Bylmoorde: Marli sal waarskynlik hele boedel erf

Henri Van Bredea word uit die hof gelei ná sy skuldigbevinding (21 Mei 2018) Foto: Cindy Waxa /ANA

Henri van Breda, wat skuldig bevind is op aanklag dat hy drie lede van sy gesin met ʼn byl vermoor het, se regspan sal waarskynlik appèl aanteken wanneer hy op 5 Junie gevonnis word. Dit is egter nie duidelik waar die geld vir sy regskoste vandaan sal kom nie.

Piet Botha, vir Van Breda, het ʼn paar keer tydens die uitgerekte hofsaak aangedui dat Van Breda se geld begin opraak. Volgens Suid-Afrikaanse wetgewing, wat bepaal “die bloedige hand erf nie”, sal sy jonger sussie Marli, waarskynlik die hele boedel erf.

Martin van Breda, Henri se pa, was ʼn bekende sakeman en was direkteur by minstens 25 maatskappye. Hy was ook die eienaar en hoof van die Australiese been van die internasionale eiendomsgroep Engel & Völkers. Die boedel word op R200 miljoen beraam.

Adv. Louise Buikman se kantoor het aan die African News Agency (ANA) bevestig dat Buikman haar rol as Marli se advokaat en kurator sal voortsit. Marli se toekomstige sorg en of Buikman steeds alle regsake namens Marli sal hanteer, word op 11 Junie in die Wes-Kaapse hooggeregshof aangehoor.

Marli was 16 jaar oud toe die aanval plaasgevind het. Sy het ernstige kopbeserings en ʼn wond aan haar slagaar oorleef. Haar skedel is gekraak en sy moes ʼn breinoperasie ondergaan. Sy ly aan geheueverlies en kan nie die aand se gebeure onthou nie. Die staat het tydens die hofsaak dit benadruk sy het nie oorleef omdat sy nie so ernstig aangeval is soos die res van haar gesin nie, maar eerder as gevolg van ʼn “wonderwerk”.

Regter Siraj Desai het dit ook Maandag in sy uitspraak benadruk toe hy beslis het die aanvaller het ten doel gehad om die slagoffers dood te maak.

Die Van Breda-gesin: Marli (16) en haar ma Teresa staan voor. Henri (20), Rudi (22) en hul pa, Martin staan agter. Foto: Facebook

Van Breda (23) is Maandag skuldig bevind op aanklag dat hy sy gesin op 27 Januarie 2015 met ʼn byl aangeval het. Hy is skuldig bevind op aanklag van die moord op sy pa Martin, sy ma Theresa, sy broer Rudi en poging tot moord op sy sussie Marli. Hy is ook skuldig bevind op aanklag van dwarsboming van die gereg.

Sy borgtog het ná die uitspraak tot ʼn einde gekom en hy het sy eerste aand agter tralies deurgebring in die hospitaalvleuel van Pollsmoor-gevangenis, op versoek van sy regspan. Botha het versoek dat sy kliënt in die hospitaalvleuel aangehou word, omdat hy chroniese medikasie moet kry vir depressie en epilepsie. Mediese sertifikate om dit te bevestig moet teen Vrydag ingedien word.

Van Breda word aangehou saam met ʼn paar mans wie se sake ook die afgelope paar maande hooftrekke in die nuus gehaal het. Diego Novella, van Guatemala, word ook in die hospitaalvleuel aangehou nadat hy skuldig bevind is op aanklag dat hy sy Amerikaanse meisie, Gabriela Alban Kabrins, vermoor het. Novella se prokureur het die hof oortuig dat hy in ʼn oorbevolkte sel aangerand sal word.

Die Spanjaard, Mario Yela, ʼn tandarts wat daarvan beskuldig word dat hy sy driejarige tweeling vermoor het, word ook in die hospitaalvleuel aangehou.

Desai het die verdediging se versoek, dat Van Breda se borgtog van R100 000 verleng moet word, van die hand gewys. “Jy is skuldig bevind aan ernstige oortredings. Dit is in die belang van die samelewing dat jy in aanhouding moet wees,” het hy gesê.

Henri Van Breda tydens die hofsaak (Foto: Cindy Waxa/ANA)

Senior staatsaanklaer Susan Galloway het ook die versoek, dat die borgtog verleng moet word, teengestaan. Sy het aan die hof gesê Van Breda is ʼn vlugrisiko, omdat hy nie ʼn werk het nie en nie ʼn goeie verhouding het met die res van sy familie nie.

Die Van Breda-gesin het ʼn paar jaar lank in Perth, Australië gewoon en het in 2014 na Suid-Afrika teruggekeer. Hul woonhuis in Goskestraat 12 in die De Zalze-landgoed buite Stellenbosch, is na bewering in die naam van Merwood Consultants aangeskaf teen R4,6 miljoen.

Dit het voorgekom of Van Breda tydens die uitspraak gesukkel het om wakker te bly. Hy het deurgaans emosieloos voorgekom en het vermoedelik medikasie gebruik.

Daar is nog baie min inligting oor Henri se verhouding met Marli, maar daar was wyd berig dat sy baie bly was om hom te sien, ses maande ná die aanval in 2015. Dit was egter voor die staat die gebeure van die tragiese aand uitgepluis het. Die hof het ook teenstrydighede in Van Breda se getuienis gevind en eienaardighede uitgewys.

