Bylmoorde: Kenner erken verslag is hersien

Dr. Antonel Olckers. Foto: ANA/Catherine Rice

ʼn Getuie vir die verdediging in die verhoor van die moordbeskuldigde Henri van Breda het Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof onder kruisverhoor erken dat sy nooit vir ʼn forensiese laboratorium gewerk het nie.

Dr. Antonel Olckers, ʼn DNS-kenner, is onder uitmergelende kruisverhoor geneem deur adv. Susan Galloway, senior staatsaanklaer. Galloway het gepoog om aan die hof te toon dat Olckers se ervaring grootliks uit “administratiewe en akademiese posisies” spruit.

Olckers is deur Van Breda se regspan aangestel om die geldigheid te toets van die DNS-bewyse wat deur lt.kol. Sharlene Otto, ʼn staatsgetuie en hoof- forensiese analis by die polisie se forensiese laboratorium, aan die hof voorgelê is.

Van Breda (22) staan tereg op drie aanklagte van moord, een van poging tot moord en een van dwarsboming van die gereg wat verband hou met die bylaanval op sy gesin in Januarie 2015 in hul luukse huis op die De Zalze-landgoed in Stellenbosch. Hy het skuld op al die aanklagte teen hom ontken.

Hy beweer hy was betrokke in ʼn konfrontasie met die aanvaller, wat glo met ʼn byl en ʼn mes gewapen was. Otto het egter 216 monsters wat op die misdaadtoneel geneem is geanaliseer en getuig geen onbekende DNS is op die toneel gevind nie.

Henri van Breda in die hof. Foto: ANA/Catherine Rice

Olckers het verlede week aan die hof gesê sy het die analise van 151 van die 216 DNS-monsters ontvang. Sy het gesê van die 151 was 128 ongeldig. Volgens haar word slegs 23 van die monsters as geldig geag. Olckers het gesê standaard bedryfsprosedures is nie gevolg nie en daar het spesifiek by drie prosesse foute ingesluip wat die analise ongeldig maak.

Olckers het Maandag aan die hof gesê monsters van dieselfde saak behoort nie na mekaar in ʼn laboratorium getoets word nie, maar dit het wel in hierdie geval gebeur en die risiko van kruiskontaminasie is dus verhoog.

Sy het verder getuig dat die vervaldatum van Hemastix, ʼn middel wat vir bloedtoetsing gebruik word, nie op 32 van die DNS-monsters aangedui is nie. Olckers het ook gesê dié middel kan nie gebruik word as die vervaldatum reeds bereik is nie.

Olckers het Maandag bevestig dat sy haar verslag hersien het en dit eers op 6 Oktober voltooi en ingehandig het by die hof, nadat die staat se DNS-kenners en bloedspatsel-kenner reeds getuig het. “Ek het dit aan die regspan gestuur en verifikasie het plaasgevind. Ek het die hersiene verslag op 6 Oktober gestuur. Dit is die opsomming; die omvang het met tyd verander.”

Sy het gesê die omvang het kleiner geword omdat “ons moes fokus op die aspekte wat wetenskaplik die pertinentste was”.

Regter Siraj Desai was ooglopend omgekrap dat haar verslag saamgestel is nadat sleutelgetuienis van staatsgetuies gelewer is. “Dit sou baie behulpsaam gewees het as jy jou verslag kon indien voordat jy deur die getuienis en deur dít wat die regspan aan jou gesê het beïnvloed kon word,” het Desai gesê.

Hy het besware van Matthys Combrink vir die verdediging van die hand gewys.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

As jy ·

As jy hof toe gaan om ander se werk te kritiseer, moet jy doodseker van jou feite wees en ook in die posisie om so te doen. Die 1ste reel deur die verdedigings advokate sou wees, om nie verslae na getuienis te doen nie en dan verwag huld ie regter moet sit en stilbly……… Die pad uit moet die eerlike waarheid wees, nie eerbare mense afkraak of hul werk nietig wil verklaar nie, die beskuldigde moet onskuldig wees in alle eerlikheid. Jy kan nie die regter aanval omdat hy omgekrap raak omdat mense verslae na getuienis opstel en hoe kan jy verklaar dat goed ongeldig is of verval het as jy dit nie persoonlok ondersoek het nie????

LMF ·

Dit was nou n desperate lakse poging sies man sou jy met jouself saamgeleef het en dit om n moordenaar op vrye voet te gesit het wonder wat sou jou beloning gewees het of het jy dit klaar gespend nee ga poe shame on you

Jaco Weber ·

Waarna presies verwys jy en wie presies kritiseer jy nou eintlik? Hierdie is ‘n amateuragtige stap deur die verdediging, die regter is heeltemal reg om dit uit te wys. Hierdie outjie – en ons weet NIE of hy ‘n moordenaar is nie, die hele punt van die hofsaak is om dit vas te stel – gaan wegstap as die verdediging nie wakker skrik nie. Tot dusver was hulle baie onindrukwekkend.

iuris scientia ·

Ai Jaco Weber.. baie duidelik weet jy ook nie veel van die reg nie.
“Hierdie outjie gaan wegstap as die verdediging nie wakker skrik nie”

Die verdediging is sy regsverteenwoordiging en daar om hom te verdedig…

Frik ·

Nee geld maak reg waar dit krom is maar weer n geval van n kundige wat eintlik nie net haar integriteit benadeel het nie deur haar verslag te gaan verander nadat sy gesien het wat die ware kundiges gesê het, maar haar self ontbloot het as glad geen kundige..

Jan ·

Goed, sy het haar verslag aangepas nadat die staat se getuienis aanghoor is en sy het nog nooit in ‘n SAPS forensiese gewerk nie MAAR die laboratoriums volg nie prosedure nie, is nie SANAS geakrediteer nie, is nie GxP versoenbaar nie en het verouderde Hemastix gebruik.

Dit laat twyfel oor die uitslag van die toetse en die reg is duidelik: bo alle redelike twyfel.

So skuldig of nie, die swak en mag ek sê roekelose werk deur SAPS se laboratorium kan veroorsaak dat die forensiese getuienis verwerp word en so ook elke saak waar forensies getuienis gebruik word.

Cor ·

Sy en die verdediging het seker gedink die aanklaer en regter is n bietjie dof toe bars haar bubbel. Volgende gaan wees die verdediging verklaar ‘n despuut want die regter is bevooroordeelt. Wonder ek vir hoelank sal hulle nog probeer om die saak te vertraag want ek het in n berig gelees die beskuldigde se geld fontein is besig om op te droog.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.