Bylmoorde: Hof hoor ‘hond sou nie blaf nie’

Henri van Breda in die hof. Foto: Catherine Rice/ANA

Henri van Breda het Donderdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof getuig die gesin se hond, Sasha, sou nie vir inbrekers geblaf het nie.

Van Breda het tydens kruisondervraging aan die hof gesê Sasha was “die teenoorgestelde van ʼn waghond” en het nie vir vreemde geluide geblaf nie. Susan Galloway, senior staatsaanklaer, het dit egter aan die hof gestel dat volgens bewyse wat vroeër in die verhoor gehoor is, Sasha wel vir Precious Munyongani, die Van Breda’s se huishulp, geblaf het wanneer sy by die huis in die De Zalze-landgoed in Stellenbosch aangekom het.

Van Breda het verduidelik dit is omdat Munyongani met haar gespeel het en dat Sasha vir geluide geblaf het “wat vir haar opwindend was”. Hy het gesê hy kan nie onthou dat die hond geblaf het die aand toe minstens een inbreker die huis betree en sy ouers en ouer broer vermoor en sy jonger suster, Marli, erg met ʼn byl aangeval het nie.

Volgens Van Breda se weergawe van die gebeure het hy sy bewussyn verloor, maar hy sê hy kan nie onthou dat die hond voor dit geblaf het nie.

Van Breda ontken skuld op drie aanklagte van moord, een van poging tot moord en een van dwarsboming van die gereg. Hy beweer sy drie gesinslede is op 27 Januarie 2015 vermoor deur ʼn inbreker met ʼn byl en mes. Marli, toe 16 jaar oud, het die aanval oorleef, maar ly aan geheueverlies en kan niks van die aand onthou nie.

Die staat beweer Van Breda het die aanval uitgevoer en sy eie geringe wonde self toegedien om dit te laat lyk asof hy ook ʼn slagoffer van die aanval was.

Galloway het Donderdag gesê sy vind dit vreemd dat, indien daar meer as een aanvaller was soos in Van Breda se pleitverduideliking beweer word, net een na die boonste verdieping van die huis, waar die gesin geslaap het, gegaan het. Sy het gevra: “Het die aanvaller in geen stadium om hulp geroep nie?”

“Nee,” het Van Breda geantwoord. Dit is ondanks die feit dat Martin van Breda glo in sy seuns se slaapkamer ingestorm het toe Rudi aangeval is.

Die huis in die De Zalze-landgoed buite Stellenbosch waar lede van die Van Breda-gesin op 26 Januarie 2015 met ‘n byl vermoor is (Foto: Maroela Media)

Galloway het dit aan Van Breda gestel dat ander inbrekers die huis sou leeg gedra het, maar tog is niks tydens hierdie inbraak gesteel nie. “Is dit nie vreemd dat hulle deur al die moeite sal gaan om in julle huis in te kom, jou gesin dood te maak – behalwe vir jou – en dan nie ʼn enkele ding roof nie, nie eens ʼn selfoon of jou ma se handsak nie?”

Van Breda het saamgestem dit is vreemd, tensy hy die inbrekers “onderbreek het”.

Galloway het dit aan die hof gestel dat polisiebeamptes wat op die toneel was meen die huis was “baie netjies” en dat dit nie gelyk het of daar ingebreek is nie. Sy het gesê kapt. Nicholas Steyn is na die huis ontbied vanweë van Breda se beskrywing van ʼn inbreker met ʼn balaklawa. Steyn het die balaklawa-bende ondersoek wat in dié tyd agter ʼn vlaag huisbrake in die gebied was.

Hy het vroeër in die verhoor getuig daar was geen tekens van gedwonge toegang by die Van Breda-huis nie en die huis is ook nie omgekeer soos met die meeste huisbrake nie.

Galloway het gesê hoewel ʼn kas en laaie in Martin se studeerkamer oop was, was dit nie deurmekaar nie. “Dit het ook nie gelyk of iemand deur die laai gekrap het nie.”

Van Breda het aan die hof gesê nadat die inbrekers van die huis gevlug het, het hy nie deur die huis gegaan om te kyk of almal weg is nie. Toe hy gevra is of hy nie bang was dat hulle nog daar kon wees nie, het hy geantwoord: “Nee, ek was besig om van erge trauma te herstel.”

Die verhoor het verdaag tot Maandag.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Herman ·

Uitgerekte storie – nes Oscar – geld en media sensasie – alles wys lankal op hom, ai tog..

tish ·

Geregtigheid sal wel see vier. moeg om na al sy verskonings te luister

Pop ·

Ek het een hond wat so opgewonde raak as daar iemand kom wat sy ken dat sy in die rondte spin en blaf soos n mal ding. As daar gevaar is of vreemdes kom gaan kruip sy in die motorhuis weg. Henry jy gaan skuldig gevind word vir n ding wat jy dalk nie gedoen het nie. Ek kry die seun so jammer. Hy ly aan erge senuwee aandoenings as ek so kyk na die storie.

Leahim ·

Ek volg hierdie saak nou al n geruime tyd en sou van Breda skuldig wees is daar n erstige sielkundige probleem met hom niemand by sy volle verstand kan so ongenaakbaar wees nie.

Skerpioen ·

Ek wonder net. Toe sy broer en pa aangeval word wat hy te bang om hulle te help… maar hy was n rukkie later nie bang dat daar ‘n inbreker agter gebly het in die huis nie… Ek verstaan nie so lekker nie.

Denise ·

Die saak raak nou vervelig iemand het hulle vermoor en net hy sal weet want hy was daar ?????

neels ·

Ek moet se die jongman het goeie regsverteenwoordigers. Lyk my hulle het baie tyd spandeer met na uur se klasse op n vraag en antwoord sessie en dan moes hulle ook nog spraak en drama opleiding gee. Die wat dit so lank gevat het voordat hy kom getuig het.

A Mac ·

Geen persoon wat vermoedelik ‘n moord gepleeg het sal opstaan en sê “Ek is skuldig, ek het die moord gepleeg”. Daar was al duisende wat dit voor Henri gedoen het en daar sal duisende na hom kom met allerhande verdedigingsverskonings. Maar mens kan dink wat jy wil maar nie sê wat jy wil nie. Henri, vir my maak die hele storie wat voorgelê is vir jou verdediging geen sin met die bewyse op die toneel. Vir jou hoop ek niks, net vir waarheid en geregtigheid vir die slagoffers.

Petro ·

Een of ander tyd gaan hierdie boetjie hom self vas lieg. En geen normale mens kan so kalm en rustig bly soos hy nie…Wat is fout met hom?

Mary Sadler ·

Wat maak dit saak of Van Breda dit vreemd sou vind dat niks gesteel is nie? Regsmense moenie sulke simpel vrae stel nie, dit laat mens twyfel aan hoe sterk hul saak is.

Karel ·

As ek vorige berigte reg onthou het hy dan na die moorde sy vriendin gebel en gesê hy het dit gedoen. Wat het nou van haar getuienis geword?

marianne ·

Henri jy is skuldig jou houding, persona, ongevoeligheid en kyk in jou oë spree basies, probeernmy uitvang. Nes Don Steenkamp en Oscar Pistorius is jy skuldig aan voorafbeplande moord. Jy is ‘n klad op die Afrikaner naam en ‘n skande vir die samelewing.
Mom uit met die waarheid of het jy hit hulle sake opleiding ontvang?

Alida ·

Baie voor hom het hulself tot binne in die tronk in gelieg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.