Bylmoorde: Veiligheid van De Zalze onder vergrootglas

Henri van Breda in die hof. Foto: ANA/Catherine Rice

ʼn Voormalige veiligheidsbestuurder op die De Zalze-landgoed in Stellenbosch het Woensdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof oor veiligheidsbekommernisse op dié landgoed getuig.

Jaco Pietersen het getuig in die verhoor van Henri van Breda (22) wat aangekla word vir die moord op sy ouers en broer, en aangekla word van poging tot moord op sy suster.

Pietersen, ʼn getuie vir die verdediging, het aan die hof gesê daar was in die tyd toe hy op die landgoed gewerk het vyf veiligheidsvoorvalle by De Zalze. In een van die voorvalle het ʼn persoon onder deur die Spier-hek toegang tot die landgoed verkry en met die kamera gepeuter.

Beeldmateriaal wat met ʼn selfoon van ʼn veiligheidskerm geneem is, is in die hof gewys om veiligheidstekortkominge aan die hof te demonstreer.

Pietersen het aan die hof gesê dat tydens ʼn vorige voorval gesien is hoe drie mense toegang tot die landgoed verkry het, maar dat die beeldmateriaal slegs een persoon wys. Volgens Pietersen het die man ʼn panga by hom gehad. Regter Siraj Desai het gesê hy kon dit nie sien nie.

Susan Galloway, senior staatsaanklaer, het vroeër beswaar gemaak teen die feit dat Pietersen geroep is om te getuig en gesê die laaste datum waarop hy werksaam was op die landgoed was in Februarie 2014 – byna ʼn jaar voordat die drie lede van die Van Breda-gesin daar vermoor is.

Pietersen is die verdediging se vyfde getuie.

Van Breda beweer ʼn inbreker, gewapen met ʼn mes en ʼn byl, het sy ma, Teresa, sy pa, Martin, en sy broer, Rudi aangeval en vermoor. Sy suster, Marli, is ook aangeval en het ernstige breinbeserings in die aanval opgedoen. Sy het sedertdien teruggekeer skool toe, maar ly aan geheueverlies en kan geen van die gebeure van die tragiese aand onthou nie.

Van Breda beweer sy gesin het reeds gaan slaap toe hy badkamer toe gegaan en harde kapgeluide gehoor het. Hy beweer hy het die deur oopgemaak en ʼn persoon in die donker gesien wat Rudi met ʼn byl aangeval het. “Ek het om hulp geskree en gehoop iemand sal hoor.”

Volgens Pietersen was die omheining destyds ʼn probleem omdat die heining oud was en “nie so goed soos moderne omheining is nie”. Volgens hom het inwoners gereeld hul toegangskaarte vir familie en vriende geleen.

In Mei het Marcia Rossouw, die veiligheidsbestuurder ná Pieterse, aan die hof gesê hoewel daar die aand van die moorde vier aktiverings was, was dit nie “ware alarms” nie en kan dit eerder toegeskryf word aan ʼn kragonderbreking.

Rossouw werk al sedert Februarie 2014 op die luukse landgoed en sy het getuig dat verskeie verbeterings aan die stelsel gedoen moes word toe sy op die landgoed begin werk het. Die elektriese heining is in September 2014 opgegradeer en bykomende kameras is in 2015 geïnstalleer, maar nie as gevolg van die moorde nie.

Sy het gesê een kamera kan 360 grade draai en die ander kan op so ver as 800 m fokus. Kameras is op al die strategiese punte geïnstalleer, asook by die hekke. ʼn Infrarooi kamera fokus op die rivier.

Sy het gesê die landgoed het twee veiligheidsroetes, een binne die landgoed en die ander om die grensdraad. Sy het gesê alle patrollies is dié aand afgehandel.

Die Van Breda-huis is in die middel van die landgoed geleë.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

zoom zoom ·

Hoekom by die plek inbreek en dan kies om die huis wat in die middel van die landgoed is te teiken mense aanval en dan weer omtsmap sonder om iets te steel. Hier is ‘n slang in die gras.

Babsie ·

Maklik Daar is nie ingebreek nie.Sekerlik as iemand iets teen die familie gehad het sou hulle seker gemaak het dat ALMAL so wreed aangeval word . Sou verseker nie gevlug het aangesien volgens die pleit verklaring daar 2 aanvallers was nie

tish ·

kry ent, dik vir almal se stories
jy boetie jy alleen weet die waarheid
maar geregtigheid sal eendag seevier as jy voor die Vader moet getuig

Worsie ·

Laas wat ek gekyk het breek rowers in met hulle eie wapens. Hulle breek nie in en soek die gou eers die byl in die huis en val dan die mense aan nie. Hulle bring hulle eie byl saam. Hoop geregtigheid sal seevier in hierdie geval, want om mense met n byl dood te kap in plein wreed. So ou kort die doodstraf nevermind n tronk!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.