Bylmoorde-saak: Henri se oom getuig

Cornelius Andries van Breda. Foto: ANA

Die verhoor van Henri van Breda, die man wat tereg staan vir die moord op drie van sy gesinslede, is Woensdag vir die negende dag in die Wes-Kaapse hooggeregshof voortgesit.

Van Breda (22) word daarvan beskuldig dat hy sy pa, Martin van Breda (54), ma Theresa (55) en broer Rudi (22) op 26 Januarie 2015 met ʼn byl in die gesin se huis op die De Zalze-landgoed buite Stellenbosch vermoor het. Sy sussie, Marli (toe 16 jaar oud), het die aanval oorleef, maar ʼn breinbesering opgedoen en sy ly aan geheueverlies.

Cornelius Andries van Breda, Martin se broer, was Woensdag eerste in die getuiebank. Hy het sy broerskind ʼn druk gegee voordat hy teen hom getuig het.

Cornelius het die Van Breda-gesin as “liefdevol” beskryf en vir die hof gesê hy het dit geniet om by hulle te kuier. Henri, wat nog baie min emosie tydens hofverrigtinge getoon het, het ʼn paar trane weggevee terwyl sy oom verduidelik het hoe trots hy op sy familie was.

Henri se oom het aan die hof gesê hy het ʼn goeie verhouding met sy broer gehad en kan nie ʼn voorval onthou waar hulle vir mekaar kwaad was nie. Toe Henri ongeveer tien jaar oud was, het Cornelius vir drie of vier maande by die gesin in Pretoria gewoon. Hy het gesê daar was nooit enige bakleiery in die huis nie.

Cornelius het oor sy broer se prestasies getuig en hom as ʼn uitstekende student met ʼn fotografiese geheue beskryf wat sy graad met lof aan die Universiteit Stellenbosch behaal het. Hy het later ʼn goeie werk bedank om sy eie sakeonderneming te begin, wat baie suksesvol was. Cornelius het gesê sy broer het nooit gespog oor sy sukses nie.

Die gesin het in 2006 na Perth in Australië verhuis en Martin sou elke drie of vier maande na Suid-Afrika terugkeer en sou dan drie of vier weke in die land vertoef. Cornelius het getuig sy broer het geen persoonlike of sakevyande gehad nie en het sy werknemers goed behandel.

Hy het gesê die gesin het in Januarie of Februarie 2014 na Suid-Afrika teruggekeer omdat Theresa ongelukkig was en nader aan haar familie wou wees. Henri het in Australië agtergebly waar hy aan ʼn universiteit studeer het.

Cornelius het gesê Martin wou ook sy sakeonderneming, Edugrow, uitbrei. Hy het volgehou sy broer het geen vyande gehad nie.

Twee weke voor die moorde het Cornelius sy broer in Pretoria gesien. “Daar was geen sprake van enige probleme by die huis nie en geen teken dat enigiets fout was nie.”

Ná die moorde het Cornelius, sy tweelingbroer, hulle twee se eggenotes asook Theresa se broer die gesin se huis besoek omdat Marli van haar persoonlike besittings wou hê. ʼn Forensiese span het die huis in daardie stadium reeds skoongemaak.

Cornelius het gesê Henri was daar en hy wou ʼn duur bottel Japanse whisky hê wat hy vir sy pa gekoop het. Hy het ook gevra vir ʼn paar bottels rooiwyn. Hy het getuig daar was niks uit die huis weg nie. ʼn Lys van items wat die polisie met toestemming uit die huis verwyder het, is teruggegee. Dit het kontant, handsakke en juweliersware ingesluit.

Pieter Botha, vir die verdediging, het tydens kruisondervraging gesê Henri wou nie in die huis ingaan nie en het buite in die motor gewag. Hy het sy neef gevra om van sy besittings vir hom te kry.

Cornelius het gesê hulle was by twee geleenthede by die huis en hy onthou dat Henri by een van die geleenthede saam was. Hy het gesê hy onthou Henri het in die motor gaan sit terwyl hulle Marli se klere gepak het.

Hy het aanvaar die rede waarom Henri die whisky wou gehad het, was omdat dit sentimentele waarde gehad het. Hy het die whisky vir sy pa in Australië gekoop en hulle sou dit met Rudi deel.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor die bylmoorde op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

POP ·

Sy pa is vermoor en hy vra vir drank? Wat van n Foto of iets dergliks sodat hy sy pa kan onthou? Nee kyk ek vervies my sommer van voor af vir die mannetjie se arogansie.

