Bylmoorde: Hof hoor oor elektriese omheining

Charl Rabie, eienaar van Energized Fencing. Foto: Catherine Rice/ANA

ʼn Getuie vir die verdediging in die moordverhoor van die 22-jarige Henri van Breda, het Dinsdag aan die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê jy hoef nie ʼn deskundige te wees om oor ʼn elektriese omheining te kom nie.

Charl Rabie, eienaar van Energized Fencing, het getuig dat die maklikste manier sou wees om ʼn leer te gebruik om oor die heining te kom. Hy het aan die hof gesê daar bestaan ʼn wanpersepsie dat indien jy ʼn elektriese omheining om jou eiendom het, is jy heeltemal veilig, maar dit is nie die geval nie.

Volgens Rabie kan hy insien dat dit moontlik is om verby die elektriese omheining te kom wat om die De Zalze-veiligheidslandgoed in Stellenbosch, waar die Van Breda-gesin gewoon het, aangebring is. “Indien ʼn persoon toegang wil verkry, moet hy net seker maak die aard- en die lewendige draad maak nie vir langer as drie sekondes kontak nie,” het hy gesê.

Susan Galloway, senior staatsaanklaer, het egter aan die hof beklemtoon dat Rabie se maatskappy nie die landgoed se elektriese omheining aangebring of onderhou het nie. Twee veiligheidsbeamptes wat vroeër in die verhoor getuig het, het ook getuig dat die elektriese omheining die aand van die bylmoorde getoets was en dat dit in ʼn werkende toestand was.

ʼn Bok is op beeldmateriaal naby die heining gesien, maar daar was niks vreemd of ongewoon daaraan nie, het Galloway gesê.

Vroeër Dinsdag het ʼn voormalige buurvrou van die Van Breda-gesin getuig sy het geen geluide uit die huis hoor kom die aand van 26 Januarie 2016 nie. Annelize Taljaard, ook ʼn getuie vir die verdediging, het getuig sy is ʼn ligte slaper, maar sy het nie daardie aand wakker geword nie. Sy het gesê klank trek ver op die landgoed en sy sou beslis gehoor het indien mense gelag of ʼn partytjie gehou het.

Sy het egter nie harde houe, hulpkrete, ʼn aanvaller wat lag of Teresa Van Breda se stem gehoor nie.

Annelize Taljaard. Foto: Catherine Rice/ANA

Megan Blows, staatsaanklaer, het gesê hierdie was Henri se bewerings in sy pleitverduideliking, ʼn “ongetoetste weergawe” van wat daardie aand gebeur het.

Stephanie Op’t Hof, nog een van die bure, het vroeër in die verhoor getuig sy het daardie aand harde mansstemme gehoor wat tussen 22:00 en middernag rusie gemaak het. Sy het gesê haar huis was baie nader aan die Van Breda’s se huis as Taljaard sʼn, omdat dit reg oorkant mekaar was met geen ander geboue tussenin nie.

Van Breda beweer ʼn inbreker, gewapen met ʼn mes en ʼn byl, het sy ma, Teresa, pa, Martin, en broer, Rudi aangeval en vermoor. Sy suster, Marli, is ook aangeval en het ernstige breinbeserings in die aanval opgedoen. Sy het sedertdien teruggekeer skool toe, maar ly aan geheueverlies en kan geen van die gebeure van die tragiese aand onthou nie.

Van Breda beweer sy gesin het reeds gaan slaap toe hy badkamer toe gegaan en harde kapgeluide gehoor het. Hy beweer hy het die deur oopgemaak en ʼn persoon in die donker gesien wat Rudi met ʼn byl aangeval het. “Ek het om hulp geskree en gehoop iemand sal hoor.”

Hy beweer verder sy pa het in die kamer ingekom en na die aanvaller gegryp. “Die aanvaller het gelag. Ek het toe my ma se stem gehoor wat vra, ‘Wat gaan aan?’.”

Taljaard beweer sy het niks van die bogenoemde gehoor nie.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Corne Barnard ·

Mnr Rabie……sjoe ek sal verseker nooit jou firma gebruik of aanbeveel nie. Ek verstaan nie hoekom jy lag nie….dit is so tragies dat n mens huil as jy alles lees. Dit is soos n legkaart! Hoekom stuur hul nie vir Van Breda vir n leun verklikker toets nie.

Tanya Kruger ·

‘n Poligraaf toets mag nie in die Hof gebruik word nie.

Sputnik ·

Wel, wel, Mnr Rabie stel net die feite eerlik. Dit geld beslis nie net vir die heinings wat sy maatskappy verskaf nie. Waarom dan weier om sy produk te gebruik? Of is dit om hom te straf omdat hy glimlag. Vir hom (en vir ons ander) gaan die lewe voort. Hy hoef nie te rou nie.

tish ·

al die vervelige ou stories oor wie wat sou doen en gehoor het.
tyd dat die klein leunnaar toegesluit word.
hy speel met tyd
eendag sal hy rekenskap moet gee voor die Vader dan is daar nie omdraai tyd nie

Verstom ·

Hierdie perd en sy regspan is besig om ons belastingbetalers se geld te mors.

Dis ‘n totale verkwisting van tyd en ‘n gespeel met woorde.

Ek stem 100% ·

Ek stem 100% saam, dink die man hy is by ‘n dress up party, ons speel hof hof. Almal moet kennis neem om liewer nie sy maatskappy te gebruik nie. Verder sal die leer of sy merke darem daar moes wees as hulle oor die heining gegaan het, dit was nie. Laaste strooihalms gryp en probeer, dit is nie hoe lank jy nonsens praat wat jou gaan loskry nie, dit is harde feitelike bewyse. Dan op die ander hand, om so te getuig bring lekker aandag as jy graag onthou wil word en dit is gratis advertensie vir jou heining besigheid.

