Bylmoorde: Henri byna in trane in getuiebank

Henri van Breda in die hof. Foto: Catherine Rice/ANA

Die hofverrigtinge in die verhoor teen die moordbeskuldigde Henri van Breda moes Donderdag tydelik verdaag nadat Van Breda, wat na aan trane in die getuiebank was, versoek het om sy gesig af te spoel.

Regter Siraj Desai het Van Breda Donderdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof gevra hoekom hy nie enige woede teenoor die aanvaller gevoel het terwyl hy sy pa en broer wreed met ʼn byl aangeval het nie. Volgens Van Breda se weergawe van die gebeure het hy “oorweldig” en “bang” gevoel toe die aanvaller op hom afstorm en het hy nie besef hy is sterker as die aanvaller nie.

“Noudat ek kan terugkyk en helder dink, wens ek ek het kwaad geraak en gereageer.” Hy het aan die hof gesê hy het eers dae ná die voorval kwaad gevoel.

Tydens ʼn hewige woordewisseling tussen Piet Botha vir die verdediging en Desai, het Botha gesê Desai se vrae is onregverdig. Desai het geantwoord: “Ek sal besluit wat regverdig is en wat nie.”

Susan Galloway, senior staatsaanklaer, het weer deur die verskille in Van Breda se oorspronklike verklaring aan die polisie en sy pleitverduideliking gegaan. Sy het Van Breda gevra om op sers. Clinton Malan, ʼn polisiebeampte, te demonstreer presies waar sy [Van Breda se] hande was toe hy met die aanvaller gestoei het.

Van Breda het ook ʼn replika van ʼn houtbyl gebruik om aan die hof te wys hoe hy die byl by die aanvaller afgeneem het en hoe dit gebeur het dat hy wonde aan sy bors en voorarm opgedoen het.

Desai het ook bevraagteken hoekom Van Breda nie die aanvaller wat agter af gegryp en hom aangeval het nie, maar eerder niks gedoen het terwyl sy broer, Rudi, en sy pa, Martin, aangeval is nie. Van Breda het gesê hy was oorweldig.

“So basies sê jy jy het niks gedoen nie, want jy was bang,” het die regter gesê. Van Breda, toe na aan trane, het vir ʼn verdaging gevra sodat hy sy gesig kan afspoel. Ná 15 minute was hy weer terug in die getuiebank en het hy kalmer voorgekom.

“Ek onthou duidelik ʼn stadium toe hy vir my keel gegaan het en ek sy hand afgedruk het,” het hy gesê. “Ek onthou hoe hy vir my bors gegaan het.”

Galloway het gesê dit sal die twee merke op die bokant van Van Breda se bolyf verduidelik, merke wat sy voorheen gesê het was selftoegedien. ʼn Deskundige in forensiese patologie het vroeër aan die hof gesê daar was ʼn “sterk kontras” tussen die wonde wat Van Breda opgedoen het in vergelyking met die res van sy familie.

Dr Marianne Tiemensma het getuig Van Breda se familielede het erge “kapwonde” gehad, terwyl Henri se wonde gering was en net die vel gebreek het, behalwe vir een wond wat effens dieper was. Sy het gesê die wonde is nie met dieselfde mening en krag toegedien nie en hy het geen verdedigingswonde gehad nie.

Die moordwapen en ‘n replika daarvan wat in die hof gebruik is. Foto: ANA

Van Breda (23) ontken skuld op drie aanklagte van moord, een van poging tot moord en een van dwarsboming van die gereg. Hy beweer sy gesin is op 27 Januarie 2015 deur ʼn inbreker in hul huis in die De Zalze-landgoed in Stellenbosch aangeval.

Die staat voer aan Van Breda het sy ouers en broer vermoor en sy geringe wonde self toegedien om dit te laat lyk asof hy ook aangeval is.

Tiemensma het in Mei aan die hof gesê Van Breda se wonde is oppervlakkig, reëlmatig, parallel, stem ooreen in dikte en is op plekke wat deur hom bereikbaar is. “Daar is geen beweging in die wonde nie, hulle is parallel. Hulle stem ooreen in voorkoms. Dit is tipies van wonde wat self toegedien is.”

