Bylmoorde: Henri hoor vandag oor appèlaansoek

Die veroordeelde moordenaar Henri Van Breda (23) sal Maandag uitvind of sy aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis toegestaan sal word.

Regter Siraj Desai, wat die verhoor behartig het, moet nou besluit of daar ʼn redelike vooruitsig is dat ʼn ander hof tot ʼn ander slotsom as sy eie sou kan kom.

Van Breda is in Mei skuldig bevind aan die moord op sy ouers en broer in Januarie 2015. Die 23-jarige is ook skuldig bevind aan ʼn aanklag van poging tot moord op sy suster, Marli, toe 16 jaar oud, wat sedertdien aan geheueverlies ly en dus nie tydens Van Breda se verhoor kon getuig nie.

Van Breda is ook skuldig bevind aan dwarsboming van die gereg nadat hy met die misdaadtoneel gepeuter en vir die polisie vals inligting gegee het. Die aanval in die vroeë oggendure van 27 Januarie 2015 in die gesin se huis op die luukse De Zalze-veiligheidslandgoed buite Stellenbosch het destyds skokgolwe deur die land gestuur. Van Breda beweer een, of moontlik twee indringers het sy gesin vermoor.

Piet Botha, Van Breda se regsverteenwoordiger, het verlede week aangevoer dat Van Breda, ʼn jong persoon, moontlik die res van sy lewe agter tralies gaan deurbring weens net omstandigheidsgetuienis teen hom.

Desai het egter volgehou meeste strafregtelike sake maak op omstandigheidsgetuienis staat. “Daar is selde so ʼn sterk saak teen ʼn beskuldigde soos in dié geval,” het Desai aan Botha gesê.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.