Bylmoorde: Henri ontken krapmerke is deur Marli veroorsaak

Henri van Breda. Foto: Catherine Rice/ANA

Henri van Breda het Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof getuig dat hy nie na sy gesinslede gegaan het nadat hulle aangeval is nie aangesien hy nie gedink het hy kan hulle help nie.

Van Breda het eerder drie sigarette by die kombuistafel gerook in ʼn poging om “kalm” te bly terwyl hy oor die foon met die nooddienste gepraat het. Van Breda (23) het tydens kruisondervraging deur staatsaanklaer adv. Susan Galloway gesê as hy gedink het hy sou sy gesinslede kon help, dan sou hy dit gedoen het.

Volgens Galloway het Janine Philander, ʼn nooddiensoperateur, om 07:12 op 27 Januarie 2015 Van Breda se oproep beantwoord. Van Breda het gesê hy het sy frustrasie onderdruk en gedink daar is tegniese probleme en dit is hoekom die operateur gesukkel het om die presiese ligging van die gesin se huis in die De Zalze-landgoed vas te stel.

Philander het vroeër in die verhoor getuig dat sy gedink het die oproep was ʼn poets en dat Van Breda giggel het. Volgens Van Breda het hy sy bes gedoen om nie gefrustreerd of kwaad te klink nie. “As ek terugdink, moes ek eintlik gewees het,” het hy gesê.

Van Breda het die nooddienste van ʼn landlyn af gebel. Terwyl hulle die huis se ligging probeer vasstel het, het hy sy vriendin vyf keer van sy selfoon af probeer bel. “Hoekom het jy nie jou selfoon gebruik om veiligheidswagte te bel nie?” wou Galloway weet.

Van Breda het gesê hy wou direk met die nooddienste praat en dat hy sy vriendin probeer bel het sodat hy iemand het om mee te praat en aangesien sy destyds sy “enigste vriend” in Suid-Afrika was. Volgens Van Breda het hy aan die noodoperateur gesê sy gesin het kopwonde opgedoen. Toe hy in Australië skoolgegaan het, het hy gehoor dat ʼn ambulans dan onmiddellik ontbied sal word.

Van Breda het gesê hy het nie sy gesinslede probeer troos of help nie aangesien hy ook geleer het “jy kan so meer skade aanrig wanneer iemand nek- of kopbeserings het”. Hy het toegegee dat hy by hulle kon gesit het tydens sy oproep aan die nooddienste.

Galloway het daarop gewys dat Van Breda tydens die oproep gesê het “my familie is aangeval” en nie “ons is aangeval” nie. Van Breda het gesê hy kon die oproep beter hanteer het. “Dit is vir my pynlik om na die oproep te luister aangesien dinge soveel beter kon verloop het.”

Van Breda het vroeër aan die hof verduidelik oor die beserings wat hy opgedoen het. Van die staat se getuies het vroeër aangevoer dit is self toegedien. Hy het getuig hy is nie seker hoe hy die knop aan sy voorkop opgedoen het nie, maar dat dit moontlik gebeur het toe hy van die trappe afgeval het. Hy het ontken dat die krapmerke op sy rug veroorsaak is deur die skerp kante van die deuropening in die kamer waar hy en Rudi geslaap het of tydens ʼn struweling met sy suster, Marli.

Volgens Van Breda het hy glad nie aan die toneel gepeuter nie. “Jy is bewus dat forensiese kenners vir die staat geen onbekende voet- of skoenafdrukke, vingerafdrukke of DNS gevind het nie. Jou pa en Rudi se DNS is op jou broek gevind en jou ma se DNS op jou sokkies,” het Galloway gesê.

Van Breda en Rudi se DNS is in die stort gevind. Hy het egter die staat se bewering dat hy bloed in die stort weggewas het, ontken. Volgens Van Breda het hy en sy broer in die stort geskeer en kan dit die rede wees hoekom daar bloed gevind is.

Galloway het gesê Van Breda beweer hy kon daarin slaag om die byl by die aanvaller af te neem. “Toe jy dit agter die aanvaller aangegooi het, was daar genoeg bloed om ʼn spoor op die muur agter te laat. Maar toe jy die aanvaller ontwapen het en in ʼn struweling betrokke was, het daar glad nie bloed op jou gespat nie.”

Galloway het Van Breda gevra om te verduidelik hoekom die onderkante van sy sokkies amper heeltemal skoon was. “Wat is die probleem daarmee?” wou Van Breda weet voor hy gesê het dat hy nie in bloed getrap het nie.

Die mes wat gedeeltelik onder Rudi se bed gevind is, kon volgens Van Breda daar beland het nadat hy dit laat val het tydens sy struweling met die aanvaller. Hy het gesê dis ook moontlik dat Rudi dit onder die bed ingestoot het toe hy rondbeweeg het.

Galloway wou by Van Breda weet hoe dit moontlik is dat bloed van sy pa en broer op sy broek gevind is, wanneer hy volgens sy weergawe agter die aanvaller gestaan het en die aanvallers dus tussen hom en sy pa en broer was.

“Hy was nie noodwendig tussen my en die bron van die bloed nie,” het Van Breda geantwoord. Volgens hom kan sy ma se bloed wat op een van die toongedeeltes van sy regtersokkie gevind is, verklaar word deur ʼn plas bloed aan die onderkant van die stel trappe waarin hy getrap het om by sy sigarette uit te kom.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

cc ·

Alhoewel ek voel dat Henry skuldig kan wees dink ek Philander was ook maar uiters onproffesioneel tydens die oproep. Iets wat wel aan my knaag is..Marlie se geheueverlies..kan sy nie net ten minste getuig..wat sy ook al onthou? Dit voel so of sy moontlikverontskuldig word.

mp ·

Die mannetjie is Net te kalm….. en sy antwoorde NET te presies!!!!!

Eish ·

Presies soos ek ook voel. Ek is oortuig hy het homself instudeer in die situasie en alle moontlike vrae ingeoefen.

SjN ·

Sekere goed kan baie goed onthou word en swaar vrae nie, mag die waarheid uitkom

SARIE VAN HEERDEN ·

Dis vir ons wat nie in die beskuldigdebank staan en aanmekaar gepeper word met vrae om te kan dink Van Breda steek iets weg. As mense so aanmekaar vir my dieselfde vrae vra sal ek naderhand so deurmekaar wees dat ek enigiets sal antwoord. En dat hy kalm is sal ek nie gebruik as ‘n teken dat hy skuldig is nie want elke mens hanteer stres anders as die ander. Toe rowers pistole teen my en my man se koppe druk was ons doodkalm en het nie ‘n geluid gemaak nie.

Susan ·

Sarie, dit is heeltemal reg om kalm te bly terwyl die inbrekers daar is, maar as jy alles in perspektief plaas, hoe kalm was jy toe jy byna onmiddelik die nooddienste, polisie ens geskakel het. Ek sê nie almal word histeries na die aanvallers weg is nienie, maar jy het nie die nooddienste kalm geskakel nie of eers jou sigarette of koffie gemaak of wat ook al gedoen om hulp te kry toe die mense uit jou huis is nie.

tish ·

Sal n leunverkikker toets nie help met die te slim mannetjie nie.
net te slim en n antwoord vir alles.
nee wat mos net almal se tyd

Ekke ·

Moontlik sigarette gerook terwyl wonde toegedien is…..om moed te kry!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.