Kiepie ·

Wag, ek verstaan nou nie mooi nie. Mev Taljaar is ‘n getuie vir die verdediging maar sy sê sy het geen hulp krete gehoor nie terwyl van Breda sê hy het om hulp geskree toe hy die aanvallers sien? Klink vir my of sy hom van die wal in die sloot help en asof iemand in sy regsspan nie hulle werk gedoen het nie.

Minora blade ·

Jy is so skerp soos ‘n Minora blade, jip is super cool met ondersteuning vir die verdediging en oops van die wal in die sloot.

Justice ·

Ek stem saam met jou Kiepie – so kom die waarheid uiteindelik uit. Die laggende byl aanvaller is vir my ook `n raaisel – waaroor sou hy wou lag?

Daai smirk laggie ·

Ek kan nie help om my te vererg vir daai smirk laggie, lyk of die hele ding ‘n pret parkie oomblik vir die klomp betrokke besorg, kyk maar wie lag laaste, nie die aanvaller (die het mos ook so gegrynslag) en ook nie die wat van die hof ‘n bespotting probeer maak nie.

LB ·

Kom aan mense, nie ek of jy weet wanneer hierdie foto geneem is nie en heel waarskynlik was die hof nie eers in sitting op daardie stadium toe sie foto geneem is nie en ‘n normale gesprek lyk nou soos gedurende die man se getuienis?? Ek stem met hom saam, die boewe beweeg oor elektriese heinings asof daar niks voor is nie, hier by ons het hul al ‘n paar keer so ingekom sonder om die drade te knip en probeer gerus ‘n boef jaag wat ingebreek het, hulle spring van erf na erf asof daar geen elketriese drade is nie. Voel dus gerus meer waaksaam agter jou elektriese heining, dit is slegs ‘n klein hindernis.

Daai smirk laggie ·

Regtig dit maak nie saak wanneer dit geneem is nie, die hof is nie ‘n tee partytjie en dan nog by ‘n trippel moordsaak en 1 poging tot moord. As jy reg is het hy homself lekker in die voet geskiet, wie gaan nou elektriese heinings by hom koop. Saam met die skokfeit dat dit nie veiliger is nie, kom ook nog die feit dat hy saam met die skelm/skurk / beskuldigde sal staan, beslis nie vir beveiliging van kliente nie.

bosb ·

Tensy dit n gewoonte is, hoekom maak hy die badkamer deur in die nag toe (en die badkamer lig is af- want hy het iemand in die donker gesien) en sit nie die lig aan nie?? En terwyl hy om hulp skree het die moordenaar voort gekap? Kon hy nie keer dat meer as net sy pa haas na Rudi se kamer nie?? Was hy lam in die badkamer? En hierdie Taljaard getuie vir die verdediging klink eerder of sy vir die staat n getuie kon wees, want haar getuienis ‘ondersteun’ al klaar nie Henri se beweerings nie.

Suzie ·

Ek lees ook nou tussen die lyne en kan verkeerd wees, maar soos dit vir my lyk is beide die bure se getuienis nie tot sy voordeel nie – die een wat ‘n “ligte slaper” is, het niks gehoor nie agv moontlik die huis tussen hare en die Van Breda huis. Die buurvrou reg oorkant het mansstemme gehoor wat rusie maak.

Aitoggie ·

Dit was 5 mense, waarvan 3 mans was, teen 1 aanvaller???? Ek sou verstaan het, as dit 5-6 aanvallers was, met vuurwapens en hulle gevangene gehou het. Om te dink 1!!! aanvaller kry soveel reg, om soveel mense te dood of te beseer. Dink weer Henry, jou tydjie word minder.

Susan de Klerk ·

Mnr Rabie baie dankie vir die inligting. Ons het juis beplan om elektriese omheining te installeer maar met u deskundige opinie nou in die ope het ek daarteen besluit.

Penellope Jones ·

Wel, baie dankie vir die “versekering” dat elektriese omheinings nie werk nie en vir die bekendmaking aan kriminele hoe om te werk te gaan – die wat nog nie geweet het nie ………!
Goeie genugtig.

Penellope Jones ·

Wel, baie dankie vir die “versekering” dat elektriese omheinings nie werk nie en vir die bekendmaking aan kriminele hoe om te werk te gaan – die wat nog nie geweet het nie ………!
Goeie genugtig, dit laat mens nie baie veilig voel in ‘n alreeds omgekeerde land nie!

wilma ·

Ek het al baie gewonder of daar nie ander maniere is om vinniger agter die waarhied te kom nie. Ek is seker dat hipnose die misdadiger / slagoffer of pasient sal help om sekere dinge te onthou wat sy / sy dalk nie mag onthou nie. Soms is mense onseker oor iets wat met hulle in die verlede gebeur het en julle kan nie onthou nie en vir hulp vra om hulle te help. Sal hipnose dan nie ook help om misdadigers of persone aan die kaak te stel nie. Ek is doodseker dat die slagoffers ook baie keer jok en so word onskuldige mense gevonnis vir ‘n daar wat hul nie gedoen het nie of ‘n daar wat nie so ernstig was nie maar deur die slagoffer oordryf is. So sal daar minder belastinggeld vermors word en hofsake sal vinniger afgehande word en families het closure en kan aangaan met hul lewens

Corne Barnard ·

Wilma ek stem. N saak sal nie langer as n week duur nie. Dit is erg soos ons mekaar uitmoor!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.