Die byl wat vermoedelik tydens die aanval gebruik is (Foto: ANA)

Van Breda het aangevoer ʼn aanvaller, geklee in ʼn klapmus en gewapen met ʼn byl en ʼn mes, het gelag toe hy die gesin aangeval het. Desai het egter sy weergawe verwerp en gesê “dit maak nie sin nie”. Hy het beslis dit is onwaarskynlik dat ʼn oortreder die Van Breda-huis, in ʼn op ʼn veiligheidslandgoed, ongewapen sou betree. Die moordwapens, ʼn byl en ʼn mes, het aan die Van Bredas behoort. Niks is ook uit die huis gesteel nie.

Desai het in sy uitspraak gesê daar is niks in die forensiese bewyse wat op die beskuldigde se onskuld dui nie.

Van Breda het ook beweer daar was meer as een aanvaller en hy het glo gehoor hoe iemand baklei, maar Desai het daarop gewys dat hy, toe hy twee uur en veertig minute ná die aanval paramedici ontbied het, het hy net na een aanvaller verwys.

“Volgens sy pleitverduideliking was die aanvaller ʼn swart persoon. Hy het gesê die persoon was sterk en het donker klere, swart handskoene en ʼn tuisgemaakte klapmus aangehad. Hy het gesê hy sal die oë van die aanvaller herken en die swart rondom die wit van sy oë gesien.”

Volgens die uitspraak het Van Breda later toegegee dat hy ʼn stereotipiese beskrywing van die aanvaller gegee het.

“Dis vreemd dat die moordenaar die hele gesin sou vermoor en net een persoon lewend sou laat,” het die regter bygevoeg.

Hy het ook bevind die 25 minuut lange oproep om paramedici te ontbied was uitermatig lank en dit is vreemd “dat hy nie sy gesinslede gehelp het nie”. Dit het tydens die hofsaak aan die lig gekom dat Rudi in ʼn stadium geroggel het terwyl Henri gesien het hoe Marli, wat baie ernstig beseer is, rondbeweeg het.

“Hy het ook nie gedink een van die bure sou kon help nie, aangesien hulle nie dokters is nie,” het Desai bygevoeg. “Die beskuldigde het ʼn eienaardige gebrek aan empatie getoon.”

Desai het ook bevind daar is geen geloofwaardige bewyse dat ʼn oortreder die landgoed betree het nie. “Die hof het geen rede om die getuienis van staatsgetuies te verwerp nie.”

Volgens Desai was die beskuldigde ook nie indrukwekkend as ʼn getuie nie. Sy antwoorde was vaag en hy het probeer om sy antwoorde te wysig en gevolglik homself weerspreek.

Van Breda het gestaan toe Desai hom skuldig bevind het. Sy meisie, Danielle Janse van Rensburg, wat hy ná die aanvalle ontmoet het, het in die hof gesit en huil toe die uitspraak gelewer is.

‘n Paar foto’s uit die 66 dae lange hofsaak:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Vonnie ·

Genade, is sulke info nie veronderstel om privaat te wees nie? Die arme kind het als verloor, en geen geld in die wêreld kan haar mense terugbring nie. Hoeveel schemers sit nie nou al en planne maak om dit by haar weg te vat nie. Dink voor julle bedrae bekend maak!!!

Sann ·

Ek hoop nie sy bly nogsteeds by daardie adres wat ook verstrek word nie!

Willem ·

Is me Buikman ‘n prokureur of advokaat? Want sy kan nie beide wees nie

Koos ·

Al raaisel wat oorbly is wat eintlik in die psige van Henri van Breda aangaan. Watter afwyking sou ‘n jongman aanvuur om sy gesin te probeer uitdelg op so persoonlike wyse? Sonder sy samewerking sal ons nooit weet nie. Wanneer tree die volgende Henri of Don na vore?

Ander Annie ·

Daar is ‘n besliste geestesversteuring, want hoe kan hy sit en glimlag? Hy toon geen maar geen emosie nie. My hart gaan uit na Marli. Hoe sal ‘n mens verstaan wat daardie noodlottige nag, regtig gebeur het.

jaco ·

Boedel van R200 miljoen, maar die 2 broers moes ‘n kamer deel. Voorwaar vreemd…

Lolla ·

Hulle het in in n tydelike klein townhousr gebly terwyl hulle huis gebou word op daardie stadium

Michael ·

Vonnie jy is reg as transito rooftogte so maklik uit gevoer word weet jy hoe maklik sal die kind geteiken word.

AH ·

Die bedrag van die boedel is al bekend gemaak kort na die moorde. Dit is hoekom daar destyds al ‘n Kurator aangestel is om na Marli se belange om te sien. Haar geld is is so veilig as wat dit kan wees.

marous ·

Sy regspan kan baie moeite en geld spaar as hulle ‘n poligraaf toets doen ….

Michael ·

Hoe veilig kan n mens wees in SA as sy ontvoer word en dan n los prys word geeis onthou die skurke voel net mooi niks vir n lewe nie.

Heila Slater (Neé Kruger) ·

Staak asseblief die bizarre bespiegelinge en laat die kind in vrede aangaan met haar lewe. Bid eerder vir haar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.