Genieve ·

Hy is bevoorreg om notas in die hof te maak. Hoe kry hy dit reg.

Fires ·

As daar gekyk word na Henrise verduideliking van die gebeure die betrokke aand gaan die staat hom uitmekaar uit skeur. Dis hoekom verdediging gaan hamer op ander faktore soos polisieondersoekwerk, sekuriteit om die landgoed, sy pa se verhouding met ander mense ens. Hulle poog om die saak op ‘n tegniese punt te wen

marous ·

Fires , hy gaan nie getuig nie . Sy span gaan vra vir ontslag en indien nie toegestaan sy saak sluit. Hou maar dop.

LMF ·

Het hul hom al in wedkoppies gehad want daai koppie werk nie reg nie

Kenny Rademeyer ·

Ek het sy storie mooi geluister. Hy het n lang tyd gehad om dit saam te flans.
Wanneer daar sulke detail in sy weergawe verskyn moet die gevaarligte reeds begin flikker.

apie ·

die klankopname waar hy die moord op sy familie by die polisie aanmeld , uuuure na die aanvalle, en giggel daarna……

Cherokee ·

‘……. omdat Marli van haar persoonlike besittings wou hê.’ Maar Marli ly aan geheue verlies.
……….. Dit het my net so terloops opgeval en ek het dit raakgelees juis omdat èk na ‘n motorongeluk met 100% geheue verlies by ‘n hospital uitgestap het. Dit het lank geneem maar my geheue het stuk stuk teruggekeer en al wat weg bly is sowat 3 weke rondom die ongeluk.
Dit mag egter wees dat Marli se geheueverlies nie so ver strek nie en miskien net rondom die aanval gesentreer is. Dan sou sy onthou het van haar persoonlike besittings in die huis wat vir haar gehaal is. Dit mag ook wees dat iemand anders voorgestel het dit word vir haar gehaal.

Charmaine ·

Hoekom maak hy notas? Die sussie word van hom afgweggehou vir haar veiligheid was in dieberigte genoem na sy ontslaan is uit die hospital. En ja hoekom vra vir drank, ek sou ook eeder fotos of persoonlike besittings soos n horlosie of n pen of juwele van my ouers wou he.

Carel ·

Enige persoon in die hof sal notas maak, dalk sou jy vra vir fotos, hy en sy pa kon n liefde vir whisky gedeel, jy weet nie, met my oupa het my oom vir sy cigars en vuurhoutjies gevra.

SARIE VAN HEERDEN ·

POP, die seun het nie vir drank gevra om te gebruik nie. Dit het sentimentele waarde vir hom. En dit was lank na die voorval en NIE dieselfde aand nie. Sy gegiggel dui op senuweeagtigheid of miskien selfs in SY geval ‘n mate van geheueverlies ook. Ons moet die jongman nie sondermeer oordeel of veroordeel nie want nie een van ons is regsgeleerdes wat die hele storie ken nie.

Goeie Sarie ·

Sarie, ek verstaan jou gevoel vir die kind, ek voel ook diep in my hart jammer, maar realititeit, daar was geen jammerte, ‘n hardop lag terwyl sy ouers wat net goed vir hom was, sy broer en byna sy suster ook afgemaai is met ‘n byl. Dan oor die drank, jy moet mooi lees, die Whiskey en paar bottels wyn…… dit sê nogal heelwat van sy karakter, moenie dors ly terwyl alles lank gaan neem, die rede hoekom hy nie foto of iets fisies neem wat hom uit eer aan sy Pa sal laat dink nie, laat mens nogal kopkrap, die storie raak elke dag meer vol luis.

Rina Kotze ·

Baie jammer Gerrie Nel kon nie staatsaanklaer wees nie!
Dit sou baie interessant gewees het!
Te veel dinge maak nie sin nie.

Die moeilikste en seerste ·

Cornelius, ek voel vir jou, jy is so in 2 geskeur, op die een kant jou broer met wie jy sulke mooi bande gehad het, wat so goeie man was en op die ander kant ‘n jong man en allegasies en sake wat sommer regtig sleg lyk, ek dink dit moes een van jou moeilikste dae op aarde gewees het, hoe kies reg/geregtigheid en bloed.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.