Galloway het Donderdag bevraagteken hoe Van Breda die aanvaller so maklik kon ontwapen, dieselfde aanvaller wat pas sy pa en sy broer met die byl aangeval en bewegingloos op die vloer gelaat het. Van Breda het gesê hy was “verras” oor hoe maklik hy die byl uit die aanvaller se hande kom neem.

Galloway het daarna gesê hoewel die aanvaller ʼn tweede wapen, die mes, by hom gehad het, kon hy steeds net “oppervlakkige en nie-noodlottige” wonde op Van Breda veroorsaak. “Korrek,” het Van Breda geantwoord.

Galloway het ook beklemtoon Marli, “wat die hardste terugbaklei het”, was nie baie suksesvol om haarself te verdedig nie en is wreed aangeval, maar Van Breda, wat net so groot soos sy aanvaller was, het geen verdedigingswonde opgedoen nie.

“As hulle nie so voorkom nie, dan is dit so,” het hy gesê.

Van Breda sou staande moes wees om die parallelle wonde op te doen, het Galloway gesê. Sy het Van Breda gevra of daar beweging was. Hy het geantwoord ja, maar dat hy nie kan onthou wat hulle met hul voete gedoen het nie.

Van Breda het ook aan die hof gedemonstreer hoe hy die mes uit sy sy getrek het. Dit was ʼn lomp beweging, aangesien hy die byl in dieselfde hand gehou het.

Volgens Van Breda se pleitverduideliking het hy agter sy aanvaller aangehardloop toe hy uit die slaapkamer, wat hy met sy broer gedeel het, gevlug het. Galloway het gesê nadat die res van sy gesin aangeval is, was hy toe “alleen” by die aanvaller, maar kon steeds die “moed” vind om agter hom aan te hardloop.

“Ek het waarskynlik moed gehad omdat hy weggehardloop het,” het Van Breda aan die hof gesê.

Galloway het egter gehamer op sy weergawe dat daar minstens nog een persoon op die onderste vloer was. “Ondanks die feit dat jy nie geweet het hoeveel mense op die onderste vloer is of watter wapens hulle by hulle het nie, het jy die moed gehad om agter die vlugtende man aan te hardloop en hierdie mense uit jou huis uit te jaag.”

Van Breda beweer hy het die byl na sy aanvaller toe gegooi wat by die trappe afgehardloop het. Regter Desai het gevra: “Hoekom het jy nie die byl by jou gehou om jouself te verdedig in geval hulle terugkom nie?”

Van Breda het geantwoord: “Ek moes dit gedoen het.”

Galloway het aan die hof gesê Van Breda het in sy verklaring talle besonderhede uitgelaat wat later in sy pleitverduideliking verskyn het. Van Breda het hierdie weglatings op die polisiebeamptes blameer wat sy oorspronklike verklaring afgeneem het.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Genieve ·

Hy lieg hom vas die kind.Ek glo geregtigheid gaan hier geskied,om jou ouers dood te maak???
Hy weerspreek homself en sy woorde wissel.

Alida ·

Regter Desai sal sonder twyfel die regte vonnis neerle. Hy is nie n pampoen nie.

Mrs. E ·

Wat as die kind die waarheid praat? Hy lyk na n passiewe persoon wat sal vries in konfrontasie.

BB ·

Nee, hy lyk soos ‘n psigopaat. Toon geen emosie op die aand van die aanval (luister na sy oproep na die nooddienste), en toon ook amper geen emosie in die hof. ‘n normale mens wie se gesin deur ‘n byl voor jou dood gekap word, sal NIE so composed wees nie. Waarom nie uit die huis hardloop en skree vir hulp nie? Maar eerder rustig sit en Google vir ‘n noodnommer. Nee wat, hy is siek, en skuldig.

Cherokee ·

Spanning en spraakprobleme ten spyt hanteer hy dit makliker as Pistorius.

Andrea ·

Ek het nou vir die eerste keer ook gewonder of daar dalk n klein, skraal, geringe kans kan wees dat hy onskuldig is?

Cherokee ·

Andrea, Dr Maranne Tiemensma se getuienis dien klaarblyklik as een van meer deurslaggewende feite.

Drikus ·

Dit begin lyk of die arme jongman onskuldig is. Lyk egter nie of hy die regter oortuig nie.

Loretta van Wyk ·

Ek kan nie help om te wonder of hy nie iemand beskerm nie want dit voel vir my daaar kon ‘n 2d e persoon betrokke was. Die goed maak nie vir my sin nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.