Bylmoorde: ‘Geen onbekende DNS op toneel’

Lt.kol. Sharlene Otto, hoof- forensiese ontleder by die polisie se forensiese laboratorium. Foto: Catherine Rice/ANA

Die hoof forensiese analis by die polisie se forensiese laboratorium het aan die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê daar was geen onbekende DNS op die toneel by die Van Breda-huis in die luukse De Zalze-landgoed in Stellenbosch nie.

Die 22-jarige Henri van Breda staan tereg op aanklag dat hy sy pa, ma en ouer broer op 27 Januarie 2015 vermoor het. Sy sussie Marli, wat in daardie stadium 16 jaar oud was, het die aanval oorleef.

Van Breda voer aan die laggende bylmoordenaar het handskoene, ʼn klapmus en donker klere aangehad.

Lt.kol. Sharlene Otto, DNS-kenner, het Maandag gesê geen “onbekende DNS” is in die 216 monsters gevind wat haar laboratorium analiseer het nie. Sy het gesê “elke aanraking laat ʼn spoor agter”.

Henri se naels aan sy linkerhand het ʼn DNS-mengsel van homself, sy ma Teresa en sy broer Rudi bevat.

ʼn Bloedmonster aan die onderkant van die steel van die byl het ook ʼn “mengsel-uitslag” bevat. Otto het gesê Henri se DNS kan in die mengsel gelees word, tesame met DNS van ander persone, maar daar is nie genoeg vir ʼn volledige profiel nie.

Die monster van die kop van die byl bevat ʼn gemengde uitslag van manlike en vroulike DNS van Teresa en Rudi.

Otto het getuie die bloed op die hoek van die stort se vloer is ook ʼn mengsel van DNS-profiele – Rudi, Teresa en Henri.

Die handvatsel van ʼn mes bevat Rudi se DNS.

Sy het gesê Henri se pa, Martin, se vingernaels het ook ʼn gemengde DNS-uitslag opgelewer, maar die enigste volledige profiel wat getrek kon word, is Rudi se DNS.

Sy het gesê hulle analiseer nie gewoonlik meer as 200 monsters nie, maar in hierdie geval “moes daar talle bloedvlekke gewees het”.

“Ons het nie gesukkel om DNS te kry nie. Ek vermoed daar was baie bloed. Ons het nie gesukkel om optimale DNS-uitslae te kry nie. Niks van my DNS-uitslae is ʼn verrassing nie. In al die uitslae het ons verskillende variasies op dieselfde tema gekry. Dit is normaal en word verwag.”

Otto het aan die hof gesê die bloed aan die onderkant van die bylsteel bevat Henri se DNS. “Ons kon nie enigiemand anders buiten Henri in die spesifieke monster identifiseer nie.”

Die verhoor het Maandagoggend hervat ná ʼn twee maande breek.

Regter Desai het op 3 Augustus beslis dat die media die verrigtinge regstreeks mag uitsaai, tensy daar ʼn beswaar is van ʼn spesifieke getuie, die verdediging of die staatsaanklaer. Die staatsaanklaer het beswaar aangeteken teen die regstreekse uitsending van Otto se getuienis, aangesien sy getuig het oor standaard bedryfsprosedures by die polisie se forensiese laboratorium. Senior staatsaanklaer Susan Galloway het gesê die inligting moet vertroulik bly. Regter Desai het die media versoek om nie haar getuienis te verfilm nie.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Domvraag ·

Henri hou vol hy is onskuldig maar as die teendeel bewys word wat dan. Gaan ons dan hoor dat daar versagtende omstandighede is ? Hoe kan daar dan versagtende omstandighede wees sonder berou sonder erkenning dat jy skuldig is as jy tot op die laaste onskuldig pleit?

santie ·

As hy skuldig is aan die wrede moord op sy gesin, moet geregtigheid geskied. Solank hulle net 110% seker van al die feite is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.