Bylmoorde: Van Breda terug in hof vir appèlsaak

Henri Van Bredea word uit die hof gelei ná sy skuldigbevinding (21 Mei 2018) Foto: Cindy Waxa /ANA

Die Wes-Kaapse hooggeregshof sal na verwagting Dinsdag die appèlaansoek aanhoor van Henri van Breda wat vroeër vanjaar skuldig bevind is vir die bylmoorde op sy ouers en broer.

Breda is in Mei skuldig bevind aan die opspraakwekkende moorde wat in 2015 plaasgevind het. Die 23-jarige is ook skuldig bevind aan ʼn aanklag van poging tot moord op sy suster Marli, toe 16 jaar oud, wat sedertdien aan geheueverlies ly en dus nie tydens Van Breda se verhoor kon getuig nie.

Van Breda is ook skuldig bevind aan dwarsboming van die gereg nadat hy met die misdaadtoneel gepeuter en vir die polisie vals inligting gegee het.

Die aanval in die vroeë oggendure van 27 Januarie 2015 in die gesin se huis in die luukse De Zalze-veiligheidslandgoed in Stellenbosch, het destyds skokgolwe deur die land gestuur. Van Breda beweer een, of moontlik twee, indringers het sy gesin vermoor.

Henri van Breda in Junie 2018 in die hof. Foto: Ayanda Ndamane/ANA Photo

Regter Siraj Desai het op 7 Junie in die Wes-Kaapse hooggeregshof Van Breda se weergawe van die gebeure as “onsinnig” afgemaak en gesê dit kan onmoontlik waar wees dat indringers die huis sal binnekom, vier mense so grusaam sal aanval en dan net sal vlug sonder om enige iets te steel.

Desai het Van Breda tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die wreedaardige aanvalle. Hy is drie lewenslange vonnisse opgelê vir die moorde op Martin, Teresa en Rudi, 15 jaar tronkstraf vir die aanval op Marli, en een jaar tronkstraf vir dwarsboming van die gereg.

Daar is gelas dat die vonnisse gelyklopend uitgedien word, wat beteken Van Breda sal eers oor 25 jaar om parool kan aansoek doen.

Van Breda appelleer teen sy skuldigbevinding en vonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Melt Olckers ·

Regter Desai is een van die land se top regters. Dink glad nie Van Breda se appel sal slaag nie.

Vra net ·

Hoe lank is lewenslank in SA? Beteken lewenslank nie by implikasie dat daar nie parool verkry kan word nie? Moes die vonnis nie eerder ‘n spesifieke tyd bv. 75 jaar, gewees het nie? Dan verstaan ons dat jy na ‘n 1/3, 25 jaar, vir parool kan aansoek doen. Vra net.

Ant ·

Sover ek verstaan is lewens 25 jaar, behoort geen parool te kan kry nie, maar in SA werk dit anders lyk dit my. Die vonisse moet ook volgens my nié gelyk uitgedien word nie.

Abe ·

Vra net,
Al jou aannames is verkeerd. Lewenslank is 25 jaar. Parool is moontlik. Geen vonnis is solank as 75 jaar. Vonnisse word gewoonlik gelyktydig uitgedien.

Wie weet ·

Apel is slegs op nuwe bewyse Watse nuwe bewyse het hy nee wat hy gaan nie slaag in sy apel verhoor nie Plaas dat hy net uit kom met die waarheid dan kan sy mense rus en vrede kry Ons mag nie oordeel nie maar hy is skuldig soos 10

Kobus ·

Wie Weet, jy is ongelukkig heeltemal verkeerd. ń Appêl word op presies dieselfde getuienis, feite en bewysstukke aangehoor. Die bandopnames van die getuienis word getik en aan die appêlregters voorgelê. Hulle taak is om te kyk of die verhoorregter nie fouteer het met die interpretasie van die feite of die regsbeginsels wat toepassing vind nie.

Gesiggie ·

Hierdie kind… toon geen simpatie, al wat ek in sy gesig sien is wreedheid” hy sal maar lank moet sit en nadink oor wat hy gedoen het… ek hoop sy suster herstel gou, maar hul moet haar nie nog meer skade aandoen deur te getuig, ja dit kan help om meer oor die saak uit te vind, maar sy is deur Hel… en glo nie sy wil als weer van voor af beleef. Solank sy nooit weer naby haar broer kom. Wat Henri van Breda gedoen het was wreed.

Abe ·

Gesiggie,
Gelukkig word mense nie skuldig bevind op wat jy in hul gesigte sien nie. Hoe wreed dit wat hy gedoen het is, kan net deur die feite voor die hof bepaal word.

Domvraag ·

Weer n geval van belastinggeld wat vermors worrd . Die wet moet verander word dat as die appel nie slaag nie, dan moet die vonnis verswaar word en mag die verdedigende regslui nie koste verhaal nie. Regslui sal dan seker maak dat daar werklik regsgronde bestaan vir n appel om te slaag. Soos dit nou staan is dit net n manier om die sakke te vul.

Cherokee ·

Dom Vraag, dit was eintlik ‘n dom stelling. Wat het belastinggeld daarmee te doen? Sy familie betaal vir die verdediging.

Abe ·

Dom vraag en corne,
Die reg om te appelleer teen n uitspraak of n vonnis is een van die belangrikste en kosbaarste beginsels van ons regstelsel en dit mag nooit vergelyk word met hoeveel geld dit kos of hoeveel tyd dit in beslag neem nie.

faye ·

Hoekom wil hy appelleer om vir die mense te wys hy het geld en kan, maar toon geen berou vir wat hy gedoen het nie, was net leuens alewig, al wat ons kan doen is bid, dat hy sal erken hy het dit gedoen…..

J ·

Sterkte Henry dink aan jou. Geensins maklik nie. Marli sal wel later haar geheu terug kry en dan sal sy praat as sy die guts het.

Riana ·

Ek verstaan nie, met sy verhoor was daar al sprake dat hy nie meer geld het nie, tog het hy soos ‘n ryksmanskind geleef. Waar kom die geld vir ‘n appel vandaan, van familie? Hy kan nie erfgeld kry nie, is familie wragtig bereid om hul swaar verdiende geld op iemand te mors wat hul dierbares vermoor het? Soos ek verstaan het is ‘n appel maar redelik duur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.