Bylmoorde: Marli se bloed nie op Henri óf byl nie

Henri van Breda in die hof (7 Augustus 2017). Foto: Catherine Rice/ANA

Die verdediging het Woensdag die staat se bewering dat net een byl tydens die moorde op Teresa, Martin en Rudi van Breda en die aanval op Marli gebruik is, in twyfel getrek.

Henri Van Breda beweer hy is nie verantwoordelik vir die gewelddadige moorde wat op 27 Januarie 2015 in die De Zalze-landgoed plaasgevind het nie.

Van Breda hou vol ʼn glimlaggende aanvaller wat in donker klere, handskoene en ʼn klapmus geklee was, het die moorde gepleeg.

Piet Botha, prokureur vir die verdediging, het Woensdag klem gelê op die feit dat Marli se bloed nie op die byl gevind is waarmee haar ouers en broer vermoor is nie. Haar bloed is ook nie op Henri se kouse of kortbroek gevind nie.

Dít ondersteun Henri se weergawe dat hy nie naby sy suster was toe sy aangeval is nie en dat daar moontlik meer as een aanvaller betrokke was.

Botha het tydens kruisondervraging van kapt. Marius Joubert, ʼn bloedspatselkenner by die polisie se forensiesewetenskap-laboratorium, gesê selfs al is daar agt monsters van die byl geneem [vier van die handvatsel en vier van die lem] is daar geen bloed van Marli daarop gevind nie.

Teresa, Martin en Rudi se DNS is op die byl aangetref, sowel as op Henri se kouse en kortbroek.

Volgens dr. Daphne Anthony, die forensiese patoloog wat die nadoodse ondersoek op die slagoffers gedoen het, se getuienis is Marli se beserings baie soortgelyk aan dié van haar ouers en broer. Sy is ook herhaaldelik met ʼn voorwerp [soortgelyk aan ʼn byl] geslaan en het beserings aan haar kop, nek en oor opgedoen.

Botha het Joubert gepols vir ʼn verduideliking oor die afwesigheid van Marli se DNS op die byl.

Hy het ook daarop gewys dat James Reade-Jahn, Marli se gewese kêrel, getuig het dat hy nie die byl wat as bewysstuk by die hof ingedien is herken het as dieselfde byl in die Van Breda’s se spens nie.

Susan Galloway, staatsaanklaer, het kapsie gemaak en gesê Reade-Jahn het getuig die grootte en vorm was soortgelyk, maar hy kon miskien verkeerd gewees het in terme van die kleur van die kop van die byl.

Joubert het getuig dat Marli se beserings op verskillende plekke was. “As jy ʼn persoon op verskillende plekke slaan, is die kanse om bloed op die lem te kry minimaal.” Joubert het ook getuig daar is ʼn moontlikheid dat die byl skoongevee kon word. “Hulle almal is verskeie kere getref. Wanneer jy ʼn byl op ʼn ander mens gebruik, word die bloed verplaas of van die lem af geprojekteer,” het Joubert gesê.

Botha het egter gesê die forensiese patoloog het getuig dat Marli en Teresa vinnig sou begin bloei het en dat die bloed vinnig sou opdam na aanleiding van hul beserings. Hulle sou erg gebloei het omdat hul beserings aan hul koppe was.

Botha het aangevoer al is daar aanraking-DNS van Marli op die byl se lem gevind, kon dit tydens of voor die voorval plaasgevind het.

Met verwysing na die Locard-beginsel wat meld dat elke aanraking ʼn spoor los, wou Botha by Joubert weet wat die kanse is dat Marli, wat soveel beserings opgedoen het aan haar skedel, oor en nek, se bloed nie gevind kon word nie.

Joubert het toegegee ʼn mens sou verwag om ʼn spoor daarvan te vind, maar wel gesê dat die aanraking-DNS wat op die handvatsel van die byl opgespoor is, ʼn resultaat kon wees van Marli wat die handvatsel tydens die voorval gegryp het.

