Bylmoorde: ‘Henri se getuienis moet dáárom nie uitgesaai word nie’

Henri van Breda in die hof. Foto: ANA/Catherine Rice

Die 22-jarige Henri van Breda het senuweeagtig voorgekom toe hofverrigtinge Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof begin het.

Adv. Piet Botha, vir die verdediging, het aan die hof gesê dat hy nie nog mense as getuies sal oproep nie, maar dat sy kliënt graag wil getuig.

Botha het versoek dat regter Siraj Desai gelas dat Van Breda se getuienis nie regstreeks uitgesaai mag word nie.

“My kliënt ly aan ʼn spraakprobleem. Hy hakkel meer wanneer hy onder druk verkeer. Hy het ook ʼn geneigdheid om te mompel – dit is deel van die spraakprobleem. Ons is bekommerd oor die regstreekse uitsending omdat dit vir hom ʼn stresvolle tyd in die getuiebank sal wees,” het Botha gesê.

Volgens Botha het Van Breda dit “redelik onder beheer”, maar het die hof gevra om dit in ag te neem wanneer hulle sy houding evalueer.

Desai het die hof vir ʼn halfuur verdaag omdat dit volgens hom ʼn vreemde versoek is en hy tyd nodig het om dit te oorweeg voor hy uitspraak lewer.

Ná die verdaging het regter Desai egter gesê hy het nog meer tyd nodig om daaroor te dink omdat dit ʼn unieke situasie is met geen bestaande regspraak nie.

Botha het gesê hy is bekommerd oor Van Breda se liggaamshouding in die getuiebank en dat dit moontlik ʼn negatiewe impak op die hof se evaluering van sy geloofwaardigheid sal hê. “Hy word deur die breër publiek aanskou en mag dalk begin mompel of hakkel.”

Desai het gesê dit sal in ag geneem word deur die hof en dat sy spraakprobleem nie teen hom gehou sal word nie. Hy het bygevoeg die grootste gedeelte van die verhoor is regstreeks uitgesaai en dat dit nie ʼn invloed op die verrigtinge gehad het nie.

Botha het gesê sy kliënt is baie bewus van die mediadekking van die saak en dat duisende foto’s al van hom geneem is. Desai het geglimlag en gesê: “Dit is die prys van demokrasie.”

Van Breda beweer ʼn inbreker, gewapen met ʼn mes en ʼn byl, het sy ma, Teresa, sy pa, Martin, en sy broer, Rudi, aangeval en vermoor. Sy suster, Marli, is ook aangeval en het ernstige breinbeserings in die aanval opgedoen. Sy het sedertdien teruggekeer skool toe, maar ly aan geheueverlies en kan glad nie die gebeure van die tragiese aand onthou nie.

Van Breda staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord en dwarsboming van die gereg. Hy het skuld ontken op die aanklagte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.