Bylmoorde: Henri was dalk nie bewusteloos nie

Neurochirurg dr Michael du Trevou. Foto: Catherine Rice/ANA

Die moontlikheid dat die 22-jarige Henri van Breda slegs gemaak het of hy twee en ʼn half ure lank sy bewussyn verloor het ná sy gesin met ʼn byl aangeval is by hul huis in Stellenbosch, kan nie uitgesluit word nie, het die Wes-Kaapse hooggeregshof Maandag gehoor.

Neurochirurg dr. Michael du Trevou, vir die verdediging, het getuig dit is “onmoontlik om uit te sluit” dat die beskuldigde net gemaak het of hy siek was. Hy het gesê “post-traumatiese geheueverlies is waarskynlik”, maar ʼn verlies van bewussyn is onwaarskynlik.

“Hierdie tipe geheueverlies word met fisiese besering verbind. Daar is ʼn steurnis in die brein wat tot geheueverlies lei.”

Van Breda ontken skuld op die aanklag dat hy sy pa, ma en broer in Januarie 2015 met ʼn byl aangeval en vermoor het en op die aanklag van poging tot moord op sy sussie Marli, wat in daardie stadium 16 jaar oud was. Hy voer aan ʼn inbreker, gewapen met ʼn byl en ʼn mes, het sy gesin aangeval. In sy pleitverduideliking het Van Breda aangevoer hy het, toe hy die aanvaller agternagesit het, by die trappe afgeval.

Nadat die aanvaller gevlug het, en Van Breda sy meisie tevergeefs probeer bel het, het hy glo weer na die boonste verdieping gegaan waar hy sy broer Rudi in die slaapkamer kon hoor. Hy het Marli op die tussenverdieping sien beweeg, maar sy ma het nie beweeg nie.

“Ek het toe my bewussyn verloor. Ek is nie seker of dit as gevolg van skok was of die beserings wat ek opgedoen het toe ek by die trappe afgeval het, of ʼn kombinasie van die twee nie.”

Die forensiese patoloog dr. Marianne Tiemensma, staatsgetuie, het vroeër tydens die hofverrigtinge Van Breda se weergawe, dat hy sy bewussyn verloor het, bevraagteken.

Van Breda voer aan hy het die nooddienste eers ure ná die aanval gekontak omdat hy bewusteloos was. Toe hy egter later deur ʼn dokter ondersoek is, het hy geen tekens van harsingskudding getoon nie.

Tiemensma sê hy sou tussen 900 ml en ʼn liter bloed moes verloor het om sy bewussyn te verloor.

Henri van Breda Foto: Catherine Rice/ANA

Harsingskudding sou ook net daartoe gelei het dat hy ʼn paar sekondes tot ʼn minuut lank sy bewussyn verloor het. Só ʼn lang tydperk van bewusteloosheid sou gedui het op ʼn ernstige breinbesering. Du Trevou het egter Maandag gesê dit is nie korrek nie. “In gevalle waar ʼn pasiënt ná die tyd sy bewussyn herwin, het hulle nie noodwendig ʼn breinbesering opgedoen nie.”

Tiemensma het ook getuig indien Van Breda sy bewussyn as gevolg van emosionele skok verloor het, dit ook nie vir langer as ʼn minuut sou duur nie. Du Trevou het ook gesê indien Van Breda sy bewussyn verloor het as gevolg van ʼn floute, dan sou dit nie so lank geduur het nie – “tensy hy geval en sy kop gestamp het”.

Hy het getuig hy het aangeneem Van Breda het sy kop gestamp, en dit het tot die kneusplek aan die linkerkant van sy voorkop gelei, en dit kan ʼn “geringe breinbesering” veroorsaak het. Hy het ook aan die hof gesê ʼn MRI-skandering wat gedoen is, was “normaal, buiten vir twee geringe aangebore afwykings”, wat volgens hom nie ʼn rol sou speel nie.

Du Trevou het in sy verslag gesê dit is nie moontlik om te bepaal of die beskuldigde sy bewussyn verloor het, en of hy net nie kan onthou wat gebeur het nie.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

karen ·

hoekom wil die jongman nie self getuig? kan dit wees dat hy sy eie storie nie so lekker kan glo en herhaal ? Sies tog poor little rich boy …..

Engela de Klerk ·

My man is ‘n BAIE dapper mens en sal sy lewe vir jou neerlê. Moet net nie dat hy bloed sien vloei nie en hy kap om. Dis die geval vir heelwat mans en dit kon waarskynlik die geval hier gewees het. Soveel bloedverlies dat die knaap uiteindelik uitgepass het. Terloops, ek glo hy is 100% die skuldige, van dag een af.

Lientjie ·

Dan is hy verseker ook nie vir meer as 4 ure bewusteloos nie.

O jinne ·

O jinne Engela dit wat jou man het en wat heir gebeur het is 2 groot verskille……. jou man val flou en na ‘n minuut of wat is hy weer ok. Die man het al die goed aanskou en deur dit gewandel en gewandel en planne gemaak en probeer bel en toe flou, nee geen ooreenkoms, ek stem saam met al die ander wat sê, vat die stand, want jy speel vir tyd. Jy laat goeie eerbare mense vir geld ‘n klomp nonsens in die hof gorrel.

Marlene ·

Die “bylman” moet nou maar gaan sit. Gooi sommer die sleutel ook weg. Of vergeet waar dit gebêre is.

Priscilla ·

En toe hy bykom en die lyke en bloed sien het hy nie gedink om hulp by die bure te soek nie?? ….,..hy kon darem sy meisie se telefoon nommer onthou …,,,

Cor ·

En so probeer die verdediging diesaak in n ander rigting stuur deur tydelike geheue verlies as n moontlikheid by die agterdeur in te bring. Die jongman het nou waarskynlik tydelike permanente selektiewe geheue verlies en kan net seker goed onthou, soos die gemaskerde bylman en net sy meisie se foon nr. Ek is maar n leek op die gebied maar ek kan logika gebruik en sien seker dinge ruim nie.

Juanita ·

Hy het ook seker die tyd dopgehou om te weet hoe lank hy bewiste loos was.

Hahahehehiehie tjietjie ·

Jy is super skerp! Hehehe ek dink ook so! 05h10 nee ek moet oë toemaak en nog bietjie bewusteloos wees of geheuverlies hê!

honourable member ·

Die man is so skuldig, hy is bang hy lieg hom vas. Duidelik geen gewete oor wat hy gedoen het. Hy try nou elke trick in die boek om los te kom

H ·

Wat ek ook net nie verstaan nie, hy het sy meisie tevergeefs probeer bel, hoekom? Ek sal eers die ambulans en polisie bel. Dis tog egter hulle wat my gesin moet kom help. Of is sy meisie dalk beter toegerus om sy sterwende familie te red.
Hy moet nou maar opgee en erken dit was hy. Maar ek dink nog steeds hy het dit nie alleen gedoen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.