Bylmoorde: Henri wys hoe byl gebruik is

Henri van Breda. Foto: ANA

Henri van Breda is Woensdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof se getuiebank gepols toe die staat probeer bewys het hy het die tydlyn van gebeure van die aand waarin drie van sy gesinslede vermoor is, aangepas.

Susan Galloway, staatsaanklaer, het gesê sy glo hy het sy tydlyn van gebeure aangepas om met ʼn vorige staatsgetuie sʼn ooreen te stem.

Stephanie Op’t Hof, ʼn buurvrou van die Van Breda-gesin, het aan die hof gesê sy het die aand van 26 Januarie rondom 22:00 mansstemme gehoor wat rusie maak. Henri het dit toegeskryf aan die Star Trek 2-fliek wat die gesin gekyk het.

Volgens sy polisieverklaring het hulle die fliek na aandete gekyk wat omtrent 20:00 sou wees. Hy het egter Woensdag aan die hof vertel sy pa het eers na ete op sy skootrekenaar gewerk en dat hulle eers omtrent 22:00 die fliek begin kyk het.

Hy blameer die teenstellings in sy polisieverklaring en sy pleitverduidelik op kol. Deon Beneke wat glo sy antwoorde verkeerd neergeskryf het en ook op “vertalingsfoute”. Regter Siraj Desai het Henri egter vinnig daarop gewys dat sy verklaring in Engels afgeneem is en nooit vertaal is nie.

Galloway het dit aan Van Breda gestel dat sy beskrywing van die indringer in sy aanvanklike polisieverklaring stereotipies en vaag was. Hy het glo ʼn swart man wat ʼn tuisgemaakte klapmus en donker klere gedra het beskryf.

Van Breda het gesê dit kon ʼn donker óf gekleurde man gewees het. Hy het aangevoer omdat hy die meeste van sy lewe in Australië deurgebring het, is hy nie gewoond aan die verskil tussen die twee nie.

“In Australië gebruik ons nie die woord ‘kleurling’ nie. Toe ek gesê het ‘swart’, moes dit miskien ‘kleurling’ gewees het.”

Volgens hom het hy twee stemme gehoor, maar slegs een aanvaller in die slaapkamer wat hy met sy broer gedeel het gesien.

Hy het aan die hof vertel dat die aanvaller spesifiek vir Rudi geteiken het. Hy voer aan hy het uit die badkamer gekom en in die hoek gestaan en om hulp geroep. Sy pa het in die kamer ingestorm en die lig aangeskakel en toe het die aanvaller hom ook aangeval. Henri het gesê ná die aanvaller sy pa aangeval het, het die aanvaller gelag.

Regter Desai het hier gevra of dit geklink het asof die aanvaller geniet wat hy doen. “Dit wil so voorkom, ja,” het Henri gesê.

Henri het toegegee dat die aanvaller nie gepla was met sy teenwoordigheid nie, en ook nie van stryk gebring is deur sy hulpkrete nie.

Henri het verder laat hoor dat toe sy ma na die kamer gehardloop gekom het en gevra het wat aangaan, die aanvaller na haar toe beweeg het. Galloway het dit aan Van Breda gestel dat dit vreemd is dat die aanvaller nie vir Henri aangeval het nie. “Hy los jou, ʼn man, agter hom en val ʼn vrou buite die kamer aan terwyl hy bewus is van jou in die kamer?”

Van Breda het Woensdag 23 jaar oud geword en opsigtelik op sy senuwees voorgekom, veral toe hy gevra is om die bewegings van die aanvaller na te maak. Regter Desai het in ʼn stadium vir hom water aangebied.

Die staat het ʼn replika van ʼn houtbyl aan Van Breda gegee sodat hy aan die hof kan wys hoe die swaaibewegings gelyk het wat die aanvaller gebruik het toe hy sy broer en pa aangeval het.

Van Breda staan tereg op drie aanklagte van moord vir die moorde op sy ma, Teresa, sy pa, Martin, en sy broer, Rudi. Hy word ook aangekla van poging tot moord op sy suster, Marli. Hy het skuld op al die aanklagte teen hom ontken.

Marli is ook daardie aand aangeval en het ernstige breinbeserings in die aanval opgedoen. Sy het sedertdien teruggekeer skool toe, maar ly aan geheueverlies en kan glad nie die gebeure van die tragiese aand onthou nie.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

neels ·

Hier die klink vir my al te veel na n gedeelte uit die Starwars 2 movie te goed om waar te wees , alles fiksie.

Adelle ·

Ek weet nie of ek dit glo dat Marli nogsteeds niks kan onthou nie. Maar miskien is die sentrum van haar brein beseer in die aanval? Ek wonder net oor hierdie kind (Henri) se apatiese houding. Of dalk is dit omdat daar al soveel tyd verby is? Vrae, vrae, vrae….

Ivy ·

Klink soos n demoniese gewete of iets…. dit maak net glad nie sin dat hy niks oor gekom het nie. Die “lag” waarvan hy praat laat my terug dink aan die telefoniese gesprek met die polisie waar hy gegiggel het toe hy verduidelik het dat sy familie in die kop gekap is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.