Bylmoorde: Staat sluit sy saak

Henri van Breda. Foto: Courtney Africa/ANA

Kapt. Marius Joubert, ʼn bloedspatsel-kenner en die staat se laaste getuie in die sogenaamde bylmoorde-saak, het Maandag aan die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê daar was geen teken daarvan dat ʼn tweede byl gebruik is om Marli van Breda aan te val die aand toe haar broer en ouers in die gesin se huis in die De Zalze-landgoed in Stellenbosch vermoor is nie.

Joubert het getuig ʼn vlugtende inbreker sou met die bloederige voorwerp ʼn spoor van drupmerke agtergelaat het, maar daar was geen bloed om hierdie teorie te staaf nie.

Marli, wat ten tyde van die voorval 16 jaar oud was, is agt keer met ʼn byl gekap. Die staat glo dit was dieselfde byl wat gebruik is om haar oudste broer en ouers te vermoor. Marli se 22-jarige broer, Henri van Breda, wat nou tereg staan op die drie moorde, beweer een of meer inbrekers was vir die moorde verantwoordelik.

Geen van Marli se bloed is op die byl gevind wat gebruik is om Teresa, Martin en Rudi te vermoor nie. Joubert het getuig die feit dat daar geen van Marli se bloed op die moordwapen gevind is nie, is onverklaarbaar. Haar bloed is ook nie, soos die ander familielede se bloed, op Henri se sokkies en kortbroek gevind nie.

Vroeër in die verhoor is daar gehoor Henri, Rudi en Teresa se DNS is in die stort gevind, maar adv. Piet Botha vir die verdediging het aangevoer sy kliënt sou nie genoeg tyd gehad het om homself skoon te maak en sy broer se liggaam te skuif sonder om in die bloed te trap nie. Daar is geen bloed aan die onderkant van Henri se sokkies gevind nie.

Joubert het verlede week getuig die bloedspatsels op die toneel dui daarop dat Rudi geskuif is van sy bed waar hy aangeval en rondgeruk is, moontlik weens die woede van die aanvaller teenoor sy slagoffer. Joubert het Maandag toegegee dit was bloot sy opinie en hy is nie ʼn gedragsanalis nie.

Hy het aan die hof gesê Marli was na haar aanvaller gedraai, maar het gesê hy kan nie die moontlikheid uitsluit dat die aanvaller van buite die kamer gekom het wat Henri met Rudi gedeel het nie. Dit ondersteun Henri se weergawe dat hy nie naby sy suster was toe sy aangeval is nie.

Adv. Susan Galloway, senior staatsaanklaer, het aan die hof gesê Marli het aangedui sy wil nie ʼn getuie vir die verdediging wees nie. Sy ly aan geheueverlies en kan daarom nie die gebeure van die aand onthou nie. Galloway het aan die hof bevestig dat sy steeds geen herinnering van die gebeure het nie.

Die saak is tot Donderdag uitgestel.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eish ·

Eish dit bly hartseer, al die lang dramas en dit alles oor die kinkel van ‘n gesin wat onverhoeds uitgemoor is, al die getuienis dui daarop dat dit iemand so naby aan hulle is wat hulle vertrou het. Ek kan my nie die skok en teleurstelling van die Ma indink nie, dit moes haar bitterste pil op aarde gewees het.

rollie ·

Dis jammer dat sy nie wil getuig nie. Ek wonder of sy iets kan onthou van wat voor die voorval plaasgevind het soos byvoorbeeld die bewering dat daar ‘n rusie was die vorige aand of enigiets anders wat gebeur het in die aanloop tot die moorde.

Lientjie ·

Sy kan blykbaar niks van die voorval onthou nie, maar sy kon normal met haar lewe aangaan, skool, vriende env….. wil dalk maar net nie getuig nie.

MM ·

Dit lyk nie juis of dit hom pla nie – maar GOD slaap nie – almal kom voor sy stoel – miskien nie hier op die aarde nie – maar defnitief in die hiernamaals.

CAROL ·

Ek dink haar familie wil nie he sy moet getuig nie omdat dit haar broer is. Maar wat van haar ander broer, ma en pa?????

Rina ·

Ek twyfel elke keer wanneer ek beskikbare inligting lees! Sal Henri se verdedigingspan hom werlik in die getuiebank plaas, indien hul nie “oortuig” is dat hy dit nie gedoen het nie, of altans, alleen was nie! Huurmoord lyk al hoe meer die geval te wees! Wis 3 uit en ons “3” ?

Isabel ·

Dis jammer dat Marli wil nie getuig nie. Sy mag dalk net iets kleins onthou wat na die ware moordenaar kan lei.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.