Botha het egter volgehou dit verduidelik steeds nie of dieselfde byl wat gebruik is om Teresa, Martin en Rudi te vermoor ook gebruik is om Marli aan te rand nie. “As Marli met ʼn ander byl aangeval is, sou dit die afwesigheid van haar bloed verduidelik,” het Botha gesê.

Joubert het hierop geantwoord: “Die afwesigheid van bewyse bewys nie afwesigheid nie.” Hy het gesê dit is moontlik om iemand aan te rand en nie ʼn enkele druppel bloed op jou te hê nie.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Francis Linstrom ·

Hoe sien n mens iemand glimlag onder ‘n klapmus? Wonder maar net

Hannelie ·

Francis ek stem, ek dink die moordenaar “ken” dalk die ander persoon – die dat hul praat van ‘n glimlag onder die klapmus. Henri is 100% betrokke, dalk alleen…..dalk nie. Dalk het Henri self geglimlag onder die klapmus, dink hy het ‘n paar klappe weg. Ek hoop net hy kry die vonnis wat hom toekom.

Rina ·

Skerp Francis! Hier is net een skuldige! Ek hoop die Regter sien dit ook so!

Pop ·

Hierdie kind het dit nie gedoen nie. Begin liewer die gewese kerel bekyk.

Mielie ·

Van die begin af het die verdediging die moontlikheid van n ander byl gelig. Dalk was daar 2 byle waarvan een weggesteek is of dalk was daar nog iemand saam hom gewees…..

Dalene de Vente ·

Dagsê Houtoog

Dankie vir jou valkoog. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene
Nms. Maroela Media

Wonder maar net ·

Ek bly wonder waarom is daar so ‘n geheime afsondering rondom Marli. Dit belemmer defnetief die saak.

Weet nie ·

die persoon of persone wat vir die gruwel daad gepleeg het sal wel voor die Groot Regter verskyn. Al neem dit n leeftyd

Callie ·

As ek van so iets beskuldig word en ek weet ek is onskuldig sal ek dadelik vra vir leuenverklikker toetse of onder hipnose toetse. As jy niks het om weg te steek kan dit mos jou saak help

Stem saam ·

Weet nie, ek stem saam en dan kan daai arrogansie en onbelangstellende kyke jou nerens bring, die Vader weet en jy gaan nie Pappa se miljoene gebruik om jou onskuldig te kry nie.

Melt Olckers ·

Leunverklikker is glad nie akkuraat nie, en kan glad nie as bewys in die hof gebruik word nie. Psigopate kan maklik ‘n leunverklikker flous. Ook is daar onskuldige mense wat deur die toets as skuldig gebrandmerk kan word.

Rina ·

Dit is hoe sy gevoel lyk! Dit hoef nie vir ons sin te maak nie!

chriszelda ·

Callie, wanneer iemand onder hipnose geplaas word, is daardie persoon nogsteeds in beheer van sy volle denke, hipnose laat mens nie die waarheid praat nie.

vrikie ·

Sit Henri in die getuiebank dan sal die saak vinnig opgelos word

Rina ·

Marli se geheueverlies/stilswye kan veroorsaak dat die waarheid nie sal uitkom nie!

Ja nee ·

Ja nee ou Botha gee sy beste om enige iets te kry om twyfel te saai, maar Kapt Marius Joubert, moet jou nie van stryk afbring, dit is net ‘n magspel van woorde om jou te laat twyfel en daar is groot geld op die spel. Dit sal hartseer wees as hierdie spannetjie met dit wegkom, bly op die feite, Marli se Dna was op die byl en dit bewys dat Marli met dieselfde byl aangeval is, al die redes wat jy gee is korrek!!!!!

Susan ·

Hy is heel moontlik skuldig, hy het maandag met so ‘n glimlag op sy gesig gesit toe hulle van die moorde getuig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.