Bylmoorde: Hof hoor oor merke in moordhuis

Henri Van Breda by die Wes-Kaapse hooggeregshof (April 2017) Foto: AP Photo, ANA

Kapt. Candice Brown, ʼn ballistiese deskundige in die polisie, het in die Wes-Kaapse hooggeregshof getuig oor skade wat aan die Van Breda-moordhuis aangerig is.

Henri van Breda word aangekla van die moord op sy pa, Martin van Breda (54), ma, Theresa (55), en broer, Rudi (22), in hul huis op die De Zalze-landgoed naby Stellenbosch in Januarie 2015. Hy staan ook tereg op ʼn aanklag van poging tot moord in verband met die aanval op sy suster, Marli, wat oorleef het. Marli was ten tyde van die aanval 16 jaar oud en ly nou aan geheueverlies weens die beserings wat sy opgedoen het.

Brown is verbonde aan die polisie se forensiese eenheid en het getuig oor sekere merke in die huis. Sy het gesê dit is onwaarskynlik dat ʼn byl wat by die trappe af gegooi is een van die merke gemaak het.

Van Breda beweer in sy pleitverduideliking dat ʼn aanvaller met ʼn klapmus die gesin met ʼn byl aangeval het, maar dat hy daarin kon slaag om hom te ontwapen en hom uit die huis te jaag.

“Ek het die aanvaller op die middelste deel van die trappe gesien. Ek is nie vinnig nie en het nie gedink ek sou hom kon vang nie. Ek het toe die byl na hom gegooi. Ek kan nie presies onthou waar ek op die trappe was toe ek die byl gegooi het nie en ook nie waar presies dit getref het nie.”

Volgens Brown het sy omstreeks 09:30 die dag ná die moorde by die huis aangekom en toe was die liggame reeds verwyder en sommige bewysstukke reeds in sakke geplaas.

Matthys Combrink, die verdediging se regsverteenwoordiger, het gesê daar was skade aan die trap sigbaar in die eerste twee foto’s wat van die area geneem is, maar dat dit nie in die derde en vierde foto’s sigbaar is nie. Hy het aangevoer dat dit moontlik deur noodpersoneel veroorsaak kon word toe hulle die liggame verwyder het.

Hy het ook verwys na aantekeninge wat Brown gemaak het oor merke aan ʼn ander trap wat ook moontlik deur ʼn byl of deur die paramedici veroorsaak is.

Brown het gesê die skade is moontlik met ʼn byl aangerig, maar dat sy nie kan bevestig of dit wel ʼn byl was wat die skade veroorsaak het nie.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

job jobson ·

Vertraag Henri doelbewus die saak-word wakker Marli sodat die waarheid kan uitkom of swyg jy want jy is moontlik bang om jou laaste bloed ook te verloor.

AP ·

Staan daar met sy snyerspak om indruk te maak .. geld bring jou nie in die hemel nie .. aanvaar dit

CAROL ·

Stem saam. Hy moet onthou as hy skuldig bevind erf hy niks. (dis wet)!!! So als gaan na sy suster Marli toe.

So Sad ·

Dit is soooo sad dat die staat nou 100% moet bewys dat dit die byl is, daar was niks anders. Daai een wat so lekker smile as dit lyk jou regshulp het jou los op die of daai piepklein tegniese punt, geniet die oomblik, jy kan vir almal jok en dalk wegkom daarmee, maar jou gewete is elke dag en aand by jou. Jy sal elke gesinslid se gesig, skok, benoude verdediging etc herleef.

Hester Schutte ·

Die moordenaar moet agter tralies ! En soos in dadelik !

dpj ·

Die staat het nog geen getuie gelei dat Henri bo alle tyfel die moordenaar is nie!
Iemand is eers skuldig waar daar bo redelike tyfel bewys is hy/sy skuldig is.
Ons kan nie op aannames iemand skuldig bewys nie!!!!

Scalla ·

Hy kan alles onthou wat en waar dinge gebeur het, maar die gooi van die byl het sy geheue ontgaan, wat van sy suster, is daar geen kans dat sy iets weet van die gebeure nie.

Maya Roon Joubert ·

Onskuldig tot skuldig bewys… Kan net nie insien vir wat moet alles so vertraag word!? Dis absoluut pateties – laat waai daai wiel! Maak oop daai kaste…. Is dit nou maar net ‘n lekker geldmaak geleentheid!

Pieter ·

Dit is vir my vreemd dat daar nog glad nie ‘n ID kit of beskrywing van die moordenaar, wat die seun in die huis gesien het, aan die publiek gegee is om voor uit te kyk nie. Dit wil vir my voorkom die polisie is nie oortuig dat daar so ‘n persoon was nie

pierre ·

Pieter die staat kla vir Henri aan ,hoekom sal hulle verder soek as hy?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.