Bylmoorde: Geen teken van inbreker, sê polisiekaptein

Henri Van Breda by die Wes-Kaapse hooggeregshof (April 2017) Foto: AP Photo, ANA

ʼn Polisiekaptein van Stellenbosch het Donderdag aan die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê dit het nie gelyk of daar by die Van Breda-gesinshuis ingebreek is nie, aangesien niks gesteel is nie en daar geen tekens van ʼn inbreker was nie.

Kapt. Nicholas Steyn getuig op die 10de dag van die hofsaak van die 22-jarige Henri van Breda wat daarvan beskuldig word dat hy sy pa, ma en broer met ʼn byl vermoor het. Sy sussie Marli, wat in daardie stadium 16 jaar oud was, het die aanval met ernstige beserings oorleef, maar kan glad nie onthou wat op 27 Januarie 2015 gebeur het nie.

Steyn is na die luukse De Zalze-landgoed ontbied ná ʼn berig van ʼn inbraak ontvang is. Die gesinshuis is in die middel van die landgoed, met 24 uur sekuriteit, geleë.

Hy het aan die hof gesê toe hy by die huis aankom, was dit vir hom vreemd dat selfone, skootrekenaars en klein items nie gesteel is nie.

Hy het ʼn aantal foto’s van die misdaadtoneel geneem.

Hy het Henri beskryf as “stil en kalm” toe hy in die ambulans met hom gesels het. Henri het sy weergawe van die gebeure aan hom vertel: terwyl hy in die toilet was, het ʼn inbreker met ʼn byl sy broer aangeval, daarna sy pa toe hy by die kamer ingestorm het, en die aanvaller het hom daarna aangeval. Hy het beweer sy sussie en ma het ook by die kamer ingekom en hulle is ook aangeval.

Henri het aan Steyn verduidelik hy het die aanvaller gekonfronteer en die byl agterna gegooi toe hy by die trappe af gevlug het, maar dit het die muur getref. Die inbreker het daarna uit die agterdeur gevlug en toe Henri terugkeer na sy gesin, het hy sy bewussyn verloor. Hy het beweer hy het noodnommers op Google opgesoek toe hy wakker geword het.

Steyn het aan die hof gesê ʼn “balaklawabende” het in huise in Stellenbosch ingebreek, maar die laaste persoon van dié bende is in November 2014 in hegtenis geneem.

Tydens kruisverhoor deur adv. Pieter Botha, vir Van Breda, het Steyn toegegee dat dit moontlik sou wees dat ʼn inbreker nie enige merk op die muur sou los wanneer hy van die perseel wegvlug nie.

Botha het ook gesê daar was nie enige bloed op Henri se kouse nie, en Steyn het saamgestem.

Die saak is tot Maandag uitgestel. Die staat sal na verwagting volgende week mediese en forensiese getuienis voorhou.

Lees alles oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

humor ·

Verskoon dat ek ook dit waag om speurder te speel. Daar moes dan tog vreemde vingerafdrukke op die byl gewees het. O ja handskoene?????? Dan weet ek nie.

Alida ·

As dit Marli se kerel was hoekom haar dan ook aanval? Dis twak Henri is die skuldige.

Robert ·

Bloed op die kouse?! Het hy kouse aangehad? Het hy dalk ‘n langbroek aangehad! Lyk my daar word eers bietjie speletjies gespeel.
Hy was in die toilet en kon beskryf hoe almal opgetree en aangerand/ vermoor is… Kon dit dus juis hy self gewees het?

Alida ·

Ag daai vent lieg so maar hy het seker geld om die Adv besig te hou vir n lang tyd.

Cherokee ·

In ‘n vorige berig het ek ‘n vraag gevra wat Maroela se sensorrraad nie geplaas het nie.
Die vraag word herhaal – onthou ek verkeerd wanneer ek dink dat daar ‘n verkragtingsklag ook was? Of verwar ek dit met ‘n ander insident? Daar word immers geen woord (meer) daaroor gesprak nie.

Louise ·

Cherokee, jy dink moontlik aan ‘n ander geval waar ‘n seun op ‘n plaas sy ouers en sussie (en dalk ook haar vriend?) vermoor het. Hy was glo in ‘n buitestoor toe die aanval in die huis plaasgevind het. Geen tekens van ‘n aanvaller kon gevind word nie.

SARIE VAN HEERDEN ·

Hier word nou soveel teenstrydighede gepubliseer dat mens nie meer kan byhou nie. Joernaliste het ook ‘n ewige stryd om minder verwarrend te wees en te hou by wat as die waarheid verkondig te word. En dan kom kommentare van die publiek elkeen met sy eie siening. Niemand van ons weet meer hoe om die kaf van die koring te skei nie. Negatiewe kommentaar oor die jongman is dalk totaal verkeerd maar almal speel nou Hoofspeurder en wonder ek of daar selfs nog ‘n hofsaak nodig is en die arme man nie sommer skuldig bevind en gevonnis word nie, ala Maroelalesers.

Louise ·

Hy sê die byl het die muur getref, dan moet daar
‘n merk wees! Hy lieg man!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.