê dat die polisie se forensiese laboratorium nie gesukkel het om DNS in enige van die monsters te vind nie.

Olckers het egter aan die hof gesê indien daar nie genoeg DNS is nie, soos in die geval van die 40 monsters wat sy geïdentifiseer het, sal “enige profiel wat jy kry ongeldig wees”. “Dit is verkeerd, dit is ongeldig en dit moet nie gebruik word nie.”

Sy het gesê daar kon nie ʼn vroulike profiel waargeneem word uit die DNS-monsters wat in die stort gevind is nie. Dit is in teenstelling met Otto se getuienis dat ʼn mengsel van die DNS-profiele van die broers Rudi en Henri en hul ma, Teresa, gevind is. Olckers het gesê “die proses in sommige van die monsters is tot die einde deurgevoer, terwyl die proses vroeër gestaak moes word aangesien dit ongeldig was”.

Henri Van Breda by die Wes-Kaapse hooggeregshof (April 2017) Foto: AP Photo, ANA

Adv. Susan Galloway, senior staatsaanklaer, het gesê “om te verhoed dat skuldiges vryloop en onskuldiges tronk toe gaan” sal ʼn mens verwag dat die forensiese wetenskaplaboratorium verder as dit gaan.

Sy het na Otto se getuienis verwys wat dit gestel het dat 0.05 nanogram DNS benodig word om ʼn betroubare resultaat te kry. “Jy wil hê die hof moet die bevinding wat uit hierdie 40 monsters gemaak is ignoreer, maar tog vat jy self daardie foutiewe resultate en maak berekeninge daaruit,” het Galloway gesê.

Olckers het volgehou Otto het net die kwalitatiewe data gebruik en nie die kwantitatiewe data nie. Sy het aan die hof gesê indien sy in die forensiese laboratorium gewerk het, sou sy die proses stopgesit het. Sy het gesê Otto het “stilgebly” oor vreemde pieke wat in ʼn monster gevind is, maar dit kan ʼn aanduiding wees van die teenwoordigheid van ʼn laevlak-profiel.

Galloway het dit egter gestel dat Otto nie oor die vreemde pieke getuig het nie, aangesien hulle “geen gevolge ingehou het nie”. Sy het Olckers daarvan beskuldig dat sy die data manipuleer.

Galloway het aan die hof gesê die vreemde pieke kon gekom het van twee huishulpe of van die eerste mense op die toneel. Olckers het toegegee dat daar nie ʼn verduideliking vir die pieke gegee kan word nie.

Van Breda beweer ʼn inbreker, gewapen met ʼn mes en ʼn byl, wat donker klere, ’n balaklawa en handskoene aangehad het, sit agter die moorde. In sy pleitverduideliking het hy gesê hy het ook kwaai stemme van meer as een persoon êrens in die huis gehoor. Hy het gesê hoewel hy nie spesifieke woorde kon hoor nie, het dit vir hom geklink of die mense Afrikaans praat.

Hy het skuld op al die aanklagte teen hom ontken.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Veritas ·

Ek het ook getwyfel oor die sussie maar sy het by die dood omgedraai en ek twyfel of dit deel van ‘n beplande optrede was.

Coen ·

Maroela nuus islos-hande voor metnuus. Gaan voort met die goeie werk!

Net omdat ·

Net omdat sy sê dit is ongeldig, beteken dit nie dit is die waarheid nie, sy het nog nooit eers in n lab gewerk nie, sy lees net op oor die goed en alle leesstukke is nie noodwendig wetenskaplik reg nie, meeste is opinies en sienswyses op persepsies en elke 2 mense se persepsies kan verskil.

G ·

Hy kon nie spesifieke woorde hoor nie, maar dit het geklink of hul Afrikaans praat? Interessant!

MJ ·

Die enigste manier om die staat se aantuigings te weerlê is om die teendeel te bewys. Henri se regsspan en deskundiges vind net fout met die staat se bewysstukke, maar ek sien nie dat hulle enige bewyse toon dat ‘n derde persoon verantwoordelik is vir die moorde, of dat daar enigsins ‘n ander persoon op die toneel was nie.

Han ·

Al jaag die leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel!

Minora blade ·

MJ ek dink jy is super skerp, ek stem saam, ek weet verdediging hoef nie te bewys, net twyfel skep, maar ongelukkig vir hom is die bewyse so verdoemend. Galloway is ook ‘n Minora blade en sy dink uitstekend goed op haar voete. Tante Olckers jy het darem jou kop diep uitgesteek vir ‘n paar rand, ek kry jou soms jammer, maar as jy jou uitgee vir ‘n toffie moet jy maar soos een gekou word en werklik soos ek jou sien, sal jy nogal slapelose nagte hê omdat jy werklik bereid is om vir ‘n paar rand sover te gaan, teen jou Christelike oortuiging.

O liewe aarde ·

O liewe aarde, die tante doen hierdie goed vir die verkeerde redes, dalk om nooit vergeet te word, die “Case of Henri van Breda” al is dit dan nou ook vir die een wat antwoorde die meeste uitgerek het om dit dra waarde te gee. Galloway is skerp jy kan maar rek.

net omdat ·

Net omdat sy so baie praat beteken nie sy weet waarvan sy praat. Ek hoop Galloway lees hier, sy het Henri van Breda na Henri van der Walt verander, luister maar weer na die dag se getuienis. Hoe wetenskaplik reg kan jy wees as jy al die inligting van die saak waarmee jy besig is voor jou het, die hele grote Henri van Breda sit ook daar en jy verander sy broer se van – van Breda na van der Walt, dan is jy mos deurmekaar, geen wonder jy het nie self die toetse uitgevoer nie. Hoeveel waarde dra haar getuienis, geen wonder almal is al geirriteerd deur haar nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.