Bylmoorde: Regter peper Henri met vrae

Henri van Breda, Foto: Catherine Rice/ANA

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Henri van Breda se verhoor tot Maandag uitgestel, maar nie voor regter Siraj Desai self vir Van Breda onder kruisverhoor geneem het nie.

Desai wou weet hoe daar bloedspatsels op Van Breda se skoene gekom het. Van Breda het vroeër gesê hy los altyd die skoene aan die onderkant van die trap.

“Dit was langs die mat waarop daar ʼn plas bloed was,” het hy gesê nadat hy na ʼn foto van die skoene gekyk het. “Dit is duidelik as mens na die foto’s kyk,” het Van Breda gesê voor hy toegegee het dat hy nie “presies” weet hoe die bloedspatsels op die skoene beland het nie.

Van Breda het aan regter Desai gesê hy het gewoonlik sigarette in sy skoene weggesteek en sy skoene daar gelos vir as hy met die hond gaan stap. Volgens Van Breda het hy nie die sigarette vir sy ouers weggesteek nie maar vir sy suster Marli aangesien sy ouers glo nie wou hê sy moet weet hy rook nie.

Desai wou by Van Breda weet hoekom hy getuig het hy was bang, maar nie die agterdeur gesluit het toe die aanvaller(s) gevlug het nie. “Ek moes. Ek dink ek was reeds besig op die foon. Ek het nie daaraan gedink nie,” het hy geantwoord.

Piet Botha. Foto: Catherine Rice/ANA

Piet Botha, Van Breda se regsverteenwoordiger, het sy kliënt vroeër Dinsdag herondervra nadat adv. Susan Galloway Maandag haar kruisondervraging afgehandel het. Botha het Van Breda uitgevra oor sy struweling met die aanvaller. “Jy het genoem hy het handskoene aangehad. Kan jy sê wie het ʼn beter greep op die byl gehad?”

Van Breda het gesê hy het die “beter greep” gehad aangesien hy die byl van die aanvallers kon afneem. Desai het gesê dit sou moeilik gewees het om die byl met handskoene aan te hanteer, waarop Van Breda gesê het: “ Ek weet nie.”

Volgens Botha het polisiebeamptes getuig die misdaadtoneel was baie “netjies” wat nie gewoonlik die geval is nie. Botha wou by Van Breda weet of hy enige kennis van misdaadtonele het waarop Van Breda “geen” geantwoord het.

Botha het ook die vraag gestel oor waar Sasha, die gesin se hond, tydens die aanval was. Van Breda het gesê hy weet nie en dat hy ook nie weet waar sy was nadat die aanvaller(s) gevlug het nie.

Galloway het tydens kruisondervraging beweer Van Breda het moontlik die hond in die motorhuis toegesluit sodat sy nie kon blaf nie.

Staatsaanklaer adv. Susan Galloway (regs). Foto: Catherine Rice/ANA

Botha het ook ʼn foto uitgewys van Van Breda se pa, Martin, se skootrekenaar op die eetkamertafel. Van Breda het benadruk sy pa het ná aandete gewerk. Dit sal strook met sy getuienis dat hy, sy broer en pa heelwat later nog flieks gekyk het en nie direk ná aandete nie. Die staat voer aan Van Breda het aan die tydlyn van die aand se gebeure verander om die harde manstemme wat ʼn buurvrou tussen 22:00 en middernag gehoor het te verduidelik. Van Breda beweer die buurvrou moes die flieks gehoor het.

Botha het gesê hy is van voorneme om ʼn sielkundige as getuie in te roep, maar wil eers Maandagmiddag met haar beraadslaag. Hy het aan die hof gesê hy wil hê die sielkundige moet antwoord op vrae oor hoekom Van Breda nie sy gesinslede probeer help het nie en sy optrede agterna. Botha het gesê hy wil die mening van ʼn kenner hê oor of dit tipiese gedrag is vir iemand in so ʼn situasie.

Die verhoor is tot 13 November uitgestel.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Skerpioen ·

Ek is geen sielkundige nie. Maar ek is iemand se dogter, iemand se sussie, iemand se vrou en iemand se mamma. So ek het familie. En ja dis vir my uiters vreemd dat hy na die aanval nie sy gesinslede gehelp het nie. Ek sou geskreeu het vir hulp… ek so met alles terug baklei het al was ek hoe bang en ek sou verseker probeer het om bloeding te stop…. dink nie mens het ‘n sielkundige hiervoor nodig nie…

Ekke ·

Regter slaap nie, dis hoekom hy uitgevra is oor die skoene. Dink nogsteeds die skoene het iets met die saak te doen. Hyt die skoene aangehad!

Jopie ·

Interessant dat die regter self so inspring en vrae vra. Ek het nie geweet dit word gedoen nie.

strandloper ·

Dis uiters jammer dat Marli nie getuig nie. Sy mag dalk nie die aand se gebeure onthou nie maar haar getuienis oor die verhoudinge tussen die gesinslede sou interessant wees om te hoor.

Pieter ·

Die hof gebruik die toets van die redelike man, m.a.w. dit wat die gewone man op straat sou doen in so geval, in ag genome sy ouderdom beroep agtergrond, ens, as ek ‘n dokter, polisieman onderwyser, kind ens. was. Henry dop natuurlik hierdie toets soos ons in engels sê “good and solid” en daarom wil Botha nou ‘n sielkundige kry om die hof se kop te swaai. Verder gebruik hulle die bo enige twyfel reel. So as daar net ‘n moontlikheid is dat dit nie hy is nie, dan stap hy vry. Die regter se uitspraak sal moonlik wees dat hy ‘n slegte getuie was en dat alle getuienis wys daarop dat hy skuldig is. Dat hy met die toeneel gepeuter het en dat sy optrede baie snaaks was tov sy aanmelding en telefoon gebruik. Die regter is duidelik nie ‘n pampoen nie en het al baie sulke sake hanteer. Hy weet hierdie ouens lieg om hul eie bas te red en die staataanklaer weet dit ook. As jy lyftaal vertaan kon jy duidelik sien wanneer Henri lieg. Hy het baie duidelik nie die regter oortuig van sy onskuld nie.

Du Ploy ·

Dit is uiters jammer dat die publiek altyd die ergste dink en oor gretig is om “public opinion” hart en mond vas te vat sonder eers om regtig belang te stel in die gebere. Henry was maar n blote kind toe die voorval gebeer het, goed opgevoed uit ‘n liefdevolle familie wat groot sukses behaal het. Reality can be stranger than fiction. Ek glo in sy onskuld. Daar is geen motief nie. Net oor hy nie uitmekaar uitval voor die wereld nie, verklaar die publiek hom klaar skuldig, kan jy jouself so iets indink, word mens dan skielik ‘n action figure as so iets eerste keer in jou lewe jou pad langs kom? Sy ouers het hom goed opgevoed en sy engels is verseker eerste klas, dalk kan ons meer doen om ons polisie staff se vaardighede te verbeter want dit is verseker nodig.

Dalk is hy onskuldig ·

Ek hou nogsteeds vol dat die blote feit dat hy homself nie afgevee het en die toilet gespoel het nie, ‘n belangrike stukkie bewys is. Hy het opgespring, sy broek net opgetrek en “gevries” toe hy sien wat gebeur. As hy als beplan het, was daar geen rede hoekom hy nie soos normaalweg die toilet sou getrek het en homself afgevee het nie. En, ja, hy was ‘n blote kind en het nie geweet wat om te doen of hoe om te reageer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.