Bylmoorde-saak: Henri se vriendin getuig

Henri Van Breda by die Wes-Kaapse hooggeregshof (April 2017) Foto: AP Photo, ANA

ʼn Vriendin van die moordbeskuldigde Henri van Breda het Woensdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof die gesin as “normaal” beskryf.

Bianca van der Westhuizen het Woensdag aan die hof gesê sy het die gesin by ʼn braai in Januarie 2014 ontmoet.

Sy het gesê sy en Van Breda het sowat twee en ʼn half weke saam deurgebring toe sy in Januarie 2015 ʼn matriekleerder aan die Somerset Kollege in die Wes-Kaap was.

Van der Westhuizen het gesê sy en Van Breda was nie in ʼn verhouding nie, maar dat hulle baie tyd saam “as vriende” deurgebring het.

Die hof het gehoor sy was die naweek vóór die moorde die heeltyd saam met die gesin en het ook aan huis van die gesin oorgeslaap.

Sy het gesê die verhoudings in die gesin het “heeltemal normaal gelyk” en dat sy altyd ʼn “lieflike tyd” saam met die gesin gehad het.

Van der Westhuizen het gesê Van Breda het haar die Maandag voor die moorde omstreeks 17:00 by die skool afgelaai. Sy het gesê sy kon nie opmerk dat daar iets fout was nie.

Sy het hom daarna die Dinsdag, ná die moorde, by die polisiestasie gesien.

Sy was die eerste persoon wat Van Breda gebel het ná die moorde. Van der Westhuizen het bevestig sy het een oproep om 04:24 gekry en ʼn ander oproep om 07:20.

Sy het aan die hof gesê dat haar selfoon op “aeroplane mode” was en dat sy derhalwe nie oproepe kon ontvang nie. Toe sy wel haar foon later aanskakel, het sy ʼn WhatsApp-boodskap van hom ontvang wat gesê het hy het ʼn noodgeval.

Hy het egter nie haar oproep daarna beantwoord nie.

Susan Galloway, die staatsaanklaer, het haar gevra waarom sy dink Van Breda juis haar gebel het, waarop sy geantwoord het: “Ek dink nie hy het enigiemand anders gehad nie.”

Sy het verder ook getuig Van Breda was baie na aan sy sussie, Marli, wat die aanval oorleef het, asook sy oorlede broer en ouers.

Van Breda (22) word daarvan beskuldig dat hy sy pa, Martin van Breda (54), ma Theresa (55) en broer Rudi (22) op 26 Januarie 2015 met ʼn byl in die gesin se huis op die De Zalze-landgoed buite Stellenbosch vermoor het. Sy sussie, Marli (toe 16 jaar oud), het die aanval oorleef, maar ʼn breinbesering opgedoen en sy ly aan geheueverlies.

Van Breda het Maandag skuld ontken op drie aanklagte van moord, een van poging tot moord en een van dwarsboming van die gereg.

Lees alle vorige berigte oor die bylmoorde op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lynette ·

Die gesin SOU normaal voorkom en Henri v Breda SOU baie na aan sy gesinslede VOORGEKOM het – dit is immers wat psigopate BAIE GOED KAN DOEN – hulle kan NIE emosie ERVAAR nie, maar wel baie goed NA-AAP en kom baie “charming” voor teenoor buitestaanders. Statistieke sê EEN uit elke 100 mense is n psigopaat en interessant genoeg, VIER uit elke 100 CEO’s van maatskappye is psigopate. DUS BAIE meer algemeen onder ons as wat ons wil besef!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.